In ons kort reeks oor ekoteoloë fokus ons hierdie slag op die ekofeminis, Sallie McFague.

Sy is gebore op 25 Mei 1933 in Quincy in die deelstaat Massachusetts, Amerika. Sy begin haar akademiese loopbaan met ‘n BA in Engelse Letterkunde en voltooi haar PhD aan die bekende Yale Teologiese Skool in New Haven, Connecticut.  Sy het vir 30 jaar klas gegee aan die Vanderbilt Teologiese Skool in Nashville, Tennesee. Sy sterf op 15 November 2019 in Vancouver, Brits Kolumbië, Kanada.

Sallie McFague is deel van ‘n groep vroue-teoloë wat bekend staan as feministiese teoloë en ook as ekofeministe. Hierdie twee lyne in die teologie is nou verwant en verweef. Heelwat teoloë in die feministiese tradisie het ook ekofeministe geword. McFague is een van hulle. Feministiese teologie is eintlik ‘n wêreldwye versameling van kontekstuele teologieë wat almal verbind is tot geregtigheid vir vroue en die transformasie van die samelewing.

McFague se akademiese loopbaan het in die Engelse letterkunde begin. Dit het haar toegerus met taalkundigheid – veral ‘n fyn aanvoeling vir die gebruik van metafore (beelde) as taalverskynsel. Sy het uiteindelik ook veral bekend geword vir haar teologie van die metafoor. Volgens haar kan ons as mense op geen ander manier oor God dink en praat (teologie beoefen) as in metafore nie. God, wat ten diepste misterie is en bly, is altyd vir ons soos iets of iemand wat aan ons bekend is. God kan nie vasgevang word in net een of ‘n paar metafore nie. Daarom moet ons ook nie dink dat God net as Vader of selfs primêr as ‘n Vader verstaan moet word nie. Die Vader-beeld van God, soos alle ander metafore, is die produk van sosiaal-kulturele en politieke sisteme waarin ons oor God dink en praat. En die sisteem waarin die Vader-beeld van God ontstaan en dominerend geword het, is ‘n patriargale sisteem waarin manlikheid gedomineer het. Die feministe lewer vel kritiek op hierdie dominansie. Die manlik dominerende wêreld het manlik-dominerende metafore gebruik om oor God te praat. Hierdie metafore het ‘n patriargale model geword wat vir mense sin gemaak het in die werklikheid soos hulle dit beleef het.

Ons leef in ‘n nuwe werklikheid;  ‘n werklikheid wat die negatiewe gevolge van die manlik-gedomineerde wêreld helder en duidelik ontbloot. Ons is ontnugter. Voeg hierby die klem op menseregte in ons tyd en veral ook die regte van vroue, dan verstaan mens die noodsaaklikheid vir die gebruik van ander en selfs nuwe metafore om oor God te dink en te praat. Daarom fokus baie feministiese teoloë daarop om oor God ook as Moeder te dink en te praat. Alle metafore skiet tekort en is onvolledig – ook die een van Moeder. Daarom het ons soveel as moontlik metafore nodig as ons oor God praat. Die Moeder-metafoor – soos alle ander metafore – help ons egter om belangrike eienskappe van God uit te lig en te verwoord. God as Moeder beklemtoon die feit dat God die begin, versorger en vervulling van lewe is. Vir McFague is die kosmos uit God gebore (bodied forth from God). Die Moeder-beeld beklemtoon die intieme verbintenis wat daar tussen Skepper en skepsels is, teenoor die gedagte dat God alles uit niks gemaak het en los (transendent) van die skepping op ‘n afstand alles onderhou. God as Moeder wat aan die kosmos geboorte gegee het, gee passievol om vir die skepping en versorg dit met toegewyde geregtigheid vir alle vorme van lewe – nie net vir mense nie. ‘n Geregtigheid wat ‘n ekologiese ekonomie tot stand bring wat verseker dat ALLE lewende wesens floreer.

Vanuit die Moeder-beeld vir God het McFague begin om oor die kosmos as God se liggaam te dink en te praat.  Sy skryf in 1993 in die inleiding tot haar boek, The body of God, An Ecological Theology, die volgende om haar gebruik van die organiese beeld van die kosmos as God se liggaam te verduidelik:  “… the model of the body of God is only one model, but one that is neglected, essential, illuminating, and helpful both to Christian doctrinal reformulation and to planetary well-being… I am a white, middle-class, American Christian woman writing to first-world, privileged, mainstream Christians (and other interested persons). The point of the essay is to think and act differently, to think and act as if bodies matter… This essay focuses on the basic physical needs of bodies (human and non-human) for food, shelter, water, space, and so on.” Sy skryf die boek, sê sy, om ‘n konteks te skep waarbinne die mens nuut kan dink oor ons rol in die skepping. Sy noem hierdie konteks ‘n funksionele kosmologie. Dit is ‘n kosmologie waarin ons as mense onsself leer sien as mense wat in die aarde as ons tuiste woon; ‘n tuiste wat ons deel met baie ander skepsels (liggame) wat almal saam met ons deel uitmaak van God se liggaam en vir wie God liefhet. Die bedoeling van die nuwe funksionele kosmologie is om ons te herstel tot God se medewerkers wat help om lewe (alle lewe!) op aarde te laat floreer.

In, seker een van haar laaste bydraes, skryf McFague oor “Jesus the Christ and climate change” in T&T Clark Handbook of Christian Theology and Climate Change (2020). Daarin sê sy dat dit onder andere die taak van die teologie is om vir gelowiges nuwe maniere te gee om oor God se verhouding met die skepping te dink. Sy bied dan selfs ‘n “nuwe” storie van Jesus se selfontlediging (kenosis) aan as ‘n alternatief vir die meer populêre storie van Jesus se koningskap. Sy fokus hiervoor op Fil 2:5-8; die teks wat vertel van die selfontlediging van God in Jesus die Christus. In Jesus Christus leer ons vir God ken as die God van selfopoffering; die God wat die troon verlaat om te dien – om slaaf te word: tot in die dood aan die kruis. Hierdie storie van Jesus die Christus beklemtoon God se opofferende liefde, nie om vir mense se sondeskuld te betaal en hulle sodoende te red nie, maar om te demonstreer dat God ‘n dienskneg is wat ter wille van God se skepping leef – al sluit dit die wrede dood van die kruis in. En, soos Paulus dan self vereis, word hierdie “gesindheid” (Engels: “mind”) van Christus, gelowiges se voorbeeld (vers 5).

In Jesus die Christus ontmoet ons nie ‘n God op ‘n troon nie. Inteendeel, die God wat ons in Jesus Christus  leer ken, is vlees en bloed en op straat – wat na sweet ruik. Sy sluit dan by Thomas Merton aan wat aangrypend skryf oor hoe God deur die Gees self-opofferend in elke asemteug my longe vul, sodat ek weer op my beurt met elke asem wat ek uitblaas (en met my dade) self-opofferend myself kan gee vir my naaste (wat die aarde en alles daarin insluit – net soos by Moltmann). So word ek dan, as dissipel, net soos Jesus ook beeld van die self-opofferende God.

Hierdie self-opofferende lewensingesteldheid is egter nie net deel van God se karakter nie. Dit is ook die patroon in die natuur wat evolusie blootlê.  Al die verhoudinge tussen spesies in die voedselketting vertoon ‘n self-opofferende ingesteldheid. Sommige spesies – met die mens op die voorpunt – kan in die evolusieproses uitblink slegs omdat ander spesies en vorme van lewe hul voedsel is. Selfopoffering – die bereidheid om ter wille van ander te sterf – is dus in die realiteit van die lewe ingebou. Die mens is die een wat die meeste hierby baat. Al die spesies, behalwe die mens, leef onbewustelik selfopofferend. Die mens wat op die voorpunt van die ontwikkeling van bewussyn is, moet egter leer om dit bewustelik te doen – net soos God dit in Jesus die Christus doen.

McFague bied dan die metafoor van vriendskap aan as die metafoor wat volgens haar die beste uitdrukking gee aan die karakter van self-opoffering. Sy sluit hiervoor aan by Jesus se woorde aan sy dissipels: “Goter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by die Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” (Joh 15:13-15). En, sê McFague, in aansluiting by Jurgen Moltmann, die kruis is die plek waar ons vir God ten diepste as Vriend leer ken. Die ekologiese implikasie hiervan is dat elke mens dan ook soos God moet leer om selfopofferend te leef ter wille van die aarde en elke ander spesie wat selfopofferend beskikbaar is as voedsel vir die mens. Die dominerende metafoor wat op die oomblik die verhouding van die mens met die aarde uitbeeld, is dié van verbruiker. Dit moet vervang word met die metafoor van vriend.

Ons sê dankie vir God se selfopoffering en die selfopoffering wat in die lewe op aarde ingebou is, deur self bewustelik te kies om ook opofferend te leef. Dit is hiertoe wat God in Jesus Christus die mens bevry (red).

Sallie McFague sê vir Christene: Haal julle oë af van die hemel (hiernamaals) en kyk na die aarde. Word ‘n vriend vir al die spesies wat opofferend leef ter wille van julle. Dan sal julle die hemel op aarde ontdek.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com