Een van die Bothas se wurmplase
David Botha, ons eko-korrespondent se vrou, Estelle, deel met ons praktiese idees oor haar en David se persoonlike reis met groener leef. So, kom reis saam! Sy deel graag vanaf vandag in die volgende weke ‘n paar wenke en idees en ontdekkings in die verband.
Hier is haar eerste bydrae.
“Ons het sewe jaar gelede op ‘n stukkie grond aan die voet van Ontongskop, naby Tulbagh, afgetree,” vertel Estelle.
“Voordat ons hier kom woon het, was ons dorpsjapies wat gewoond was aan ‘n munisipale diens wat weekliks verbygekom en swartsakke opgelaai het. Ons kon dus enigiets net daarin gooi en daarvan vergeet; nie so maklik hier nie. Omdat ons plaas-area is, bestaan daardie diens nie. Ons moet self verantwoordelikheid neem vir alles waarvan ons ontslae wil raak.
“Dit het ons gedwing om baie mooi te kyk na wát ons alles weggooi, wáárom ons dit weggooi en hóé ons dit weggooi. Ons het besef: Goed wat ons weggooi, gaan eintlik nie weg nie. Net omdat ek dit nie meer op my werf het of dit nie meer sien nie, beteken nie dat dit nou onskadelik raak of sommer net verdwyn nie.
“Ons het die uitdaging aanvaar om ons uitskot-, oorskiet-, rommel-afval en -voetspoor so klein en onskadelik moontlik te kry en so op ‘n baie interessante en opwindende reis beland. Hierdie reis help ons om bewustelik sensitief om te gaan met alles wat rondom ons leef. Inderdaad, om lief te hê op ‘n praktiese manier!”
Sy vertel: “Ons eerste uitdaging was om alle goeters wat kan vrot uit die kombuisvullisdrom te hou. Waarom? Sodat daardie drom vir weke daar kan staan en die onafwendbare plastieksak binne-in behoorlik vol kan word, voordat dit na die stortingsterrein hoef te gaan.

Die bokashi-houer met sy deksel oop
“Ons praat dus nou van organiese afval soos skille en oorskietkos. Daarvoor het ons ‘n bokashi-emmer en ‘n erdwurmplaas. Laasgenoemde is ‘n kompakte, reuklose, maklike manier om skille te verander in lieflike mineraalryke vloeibare plantvoedsel en kompos.
“Het jy nie eintlik ‘n tuin nie? Plant ‘n potplant daarin. Ook nie? Gee dit vir ‘n buurman wat graag tuinmaak. Dis een van die heel belangrikste goed wat ‘n mens kan doen: om die grond – waarvan en waaruit en waarin ons lewe – te voed, te koester, inderdaad lief te hê.”
Volgende week deel Estelle nog wenke met betrekking tot ‘n wurmplaas en sal meer inligting gee oor die bokashi-emmer. Intussen kan jy gerus op die internet gaan navorsing doen oor die bedryf van ‘n wurmplaas (wikiHow het oulike artikels). Kyk ook by Global Worming.
Vrede vir u en vir die hele aarde
Estelle Botha
estellebotha061@gmail.com
