Tydens somer is ons vol energie en het ons moed om heerlik kos te maak en te eksperimenteer. As die winter kom, wil ons egter so vinnig moontlik warm kos kry om weer terug onder die komberse in te klim.

Dit is gewoonlik tydens winter wat ons dan die meeste wegneemetes of reeds gaargemaakte kos by die winkels kry om die kosmaakproses so vinnig moontlik te laat verloop.

Hoe kan ons in hierdie tyd egter ’n ekologiese bydrae lewer om by te dra tot volhoubaarheid, deur self te kook en gevolglik ook minder verpakking (bv met wegneemetes) te gebruik?

Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan bederf ons hierdie week met vier heerlike trooskosresepte vir die winter met bestanddele wat meestal reeds in jou spens is. Maak hierdie winter jou eie en lekkerste trooskos!

1. Jan Braai se kerriepatat- en- wortelsop

Bestanddele:

  • Olyfolie
  • 1 ui
  • 3 telepels knoffel
  • 2 telepels medium kerrie
  • 1 tl fyn koljander
  • 1 tl fyn komyn
  • 2 medium patats
  • 4 groot wortels
  • 2 k groenteaftreksel
  • 1 k water
  • 1 suurlemoen (net die sap)
  • Sout en peper na smaak

 

Laat ons kook!

  • Verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n pot op die stoof en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel by en braai nog ‘n minuut.
  • Gooi nou al die speserye by en braai vir omtrent nog ‘n minuut.
  • Roer die patat en die wortel by en maak seker alles meng deeglik met die speserye.
  • Giet die aftreksel en water by, kry dit rustig aan die prut en sit die deksel op. Laat prut vir ongeveer 45 minute tot alles gaar en heeltemal sag is. Jy kan elke nou en dan die deksel oplig en seker maak niks brand vas of kook droog nie.
  • Sodra alles gaar en sag is, haal die deksel af en gebruik ‘n staafmenger of aartappeldrukker om die inhoud van die potjie in ‘n sop te verander. Gooi water by as die sop te dik is.
  • Roer die suurlemoensap by en geur dan met sout en peper.

Bedien met lekker vars brood vir die beste winter “comfort”!

 

2. Sousboontjie “bunnychow”

Bestanddele

  • 2 eetl olie
  • 2 uie
  • 2 tl knoffel
  • 1 eetl medium sterkte kerrie
  • 2 blikkies sousboontjies (baked beans)
  • 2 aartappels (in blokkies gesny)
  • 2 wortels
  • 1k water
  • 1 tl sout
  • ½ tl peper
  • 1 vars witbrood of broodrolletjies

 

Kom ons kook!

  • Verhit die olie in ‘n pot en braai die ui lekker sag daarin.
  • Gooi dan die knoffel en kerriepoeier by en braai vir 1 minuut.
  • Gooi die sousboontjies, aartappels, wortels, water, sout en peper by en roer dan tot deeglik gemeng.
  • Sit die deksel op en laat dit prut oor matige hitte vir so 30 minute. Roer elke nou en dan sodat niks onder vasbrand nie.
  • Laat die pot prut tot jou aartappels sag is. Sodra die aartappels sag is, haal die deksel af en laat prut ‘n paar minute sonder die deksel sodat die sous lekker dik raak.

Dien op

  • Sny die brood in kwarte en sny die middel uit elke kwart, skep die kerrie in die holte van die brood. OF
  • Skep die kerrie in ‘n bakkie, rooster snye brood of broodrolletjies en doop dit in die kerrie as die eerste opsie vir jou na te veel stysel klink.

 

3. Vleislose Maandag nachos

Bestanddele:

  • Olyfolie
  • 1 ui (fyn gesny)
  • 1 rooi soetrissie (in klein blokkies gesny)
  • 2 tl knoffel
  • 1 tl paprika
  • 1 tl fyn komyn
  • 1 tl fyn koljander
  • 1 tl gemengde kruie
  • 1 blikkie opgekapte tamaties (of 4 groot tamaties baie fyn gesny)
  • 1 blikkie rooi nierboontjies of swartboontjies
  • 1 koppie gevriesde mielies
  • 2 eetl tamatiesous (All Gold) of tamatiepasta
  • Sout en peper na smaak
  • Gerasperde cheddar kaas
  • 1 pak Doritos chips
  • 1 avokadopeer

Kom ons kook!

  • Verhit olie in ‘n potjie of groot pan. Braai die ui tot sag en deurskynend.
  • Voeg die knoffel en al die speserye by en braai vir nog so ‘n minuut. Gooi die opgekapte tamaties by en roer deeglik tot alles deurgemeng is. Laat dit so 15 minute prut oor matige hitte.
  • Voeg die rooi soetrissie, boontjies, en gevriesde mielies by. Laat dit vir nog so 20 minute prut tot al die geure deurgekook is.
  • Gooi laastens die All Gold tamatiesous of tamatiepasta by en geur met sout en peper. As jy meer skop in die nachos wil hê, voeg 1 tl brandrissiepoeier by.
  • Voorverhit nou die oond op 180 grade C.
  • Terwyl die hele pot prut, versprei die Dorito-skyfies in elkeen se borde en sny die avokadopeer in dun skywe.
  • Skep die nacho-gereg bo-oor die Doritos. Strooi kaas oor en smelt dit in die oond. As die kaas gesmelt is, pak die skywe avokadopeer bo-oor die gereg en geniet!

 

4. Romerige tamatie macaroni en kaas

Bestanddele

  • 2 eetl olyfolie
  • 1 eetl botter
  • 1 ui, fyn gekap
  • 2 tl knoffel
  • 1 blikkie opgekapte tamaties
  • ½ koppie water
  • ‘n knypie suiker
  • ½ koppie room
  • Sout en peper na smaak
  • 500g macaroni, gaar (hou 1 k van sy kookwater eenkant)
  • ‘n bietjie kaas om mee voor te sit

Kom ons kook!

  • Smelt die botter en olyfolie saam in ‘n pot en braai die ui daarin tot sag en deurskynend.
  • Voeg die knoffel by en braai nog ‘n minuut voor jy die opgekapte tamaties byvoeg.
  • Voeg suiker, sout en peper by en laat dit vir ongeveer 5 minute prut.
  • Voeg die room by en laat nog so 5 minute prut voor jy dit met ‘n staafmenger fyn maak tot glad.
  • Voeg die gekookte pasta by die pot en meng deeglik deur. Voeg ‘n bietjie van die pasta se kook water by om die sous ‘n bietjie te verdun.
  • Skep in bakkies en rasper kaas bo-oor om voor te sit.

Geniet hierdie winter met hierdie heerlike koester kos!

 

Kontak Marizanne Pfeil-Wessels by marizannepfeil@gmail.com vir meer inligting.