Wie het gesê herwinning en alles wat daaruit voortvloei is stowwerig, vaal en vervelig? Moenie glo nie! Met elke nuwe plan wat jy prakseer om minder plastiek te gebruik en om artikels wat jy nodig het, te vervang met iets meer organies, vermeerder die sinapse in jou brein en word jy by die dag meer kreatief!
Hier volg nog ‘n paar wenke uit ons huishouding hoe om minder plastiek huis toe te dra:
- Dring daarop aan om self groente en vrugte by die winkel uit te soek en vermy voorafverpakte bakkies en sakkies sover moontlik. Dis in elk geval meestal nie goed vir die vars produkte om so in plastiek te lê nie. Boonop word hierdie bakkies (punnets) net eenmaal gebruik en dan weggegooi, om dan dalk vir die volgende 100 jaar in die see rond te dryf, in visse te beland en uiteindelik vir jou te vergiftig …
- Ek het toerygsakkies van verskillende groottes uit ligte materiaal, soos fyngordyn en ongebleikte linne, gemaak. Hierin pak ons die vars produkte wat ons so self uitsoek. Die assistente wat die weegwerk doen, was aanvanklik baie verwonderd, maar ons verduidelik en hulle werk saam. (Sien die meegaande foto met sakkies koejawels en neute en ook ‘n stukkie gemmer.) As jy bang is die sakkie se gewig gaan ‘n verskil maak, pak die artikels net so op die skaal, weeg en vul dan die sakkie. Hierdie is nog ‘n goeie geleentheid om kontak te maak met mense wat baie met plastiek werk en om ‘n saadjie van beter praktyk te saai. Dieselfde geld vir die persoon by die kasregister vir wie ons die herbruikbare sakke aangee waarvan ek verlede week vertel het.

Herbruikbare sakkies gemaak van ongebleikte linne.
- Praat ook met die eienaar/bestuurder van die winkel hieroor, as jy die geleentheid kry. ‘n Mens hoef nie heeldag te loop en kla nie, wees positief oor al die nuwe en beter moontlikhede wat daar reeds bestaan om kos in iets anders as plastiek te verpak.
- Vervang sintetiese sponsies en waslappies met produkte wat van natuurlike vesel gemaak is, soos sisal of katoen. Maak dit self! Daar is hordes idees op die internet. Ek het al geleer om net vir my soekenjin te vra “How to …?” en siedaar, meer idees en patrone as wat jy kan glo, is tot jou beskikking. Op die foto sien jy ‘n potskuurder van tou gehekel, ‘n “unsponge” om jou skottelgoedsponsie mee te vervang en ‘n stortfloffie van handdoekstof. Hierdie kan alles sonder ‘n slegte gewete in die kombuisdrom weggegooi of selfs by jou eie kompos gevoeg word.

‘n Skuurder gehekel van tou, ‘n stortfloffie en “unsponge”
- Soek oorstokkies en tandeborsels van papier of bamboes en soek ook los tee – onthou jy die plastiek in die teesakkies?
- Dink baie mooi wanneer jy nuwe klere koop. Heelwat van ons klere word van tekstiele of mengsels gemaak waarin daar baie plastiek is. Koop dus waar moontlik natuurlike vesel en dra dit so lank moontlik. As jy dit wil vervang en dit kan nog gebruik word, gee dit vir ‘n tweedehandse winkel of vir iemand wat jy weet nie nuwe klere kan bekostig nie. Wys jou liefde deur nooit stukkende, oes artikels vir ‘n medemens so weg te gee nie. Was en stryk die toppie, werk ‘n knopie aan, stop die gaatjie.
Ek dink nie ons kan in hierdie lewe meer heeltemal sonder plastiek klaarkom nie. Wat ons moet vermy, is enkelgebruikplastiek. Ons koop byvoorbeeld goeie kwaliteit plastiekbakkies, wat vir jare en jare hou. Plastieksakkies word oor en oor gewas. Leeggemaakte houers met deksels wat dig sluit, word gebruik om kos in te vries en hulle kom goed te pas in die werkswinkel waar hulle verskillende groottes spykers, moere en skroewe huisves. Kryte, krale en kaartjiemaak-materiale woon almal by my in plastiekbakkies. Bietjies oorskietverf hou baie goed in eenliter joghurthouers. Voor die plastiek-artikel in die oorvol herwinninghouer gegooi word, dink net nog ‘n keer: Waarvoor kan ek hierdie dalk wéér gebruik? Indien daar geen raad is nie, sit dit in daardie houer met die gebed dat dit verantwoordelik hanteer sal word deur die herwinnaar …
Tot sover, plastiek. Volgende keer gesels ek oor glas, papier en elektroniese afval.
Vrede vir jou
Estelle
estellebotha061@gmail.com
