Die 32ste RCZ Sinodesitting
“Ek is baie hartlik ontvang deur die algemene sekretaris van ons susterskerk in Zimbabwe, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ),” vertel Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Getuienisaksie se Ekumeniese Vennootskappe in Afrika. “Dit was vir my ‘n groot vreugde om te kon deel wees van die sinodesitting.”
Daniël het vanaf 24 tot 28 Augustus die 32ste sinodesitting van die RCZ, bygewoon. Vanjaar het dit plaasgevind by die Chibi Sendingstasie, 75 km suid-wes van Masvingo waar die RZC se sinodale kantoor is. By Chibi is daar ‘n pragtige skool wat ook aan die RCZ behoort en bestuur word, en dis in hierdie skool se skoolsaal waar die sinodesitting plaasgevind het.Die tema van vanjaar se sinodesitting was “Church on the move – preaching the Gospel in season and out of season” met verwysing na 2 Tim 4:2.

V.l.n.r.: Ds Joseph Juma (CAVA), ds Isaac Pandasvika (moderator), dr Daniël de Wet (Getuienisaksie), ds Charles Juro (aktuarius), ds Silas Magwati (assessor), ds Vemore Mashamba en mnr Pikisai Mhizha
Daniël het Getuienisaksie (die VGK Streeksinode Kaapland, die NG Kerk Wes-Kaap en die RCA Wes-Kaap) daar verteenwoordig en het ook die geleentheid gekry om ‘n groeteboodskap oor te dra; iets wat altyd besonder baie deur ons medegelowiges in Zimbabwe waardeer word.
Tydens die sinodesitting is daar baie op hul werksaamhede, roeping en veral hulle geweldige uitdagings op ekonomiese terrein in hierdie tyd gefokus. “Te midde van dit alles gaan dit eintlik goed met die RCZ,” vertel Daniël. “Hulle het ‘n positiewe uitkyk op die bediening en hul rol en roeping.”
Na afloop van die sinodesitting op pad terug na Harare, het Daniël ook die Rock Haven kampterrein besoek waar hy deur ds Pattison Chirongo van die CCAP Harare Sinode ontvang is. Hierdie kampterrein word aan groepe uitverhuur, maar daar vind ook opleiding plaas van teologie-studente. Dit is ook waar die CCAP Harare Sinode hul sinodesittings hou.

Ds Pattison Chirongo, Rock Haven en Daniël de Wet
Ds Chirongo het ‘n uitnodiging aan ons gerig dat as daar teoloë hier in die Wes-Kaap is wat as vrywilligers op korttermyn vir hul studente daar wil kom klasgee, is hulle baie welkom – al is dit net vir ‘n week of ‘n maand. Kontak gerus vir Daniël by mission@kaapkerk.co.za as jy belangstel en meer hiervan wil weet.
