Mense wat in dorpe woon, is bederf met ‘n afvoerstelsel vir afvalwater wat tot by die dorp se rioolaanleg strek, maar hier by ons is nie so iets nie, net ‘n pomp wat lieflike vars en skoon water uit die boorgat haal vir ons om te gebruik. Dan is dit óns verantwoordelikheid om te sorg dat hierdie gebruikte water êrens te lande en ten goede kom. Dit wat jy in ‘n drein afspoel, net soos in die geval van die plastiek in die kombuisdrom, gaan nie weg nie!

Die swartwater  – wat uit die toilette kom – word organies hanteer deur ‘n vrotkelder (septic tank) en stapelriool (French drain), wat sy eie stel reëls het om te verseker dat die natuurlike organismes wat die afbreekwerk daar moet doen, gesond bly. Dit sluit in dat geen vreemde substansies daarin hoort nie. Al die gryswater by ons huis loop in die tuin uit, ‘n broodnodige stelsel wat verseker dat elke druppel water ten minste twee maal gebruik word. Ons kan dus nie bekostig om enige-iets wat ons grond of olyfbome of enige-iets anders in ons tuin kan benadeel in die gryswater te laat beland nie.

Weer moes ons mooi dink: Wat dra ons by ons huis in wat later baie moeilik is om van ontslae te raak? Gifstowwe? Verf? Medisyne? Wat is alles in die seep en ander skoonmaakmiddels en skoonheidsmiddels wat ons gebruik?

Ons koop die absolute minimum gifstowwe en gebruik dit dan presies soos dit voorgeskryf word. Dit is die enigste manier om te verseker dat die gif veilig afbreek. Neem ou medisyne na jou apteker toe en vra raad. Gelukkig verskaf baie maatskappye nou al loodvrye verf en eko-vriendelike skoonmaakprodukte. Lees etikette  en koop die veilige soort, al kos dit effe duurder.

Miskien wonder jy nou, jy het gelukkig tog wel ‘n munisipale afvoerstelsel vir alle soort gebruikte waters, hoekom moet jy jou bekommer oor wat alles daarin is? Die waarheid is dat, hoewel baie toetse gedoen word en die standaarde vir menslike drinkwater hoog is, daar glad nie vir alles wat in die water kan beland, getoets word nie. Verder word die kwaliteit van besproeiingswater (waarmee jou groente gekweek word), water wat diere drink (die steak op jou bord?), die water waaruit ons visvang en die water waarop ons roei, nog minder beheer.

Ons  plaaslike rioolaanlegte kan nie verbindings soos die afbreekprodukte van sekere plaagdoders, industriële besoedelstowwe, farmaseutiese-, skoonheids- en persoonlike higiëne-produkte, soos reukweerders, uit die water haal nie. Om die waarheid te sê, is hulle nog nie eers seker watter skade al hierdie goed, veral as dit saamgemeng word, aan mens, dier en plant kan doen nie. Daar bestaan wel al navorsing wat bewys dat sekere stowwe, soos parabens wat onder andere in velrome voorkom, hormone naboots. Dit word hormoonontwrigters genoem, omdat die liggaam wat dit inkry, daarop reageer asof dit die ware Jakob is. Met rampspoedige gevolge vir die voortplantingsiklus en uiteindelik selfs voortbestaan van plante en diere ver stroomaf van ons. Luister asseblief na RSG Potgooi, die program Brekfis met Derrich, insetsel Omgewingspraatjie van 27 Augustus en 3 September vir meer hieroor.

So stap ons dan die pad, soms dapper, soms dom en onseker, altyd in die geselskap van die Liefde.

In afhanklikheid van die God van Lewe

mag ons die kosbare aarde koester:

die aarde van die Vader van die Lewe,

die aarde van die Seun van die Liefde,

die aarde van die Gees wat Heilig maak.

 

In afhanklikheid van die God van Lewe

Mag ons lewens vandag geseënd wees:

die seën van die Vader van die Lewe,

die seën van die Seun van die Liefde,

die seën van die Gees wat Heilig maak.

 

Vrede vir jou

Estelle