Ds Hannes Theron van NetACT, dr Manasse Matiquele, Algemene Direkteur van HEFSIBA ICHO, en ds José Teixeira van INFORTE, ‘n christelike organisasie wat op Diploma Vlak opleiding gee aan toekomstige predikante.
Die Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys van ons susterskerk in Mosambiek, die Igrecia Reformada em Moçambique (IRM), is deel van NetACT wat ‘n netwerk met al die teologiese skole en – inrigtings in Afrika ‘n netwerk van gemeentelike teologie vir Afrika wil ontwikkel en vestig.
Daarom was Hannes Theron, NetACT-programkoördineerder sedert Januarie vanjaar, vanaf 29 April tot 6 Mei op besoek aan Hefsiba, Noordwes-Mosambiek. Hy vertel: “Dit is vir die netwerk belangrik om mekaar te help en ook van mekaar te leer; om saam te besin oor ‘n gemeentelike bedieningspraktyk waarin die konteks en kultuur van Afrika verreken word.”
Tydens sy besoek is Hannes vergesel deur dr Kruger du Preez wat sedert 1 Maart vanjaar as NetACT-Kurrikulumontwikkelaar aangestel is en tans by Hefsiba as konsultant en gasdosent in kurrikulumontwikkeling werk.
“Die doel van my besoek was om te kyk na Hefsiba se curriculum, bestuur en finansiële volhoubaarheid, asook digitale vermoëns,” vertel Hannes. “Ek en Kruger du Preez was verrras om te sien hoe Hefsiba met die min wat hulle het, oneindig baie bereik.
Tans bestaan Hefsiba uit vier fakulteite, naamlik Teologie, Psigologie, Ekonomie en Regsgeleerdheid met ds Manasse Matiquele as die rektor. In 2016 is ‘n verdere twee satelietkampusse op Milange en Mocuba gevestig waar Ivan Steven tot 2017 die leiding geneem het.

Ds Hannes Theron in gesprek met dr Manasse Matiquele, rektor van Hefsiba.
“Tydens ons kontak met die gemeenskappe in Vila Ulónguè, Milange en Macuba is ons diep geraak deur oud-studente van Hefsiba wat met groot lof praat oor wat Hefsiba vir hulle beteken het en die verskil wat dit binne hulle gemeenskappe maak.
“Een van die mooiste deugde bly vir my leergierigheid en leerbaarheid,” sê Hannes. “Ongeletterdheid is eintlik om nie meer te wil leer, te ontdek, te ondersoek en te bevraagteken nie. ‘n Ingesteldheid van om te wil leer – van God, van myself, van ander en die wêreld – dit is waaroor dissipelskap gaan.
“Ek dank die Here vir die impak wat hulle binne die gemeenskap maak – om mense te begelei om in dit wat hulle is en doen dissipels van die Here Jesus Christus te wees. Hulle het my weer opnuut bewus gemaak van mense, eenvoudige mense, met baie minder geleentheide tot hul beskikking as ons, wat wil leer.”
Kontak Hannes Theron by office@netactmail.org.za vir meer inligting.
