Nie ‘n krieseltjie organiese materiaal hoef in jou kombuisdrom te beland nie

 

Synde ek verlede week, by wyse van spreke, sommer by die kombuisdeur ingekom het, voel dit vir my asof ons mekaar al effens beter ken. Ek hoop dat jy opgewonde is oor die moontlikhede wat ‘n wurmplaas bied. Daar is oorgenoeg handleidings en advies op die internet beskikbaar, wat ek nie hier hoef te herhaal nie. Net dit:

Wurmtee wat deurlopend getap word. Meng die tee met 10 gelyke dele water en gebruik dit as vloeibare kos vir alle plante.

  • Die erdwurmpies in daardie houer is lewende wesens en dus ook jou naaste. Sorg mooi vir hulle. Beskerm hulle teen uiterste temperature. Ek vind ‘n dubbele laag klam eierhouers heel bo-op, net onder die deksel, baie goeie isolasie. Moenie gif naby hulle spuit nie, of gooi ‘n kombers oor hulle as jy dan moet. Hulle het nie tande nie. Sny dus die kos wat jy vir hulle gee, fyn. Hou die sisteem alkalies deur gereeld karton by te sit. Ek maal ook alle eierdoppe uit my kombuis fyn en gooi dit by hulle kos.
  • Hulle sal geen plastiek verwerk nie, dus is hulle uitstekende bondgenote om jou te help agterkom waar plastiek oral versteek is waar jy dit nie verwag nie. Dit het ek agtergekom toe ek klaargebruikte teesakkies in my wurmplaas gesit het, en toe met die oes van die kompos sulke slymerige (ekskuus) dermpies oral vind – die wurms het alles smaaklik geëet, behalwe die plastiek wat ook in die materiaal waarvan die teesakkies self gemaak word, ingeweef word, waarskynlik om dit sterker te maak; die sakkie nou, seker darem nie die tee nie! Maak dus die teesakkies droog (‘n warm hoek in ons motorhuis werk vir my), skud hulle uit en die wurms verwerk daardie teeblare tot heerlike kompos. Let ook op dat kartonne dikwels plastiekplakkers bo-op het asook stukkies plastiek by hegtings en hoeke. Probeer alles afhaal. Onthou, jy wil nie plastiek in jou grond hê nie.
  • Probeer om nie nou te sê: “Ek het nie tyd vir dit alles nie, dis vinniger om dit in die kombuisvullisdrom om te keer. “Kom ons wys ons liefde …”

Bokashi is lank gelede deur Japannese boere ontwikkel. Dit bestaan uit droë semels met probiotiese mikrobes en molasse. Dit word in ‘n groot houer in lae bo-oor organiese materiaal gestrooi. Dit is in staat om enige rou of gekookte kosse af te breek, reukloos en vliegloos, dit verskaf ook ‘n vloeibare plantvoedsel en kan, wanneer jou houer vol is, direk in die grond ingespit word of as ‘n versneller in die tuin se komposhoop gebruik word. Die produk is beskikbaar by jou plaaslike boerewinkel en ook by ‘n bekende aanlynwinkel. Om meer uit te vind, gaan kyk gerus by The Basics of Bokashi Composting (thespruce.com)

Eintlik vul bogenoemde stelsels mekaar aan, sodat daar nie ‘n krieseltjie organiese materiaal in jou kombuisdrom hoef te beland nie. Die wurmplaas bevat lewende diertjies waarvoor gesorg moet word. Vleis, vetterigheid en skerp of suur smake soos uie en sitrus akkordeer nie met hulle nie.  Hulle verwerk egter dit wat jy vir hulle gee tot perfek afgebreekte fyn kompos. By Bokashi, aan die ander kant, kan jy enige-iets gooi, maar dit word nie so volkome afgebreek nie.

Ek moet darem hier net sê, ons probeer baie hard om nie kos weg te gooi nie. Selfs ‘n klein bietjie ‘oorskiet’ kan ‘n vulsel vir ‘n omelet word, of in sop ingeroer word. ‘n Gebotterde broodjie word iets besonders met ‘n bietjie soet chillisous daarop, ‘n skeppie vleis en groente of dalk net groente, kaas bo-oor …  Of in ‘n wrap. Of in ‘n pasteitjie. Of deur pasta geroer, met olyfolie en fetakaas darby. Of dit word gevries  vir later.  Brood vries goed, of ek maak krummels om frikkadelle mee te bind.

Nou dat die organiese materiaal hanteer is, gaan ons volgende keer kyk wat nog alles in die kombuisdrom beland en wat ons daaraan kan doen. Probeer intussen vriende maak met iemand in jou dorp of stad wat herwinning doen. Daardie persoon gaan jou nie net baie leer oor die fyner aspekte van herwinning nie, maar herwinnaars is eenvoudig mal oor afvalmateriaal en hulle entoesiasme is aansteeklik.

Die diep vrede van die aarde vir jou

Estelle Botha
estellebotha061@gmail.com