Dankie tog, net toe ons begin dink die rekenaar het niks gedoen om ons papierverbruik te verminder nie, omdat ons alle dokumente steeds in duplikaat moes druk en bewaar, het die groter toeganklikheid tot die internet dit tog reggekry. Deesdae ontvang ons rekeninge en notules op ons selfone en selfs ouditeure is bereid om te werk met boekhouding en verslae wat per e-pos na hulle toe gestuur word.
Soos dit afgetredenes betaam, is ons egter min of meer deurlopend besig om ou lêers te sorteer en mens, dáár is nou vir jou papiere! Gedagtig daaraan dat papier bome kos, maak ons só:
Ons gooi nooit papiere uit waarvan die een kant ongebruik is nie. Daardie ou pakke A4-papiere vol verslae en notules van vergete vergaderings se skoon kante word óf vir noodsaaklike drukwerk by die rekenaar gebruik óf in kwarte of derdes gesny en aan die een kant vasgelym om notaboekies te maak. Met ‘n magneet agterop vasgegom, kom so ‘n boekie ook teen die yskas vas vir onthou-lysies. Ons koop glad nie meer papier nie. As dit nie jou styl is nie, sal ‘n kleuterskool in jou omgewing dalk baie dankbaar wees vir sulke papier vir die kleintjies om op te teken. “Wit papier”, soos hierdie soort papier bekend staan, word graag by herwinnaars ingeneem, maar dit moet skoon en droog wees.
Ons lees meestal ons nuus op die internet, maar as ons ou koerante het, word dit saam met kartonverpakking in die wurmplase en komposhoop gebruik. Verder pak ons dit in ‘n dik laag rondom bome se stamme en gooi molm bo-oor, dit beheer onkruid, hou die wortels koel in die somer en warm in die winter en so word dit mettertyd weer deel van die grond.
‘n Mens kan sonder heelwat van die tradisionele papierprodukte wat winkels aanhou, klaarkom. Rolle geskenkpapier kan vervang word met geskenksakkies wat oor en oor gebruik kan word. Lapservette kan papierservette vervang by formele geleenthede. Vir ‘n gesinsete sit ons ‘n jammerlappie in ‘n mooi glasbakkie op die tafel.
Dink ook baie mooi voordat jy iets laat lamineer – deur die papier met plastiek te bedek, maak jy dit eintlik tot ‘n onoplosbare omgewingsrisiko.
Glas word baie suksesvol herwin. Dis ook maklik om oor en oor te gebruik, omdat ‘n mens dit so lekker silwerskoon kan was. Probeer dit dus hergebruik. As jy nie self konfyt kook of perskes inmaak of olywe bottel of jou eie kruie droog en bêre nie, soek iemand wat dit wel doen. Hulle sal so dankbaar wees; glasbotteltjies is duur om te koop. Onthou, ‘n mens kan nuwe metaal skroefdeksels koop, dit maak dus nie saak as die deksels skade gekry het nie.
Elektroniese afval (e-waste/e-afval) is enigiets wat met batterye of elektrisiteit werk wat die einde van hulle leeftyd bereik het. Dit sou dus batterye insluit, sowel as ou gloeilampe, rekenaartoerusting, selfone, kameras en enige grootte huishoudelike toestelle, van televisies tot yskaste tot broodroosters. Daar is twee hoofredes waarom hierdie items onder geen omstandighede op ‘n stortingsterrein moet beland nie:
- Hulle bevat waardevolle materiale soos goud, silwer, koper en platinum wat, as die toestelle behoorlik uitmekaar gehaal word, weer gebruik kan word en so verhoed dat nuwe metale uit die aarde gemyn hoef te word.
- Hulle bevat ook uiters gevaarlike, giftige materiale soos lood, CFK’s (chloorfluorkoolstof), kwik en arseen, wat nie in ons grond of grondwater moet kom nie.
Ons protokol bly maar dieselfde. Ons dink drie maal en nog ‘n keer voor ons ‘n nuwe elektroniese toestel aankoop. Dit sluit die jongste selfoon in, as die oue nog bruikbaar is. As iets net effentjies stukkend is, probeer ons dit self regmaak of gee dit vir iemand anders wat dalk nuwe lewe daarin kan blaas. As daar geen ander opsie is nie, word dit as elektroniese afval eenkant gehou en afgegee by instansies wat dit op ‘n omgewingsverantwoordelike manier kan hanteer. Kyk by eWASA (Electronic Waste Association of South Africa) vir meer hieroor.
Volgende keer kuier ons vir oulaas rondom die vraag, “Wat gooi ons in ons dreine af?”
Gaan sit intussen by ‘n boom naby jou. Laat toe dat sy/haar stilte en geankerdheid na jou toe kom en jou VREDE gee.
Estelle Botha
estellebotha061@gmail.com
