V.l.n.r.: Ds Osward Msowoya, mev. Vumba Nyasulu, ds Josehp Mwale, dr Daniël de Wet, Rodrick Phuka, ds Isaac MJ Mabngo (Moderator CCAP Livingstonia Sinode) en ds Henry Mwangolera

 

Op 11 Julie het dr Daniël de Wet (PSD Afrika Ekumene van Getuienisaksie) met ‘n afvaardiging van CCAP Livingstonia Sinode, Malawi, in Stellenbosch vergader.

Die vergadering het bestaan uit ‘n paar predikante en lidmate van die CCAP Livingstonia-gemeentes in die Wes-Kaap-omgewing en ‘n paar kerkleiers wat van Malawi ingevlieg het, onder andere die moderator, ds Isaac MJ Mabngo.

Ons hier in die Wes-Kaap het natuurlik ‘n baie lang verbintenis met die CCAP Nkhoma Sinode, terwyl die CCAP Livingstonia Sinode ‘n lang verbintenis met ‘n ander gereformeerde kerk het, naamlik die Free Church of Scotland. Die CCAP Livingstonia Sinode het ook uit die Livingstonia Missie van dié kerk ontstaan in 1875.

“Ons het onder andere gepraat oor uitdagings wat hulle tans hier in Suid-Afrika het,” vertel Daniël, “waarvan die grootste toenemend is om werkspermitte te kry vir hul predikante wat vanuit Malawi hier kom werk en woon. Ten spyte daarvan, is hul gemeentes besig om te groei in die drie areas (vestries), naamlik Kaapstad, Kaapstad-Wes en die Tuinroete.

“Ons doen ‘n beroep op ons gemeentes hier in die Wes-Kaap dat, as hierdie lidmate julle nader, julle dit asseblief sal oorweeg om van julle geboue vir hul eredienste beskikbaar te stel.

“Daar is tans ‘n goeie gesprek tussen die NG Groote Kerk in Kaapstad en een van die CCAP Livingstonia-gemeentes. Die Groote Kerk het ook reeds ingestem dat die CCAP-lidmate hul kerkgebou vir eredienste kan gebruik – iets waaroor ons diep dankbaar is.

“Hierdie uitdaging, om erediensruimtes vir die Chichewa-sprekende lidmate te vind wat ook mense van ander lande insluit wat Chichewa praat, is soortgelyk aan die uitdaging van ons susterskerk in Zimbabwe, die RCZ, wat honderde lidmate in Suid-Afrika het om geestelik te versorg.

“Ons is baie dankbaar vir ons NG Kerk-gemeentes wat alreeds begin hande vat het met dié gelowiges in ons land en bly bid vir hierdie uitdagings en kyk waar en hoe ons hulle kan ondersteun en bystaan.

“Ons beplan om dus nie net met ons RCZ-medegelowiges hier hande te vat nie, maar ook toenemend met lidmate van die CCAP Livingstonia Sinode.”

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.