V.l.n.r.: Ds Conroy Terblanche (VGK Concordia), ds Cosmas Pamaso (moderator, CCAP Harare Sinode), dr Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika) en ds Kingstar Chipata (algemene sekretaris) CCAP Harare Sinode

 

Op Woensdag 18 Mei het Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika en Conroy Terblanche, predikant van die VGK Concordia en ook lid van dié taakspan, na Zimbabwe vertrek.

Die doel van die besoek was om besoek te bring aan ons twee susterskerke daar , die CCAP Harare Sinode en die RCZ, asook aan CAVA (Christian Audio-Visual Action).

In Harare is hulle hartlik ontvang deur Christine Chanza, bestuurder van CAVA, wat hulle met die logistieke reëlings in Zimbabwe gehelp het.

Hul eerste besoek was aan die sinodale kantoor van ons susterkerk, die CCAP Sinode Harare, waar hulle baie hartlik deur die moderator en algemene sekretaris, ds Kingstar Chipata, ontvang is.

Daar is in diepte oor hul uitdagings gesels, soos die kerkgebou langsaan wat nog vensters en deur kort, maar waarin daar alreeds kerkdienste gehou word. “Die glimlagte op hul gesigte, hul toegewyde bediening van die evangelie en liefde vir die Here, is merkwaardig,” vertel Daniël. Alhoewel hulle groot uitdagings op finansiële gebied het, volhard hulle in hul bediening.

Tydens die besoek het Daniël die pasverskene tweede uitgawe van die boek, A Family of Reformed Churches in Africa, Remarkable stories of God’s grace, aan hulle as geskenk oorhandig.

Die volgende dag het Daniël-hulle ‘n vergadering met die uitvoerende komitee van CAVA gehad. Alhoewel die drukkersbedryf en Christelike lektuur moeilike tye beleef, is hulle steeds baie toegewyd aan hierdie bediening. ‘n Twee-dae-beraad wat deur ‘n onafhanklike fasiliteerder die afgelope week aan CAVAaangebied is, het aan hul personeel baie hoop gegee. Dit behels onder andere ‘n paar veranderinge wat hulle gaan aanbring en hulle is hoopvol oor die toekoms.

Volgende week vertel ons meer van hul besoek aan Morgenster, die RCZ en die NGK Harare.

 

Kontak Daniël by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.