Riaan (links) saam met die leraars. ‘n Mens kan op hulle gesigte sien dat hulle dankbaar is vir die opleiding!

 

Riaan Terblanche, koördineerder en opleidingsorganiseerder van Veritas College in Mosambiek, het van 12 tot 18 Augustus 21 leraars van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), as fasiliteerders van Veritas College opgelei.

Hy vertel: “Ons prys die Here vir die voorreg om hierdie leraars van die Thumbine Sinode van die IRM in Milange, op die grens van Mosamiek en Malawi, te kon oplei.”

Riaan vertel verder: “Ek en dr. Davidson Chifungo van Veritas College Malawi het die opleiding gesamentlik gedoen. Die opleiding was daarop gemik om die leraars toe te rus om die Woord op ‘n verantwoordelike wyse te interpreteer, dit ook prakties op hulle lewens toe te pas en dit dan met gesag te kommunikeer.

“Die opleiding help hulle, as fasiliteerders van Veritas College, om hulle eie leiers met dieselfde vaardighede toe te rus, sodat die bediening van die Woord versterk kan word; ook in afgeleë gebiede van Mosambiek.  Vir hierdie doel het ons vir elkeen van die leraars tien werkboeke van Veritas College gegee sodat hulle so gou moontlik met die opleiding in hulle gemeentes kan begin.

Op die foto sit ds. João Herbert, die algemene sekretaris van die sinode (links)
saam met die moderator, ds. Matunda, gemaklik op die gras tydens ‘n groepbespreking.

 

“Dit was baie bemoedigend dat,  buiten drie leraars, die hele sinode die opleiding bygewoon het! Sommige van die leraars het tot 700 km gereis om die opleiding by te woon! Ons prys die Here vir hulle pragtige gesindheid en toewyding.

“Hulle was baie dankbaar toe ons vir hulle elkeen ‘n nuwe Chewa Bybel gegee het. Van die leraars se bybels was baie oud en verslyt van gebruik oor jare.

 

“Ons is baie dankbaar vir Getuienisaksie, gesamentlike diensgroep van die NG Kerk Wes-Kaap, VGK Streeksinode Kaapland en die RCA wat die opleiding geborg het. Ons is oortuig dat hierdie opleiding ‘n verreikende uitwerking gaan hê op die koms van die koninkryk in Mosambiek!”

 

Riaan Terblanche
riaan@veritascollege.org