Agter v.l.n.r.: Ds S. Madanire (onder-algemene sekretaris), ds Tafadzwa Masimba (algemene sekretaris), mnr P. Mhizha (rekenmeester), ds Conroy Terblance (VGK Concordia), dr E. Baloyi. Voor v.l.n.r.: dr Chistopher Munikwa (assessor), dr Daniël de Wet (Afrika Ekumene), me R. Hwaire (hulpskriba) en ds I. Pandasvika (moderator)
Op Woensdag 18 Mei het Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika en Conroy Terblanche, predikant van die VGK Concordia en ook lid van dié taakspan, na Zimbabwe vertrek.
Die doel van die besoek was om besoek te bring aan ons twee susterskerke daar , die CCAP Harare Sinode en die RCZ, asook aan CAVA (Christian Audio-Visual Action).
Verlede week het ons meer vertel van hul besoek aan CAVA en die CCAP Harare Sinode. Hierdie week vertel ons meer van hul besoek aan die RCZ (Reformed Church in Zimbabwe).
Daniël vertel: “Na ons besoek aan CAVA is ons na die welbekende sendingstasie, Morgenster, waar ons die rektor van die Murray Theological College, ds Munamati, ontmoet het. Daar het ons ‘n baie goeie gesprek gehad oor die werk van sy voorgangers, Henry Murray en dr Rotoro. Hy het ook vertel van die waardevolle bydraes wat Susan Murray, vrou van Henry, in hulle tyd daar gelewer het.

V.l.v.r.: Conrey Terblanche, Evis Mapfunda (sekretaresse by Murray Theological College) en Daniël de Wet
“Die volgende dag is ons na Masvingo, waar die hoofkantoor van die RCZ is, en waar ons die volle moderatuur ontmoet het. Daar het ons formeel vergader oor ons samewerking en betrokkenheid by mekaar as susterskerke en ons verbintenis is herbevestig.
“Hulle beplan om hul RCZ Sinodesitting in Augustus te hê waartydens ek dan die opgedateerde tweede uitgawe van die boek, A Family of Reformed Churches in Africa – Remarkable stories of God’s grace, aan hulle sal oorhandig.
“Ons het ook gesels oor die belangrikheid van teologiese opleiding en hul behoefte om meer van hul predikante verder te laat studeer in die Nagraadse Diploma in Teologie en meestersgrade aan die Universiteit van Stellenbosch waarmee Getuienisaksie hulle ook kan ondersteun. Ek moes egter ook verduidelik dat ons fondse beperk is en net ‘n sekere aantal ondersteun kan word. Ons is egter daartoe verbind om daarin te investeer en help graag hul predikante met verdere teologiese skoling.
“Ons het ook gesels oor die boek, African Public Theology, wat verlede jaar deur NetACT uitgegee is en hul betrokkenheid by die publikasie daarvan. Ons het as kerk in Afrika dit nodig om teoloë te hoor en te lees wat boeke en artikels vanuit Afrika publiseer. Getuienisaksie is via NetACT baie sterk daartoe verbind om te bly kyk na publikasies in hierdie verband.

Na afloop van die erediens by die NG Kerk Harare saam met ds Brits Janse van Rensburg
“Op Sondag 22 Mei het ons die Afrikaanse diens van die NG Kerk in Harare bygewoon. (Hulle bied een week die diens in Afrikaans aan en die volgende week weer in Engels.) Die NG Kerk en die Hervormde Kerk het ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit en ds Brits Janse van Rensburg is in Februarie daar as hul predikant bevestig. Ons is met groot hartlikheid ontvang en die diens en gesprekke daarna was ‘n besondere ervaring.
“Ons is opnuut bewus van die groot uitdagings in Zimbabwe en wat mense daar beleef te midde van ekonomiese onstabiliteit. Ons is egter diep getref deur hulle vermoë om planne te maak en oor hul passie vir die evangelie. Ons het ons, as Getuienisaksie, opnuut verbind om dié pad saam met hulle te loop.”
Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
