V.l.n.r.: ds Samuel Korir, sendingsekretaris van die RCEA, Kobus en Lizel van Zyl en dr Ariko Ekitala, algemene sekretaris van die RCEA

 

Sedert dr Kobus van Zyl en sy vrou, Liezl, terug is uit Kenia en Suid-Soedan na sy jaarlikse besoek daar in Maart, is Kobus Sondag vir Sondag in gemeentes besig met terugvoer oor hul sendingreis na Oos- en Noord-Afrika.

“Na ons terug is, was my eerste preekbeurt op 17 April en my eerste blaaskans sal op Sondag 5 Junie wees,” vertel Kobus. “Wat ’n voorreg om met gemeentes te deel wat God in dele van die wêreld doen waar mense nie toegang tot die evangelie het, soos ons nie.

“Die besoek aan Kenia gedurende Maart was in baie opsigte spesiaal. Die feit dat Liezl na omtrent 20 jaar weer saam met my die plek kon besoek waar ons destyds ons bediening begin het, was baie besonders. Ons het destyds vir ses jaar in Kenia gewerk en om al die mense weer te sien, was veral vir Liezl ’n emosionele ervaring. Sy en Ester, die vrou wat destyds ons huishulp was, het mekaar omtrent omhels na soveel lange jare.

“Ons was ook trots om te sien hoe ons studente van destyds tans die leiers van die kerk, die Reformed Church of East Africa (RCEA) geword het. Wat veral ’n indruk gemaak het, was om te sien dat een van hulle, ds Samuel Korir, tans die leier van die getuienisbediening van die kerk is. Hy doen uitstekende werk om die evangelie saam met sy span na minder bereikte areas in die noorde van Kenia te neem.

Die Gebedskonferensie

“Die gebedskonferensie is deur nog ’n oud-student, ds Joseph Saamoi, gereël. Die amptelike bekendstelling van my eerste boek oor gebed wat vertaal is met die titel, Prayer, het ook tydens hierdie konferensie plaasgevind. Dit was veral spesiaal omdat ’n deel van die boek handel oor ons tyd in Kenia. Ons het ook met die res van die leierskap vergader, en hulle het die wens uitgespreek dat ons jaarliks so ’n gebedskonferensie in Kenia moet hou.

Kobus se boek, Prayer, wat tydens die konferensie bekendgestel is.

 

“Baie dankie aan almal wat vir ons gebid het tydens die uitreik.”

Volgende week vertel ons meer van hulle besoek aan Suid-Soedan.

Kontak dr Kobus van Zyl by gebedswag7@gmail.com vir meer inligting of om hul nuusbrief te ontvang.