Ds Louwrens van der Westhuizen (links agter) en dr Daniël de Wet (middel in ‘n swart T-hemp) en sy vrou, Elmien, by een van die gemeentes van Makhathini tydens ‘n besoek daar vanjaar.

 

Vennootskappe maak ons almal sterker en gee nuwe energie en stukrag aan inisiatiewe wat jou hele gemeenskap positief kan verander. So is dit dan ook met die Makhathini Vennootskap wat danksy die betrokkenheid van ‘n stewige groep gemeentes oor die jare heen baie mense se lewens in die noorde van KZN help hoop gee het in die nuwe lewe wat daar in Christus is.

Met die oog op die volgende vergadering wat op 8 Oktober by die NG Kerk Strand-Wes sal plaasvind, het ds Louwrens van die Westhuizen solank die volgende inligting aan ons gestuur:

Hy vertel: “Daar het baie die afgelope tyd gebeur. Ek en Lucky Kunene (geestelike werker) het tydens Pinkster ondersteunende gemeentes besoek. Vyf uitreikgroepe het die afgelope twee maande  ons gemeente besoek en waardevolle insette gelewer. ‘n Uiters suksesvolle jeugkamp (CYM) en manne konferensie (CMM) is intussen ook aangebied.

“Die gesprek rondom ‘n geïntegreerde bedieningsmodel gaan steeds voort nadat dr Daniël de Wet die leiers op 1 April 2022 ontmoet en ‘n gesprek in die verband gestimuleer het.

“Ten opsigte van salarisse van voltydse personeel is die volgende van belang:  Tot onlangs het ons met ‘n kontantvloeiprobleem van R5,000 per maand gesit, veral om die maandelikse salarisse van ons voltydse personeel te kan betaal.  NG Kerk Hartenbos het ons te hulp gekom en hul verbind om hierdie finansiële jaar ‘n maandelikse bedrag van R2,500 te gee.  Die inkomstes aan tiendes en offergawes het die afgelope jaar gestyg met R70,000 en sodoende is die onmiddellike probleem opgelos.

“Die kerkraad stel dit in die vooruitsig om ‘n kerkkantoor met ‘n voltydse administratiewe beampte aan te stel.  NG Kerk Mosselbaai Moeder het ‘n bedrag van R15,000 geskenk om kantoortoerusting (rekenaar en drukker) aan te koop.”

Die volgende bedieningsprojekte kan onderrsteun word:

  • Bible GPS vir predikers: NG Kerk Oudtshoorn-Wes het die pakket met 10 werkboeke geskenk (R3,500). Ons het begin met twee groepe (Jozini en Kwangwanase).  Die twee groepe met predikers vorder nie na wense nie. Die ideaal is dat meer en meer groepe die kursus sal doen.
  • Projekte soos bestuur deur die sosiale werker, Lungani Mandlakazi: Lungani het die opleiding van die 15 sorgwerkers van die gemeente in beplanning en wil ook baie graag weer begin om aan hulle elkeen ‘n maandelikse finansiële bydrae te gee. Ons poging  dat ACAT hier plaaslik vir die mense kom opleiding gee, was nie suksesvol nie.  (Slegs 8 van die groep van 15 het opleiding by ACAT ontvang en die res van die persone is almal nuwe mense.)  Die Sorgwerkers benodig altyd ‘n verskeidenheid van mediese en sanitêre middele om hul werk effektief te kan doen.
  • Die werk van Themba Mahlangu as kinderwerker: Die Sondagskool personeel en kategese personeel is toegerus met die nodige handleidings. Die jaarlikse groot kinderkamp van die naweek van 2 Oktober 2022 is in beplanning. (Hiervoor begroot ons  R4500)  Enige bydrae vir hierdie kamp sal verwelkom word.

Onderhoud van geboue:

  1. Jozini-huis en gastehuis: (Pastorie waar Lucky woon.) Die geboue is baie oud.
  • Dit sal  baie sinvol wees om die eiendom in Jozini te beveilig deur ‘n muur rondom die perseel te bou (veral aan die agterkant van die perseel); alarm en ligte op perseel; ens.
  • Gastehuis: Baie aandag is die afgelope tyd gegee aan die wateraansluiting en elektrisiteit by die gastehuis. Die NWU-studente uitreikgroep het die kamers se dak herstel en geverf.
  • Woonhuis: Die kaste in die kombuis se leeftyd is verby. Daar is maar voortdurend loodgieterprobleme in die badkamer en toilet. Die verfwerk van die huis binne en buite is steeds in ‘n goeie toestand.
  • Die watertenk en drukpomp by die gastehuis moet geskuif word na die woonhuis, sodat dit beide huise kan bedien.

 

  1. Sommige van die kerkgeboutjies het aandag nodig soos bv Mgabadeli, Gedleza en Ceswane.

 

  1. Nondabuya is besig om hul kerkgebou te vergroot.  Dis reeds dakhoogte, maar benodig fondse vir die vensters en dakstruktuur.  Hierdie gemeentetjie het al so baie gedoen om die projek tot op hierdie fase te bring.  Hul verdien regtig ondersteuning.

 

  1. Ndumu-woonhuis: n ‘pragtige nuwe huis is daar gebou.  Die kamers en kombuis het ook geen ingeboude kaste nie.  Water is nou op die perseel, maar nog nie met die huis aangesluit nie.  Kundige loodgieter en skrynwerker sal ‘n groot verskil maak.

 

  1. Mapaya-woonhuis: Baba Ngwenya en sy gesin is deur die kerkraad vanaf Ophansi na Mapaya verplaas. Dit beteken dat ons die woonhuis (‘n stewig geboude huis en in ‘n veel beter toestand as die huis by Ophansi) vining in ‘n beter leefbare toestand moes kry.  Die NG Kerk Hartenbos het reeds R5,600 voorsien om die daklekkasies, verfwerk en ander noodsaaklike onderhoudswerk te doen.  Gemeentes van Richardsbaai het twee slaapkamers geverf en sodoende ook verf vir ‘n derde kamer geskenk.  Die loodgieterwerk in die badkamer en kombuis benodig steeds dringende aandag.

 

  1. Mapaya Konferensie Sentrum: Daar is altyd onderhoudswerk wat aandag vra by hierdie sentrum. Die NWU-studente het so pas al die houtdeure en houttafels herstel en vernis. Hul het ook ‘n groot werk gedoen om al die dakskroewe van die reeks slaapkamers te vervang en ook die kombuis se dak geverf.  Daar is ‘n houttrap aan die westekant van die gebou wat in die stadium ‘n veiligheidsrisiko is en dringend aandag nodig het.

 

  1. Kwangwanase: Die elektrisiteitsverbruik hier is BAIE hoog. Ons sal moet kyk na alternatiewe kragverbruik en/of ‘n koopkragmeter (R6,000) aanskaf. Eskom het op hul koste ‘n paar jaar gelede sulke meters ingesit by die Jozini-huis en die Mapaya Konferensie Sentrum en dit maak ‘n groot verskil.

Die houtkassies van die kombuis van die gastehuis benodig baie aandag.  Die vaardige hand van ‘n skrynwerker sal baie beteken.

 

Praktiese uitreikgeleenthede met besoekende spanne:

Daar is natuurlik baie geleenthede om praktiese onderhoudswerk te doen. Daar is veral behoefte aan meer gespesialiseerde werk soos loodgieterwerk, skrynwerkerswerk en elektriese werk.

 

Behalwe dit wat reeds genoem is, het uitreikgroepe die afgelope Junie/Julie-vakansie ook die volgende onderhoudswerk gedoen:

Die groep van Wesvalia Hoërskool (Klerksdorp) het met hul vierde besoek ontsettend baie gedoen:

  • Die kleuterskool by Zama Zama is versterk met ‘n betonpaadjie reg rondom die gebou. Die gebou is binne en buite nuut geverf en het ‘n heel nuwe voorkom’ gekry met ‘n pragtige nuwe speelklimraam.
  • Die kerkgebou by Hlanganani is omhein.
  • Vir die kleuterskool by KwaNdaba is ‘n nuwe kombuis gebou; die nuwe klaskamer-aanbouing se dak is gelig; die speelapparaat op die terrein is herstel en mooi geverf, ens.
  • By Mbangweni is mooi gevorder met die bou van ‘n nuwe kerkgeboutjie: die dak is opgesit en die konkreetvloer is amper halfpad gedoen.

By KwaNgwanase het die Oase-gemeente vanaf Klerksdorp ‘n gemeenskapsprojek aangepak. Vir ‘n kinderhuis vir gestremde kinders is ‘n groentetuin omhein; ‘n nuwe kombuis is gebou; ‘n watertenk op ‘n staander geïnstalleer; en vele ander kleiner verbeteringe aangebring.

Ons het die “Buckets of Love” projek. Behoeftige gesinne in die gemeenskap word deur die klinieke van die hospitaal te KwaNgwanase en ons gemeente-sorgwerkers geïdentifiseer en met kospakkies bedien.  Dit is ‘n ideale geleentheid vir ‘n gemeente om nie-bederfbare voedsel te kollekteer en mee te doen aan ‘n gemeenskapsuitreik met kospakkies.  Die gemeentes van Richardsbaai het fondse bymekaar gemaak en hulle het gehelp om altesaaam 146 sulke kospakkies uit te deel.

Evangelisasie uitreike: Die hou van tentveldtogte is nie meer die mees effektiewe manier van evangelisasie-uitreike nie. Tydens die afgelope Junie/Julie-skoolvakansie is ‘n soortgelyke uitreik gedoen deur huisbesoeke by Gedleza en Ceswane te doen.

Blootstelling ervaring: Die verlede het geopenbaar dat gemeentegroepe wat kom kuier en slegs ‘n blootstellingservaring wil ervaar en miskien ‘n klein takie tydens hul besoek verrig, dikwels getuig van ‘n onvergeetlike ervaring.

Groepe of individue wat by die bediening  wil betrokke raak, sommer net wil kom kuier of iets daadwerkliks wil doen, is welkom om Louwrens van der Westhuizen te skakel by 082 516 4437 of per epos weshuis7@gmail.com.  Hulle gesels graag.