Nege weke se huisafval. Die swart sak is al wat stortingsterrein toe gaan.
Estelle Botha van Tulbagh gee hiermee meer wenke oor hoe ons ons liefde vir God en die aarde kan wys:
Ons organiese afval is stadig, maar seker, besig om weer deel van die grond te word. Is dit nie net ‘n heerlike gewaarwording nie?
Nou moet ons bestek opneem van die res van die inhoud van die kombuisdrom. Om dit ordentlik te kan doen, wil ek jou uitdaag: Soek ‘n paar houers bymekaar – kartondose, plastiekemmers, wat ookal voorhande is. Probeer vir vier weke lank om geen plastiek, skoon papier of karton, glas, blik of elektroniese afval in die kombuisdrom te gooi nie, maar elk in sy eie houer. Meegaande is ‘n lys kodes om jou te help besluit wat hoort waar: Recycling codes.
Om jou omgewing higiënies te hou, moet die plastiek, glas en blik baie mooi skoon gewas word. Dit is nie nodig om ‘n hele klomp ekstra water hiervoor te gebruik nie, ons doen dit gereeld, soos wat die inhoud opgebruik word, met die laaste skottelgoedwater.
Wanneer die vier weke verby is, sit die houers bymekaar neer. Ek onthou hoe ons met verstomming gestaan en kyk het na die volume “weggooigoed” wat ons huishouding reggekry het om eers aan te dra en dan weer van ontslae te probeer raak. Kyk ook nou weer na die volume binne-in jou kombuisdrom. Dit is ál wat na ‘n stortingsterrein toe hoef te gaan!
So het die Heilige Gees ons sensitief gemaak vir die baie groot probleem wat wêreldwyd bestaan en waaraan ons nou kon sien, ons self ook ‘n aandeel het. Ons het besluit om voortaan alles in ons vermoë te doen om die druk op die stortingsterreine te verlig en in die algemeen met minder “stuff”’ klaar te kom.
Ons het deur die jare soveel waardering ontwikkel vir die mense wat van die môre tot die aand met ons weggooigoed werk. Hulle doen dit dikwels met soveel liefde. Ek hoop jy kon al ‘n herwinnaar in jou omgewing leer ken. Ek wil jou ook aanmoedig om met die afvalbestuur-beampte by jou plaaslike munisipaliteit kontak te maak. Dalk is jy verras om daar ook iemand te vind wat toegewyd besig is om die probleem van ‘n oorvol stortingsterrein te bestuur en herwinningsprogramme te loods. Hier by Witzenberg is ons geseënd om sulke mense te hê. Terwyl hulle vir ons help en moed gee om elke dag ons bietjie te doen, gee ons vir hulle moed deur daadwerklik saam met hulle te werk en hulle te waardeer.
Hier is nog ‘n rede waarom dit minder liefdevol is om jou swartsak met al jou weggooigoed in net so buite jou hek neer te sit: By stortingsterreine is daar dikwels mense wat in diens geneem word om herwinbare materiaal te sorteer, juis om die las op die stortingsterrein te verlig. Hulle moet dan deur die swartsakke soek- deur al die vrot kos, glasstukke en ander onnoembare goeters. Dit is tog onnodig aaklig en selfs ‘n gesondheidsrisiko.
Die goue reël: Hoe nader aan die bron (woonhuis/kerk/fabriek) die herwinning begin, hoe meer effektief.
Terwyl jy dophou hoe die houer waarin afvalplastiek gegooi word, voller word en begin oorloop, moet ‘n mens begin planne bedink. In Engels werk dit so goed: “Reduce, re-use, recycle”. Heel eerste moet die hoeveelheid plastiek wat ons in ons huise indra, dringend minder word. Ek gaan sommer net ‘n paar reëls gee wat in ons huishouding geld:
- Ons neem nooit plastiek-inkopiesakke by winkels nie. ‘n Hele versameling herbruikbare sakke van materiaal woon in ons voertuie se kattebakke. Hulle word dadelik daarin teruggesit nadat ons inkopies uitgepak is. As jy per ongeluk dit nie gedoen het nie, touhgies! Dan dra jy maar die artikels in jou arms of in die trollie motor toe en pak dit daarin uit.
- Ons koop artikels eerder in karton- of glashouers as in plastiek. Heelwat vervaardigers probeer gelukkig reeds om hulle verpakkings meer omgewingsvriendelik te maak. Maar wat nou as jou geliefkoosde handelsmerk juis die een in ‘n plastieksak/bottel is? Op daardie verpakking is daar heel moontlik ‘n telefoonnommer en/of e-posadres. Praat met hulle, maak dit duidelik dat jy nie weer hulle produk kan ondersteun nie, al smaak dit die lekkerste, tensy hulle verpakking verbeter.
Volgende keer verder!
Mag jy die gesig van Christus sien in elkeen wat jy ontmoet; mag elkeen wat jou ontmoet Christus se gesig in jou sien. Vrede vir jou.
Estelle
