Van die NGK Strand-lidmate

“Internasionale Kusskoonmaakdag was vanjaar ‘n wonderlike belewenis van samesyn tussen lidmate van ons NG Kerk Gordonsbaai, die jeug van die VGK Strand en ‘n paar 7’s-rugbyspelers wat ook sommer ingespring het om te help opruik!”

So vertel Eric Brits van Gordonsbaai-gemeente, ouderling met opdrag Gebedsbediening. Hierdie bediening streef daarna dat alles wat hulle aanpak spesifiek van en deur gebed geïnisieer en uitgevoer moet word. “Hierdie skoonmaakaksie het voortgespruit uit ons Dinsdagbyeenkomste waar ons saam met ons leraars die teks van die komende Sondag oordink en met mekaar deel wat ons hoor,” verduidelik Eric. “Gehoorsaamheid aan dit wat ons hoor, is belangrik. Ons het saam met ons predikante die idee gekry om elke kerklike seisoen met ‘n gebedsdiens in te lei, wat ook met die Seisoen van Skepping toegepas is.

VGK Strand Brigade

“Uit hierdie gesprekke het daar toe die idee van praktiese aksies wat ons in September wil doen, voortgevloei. Met die oog op Internasionale Kusskoonmaakdag is daar toe ‘n uitnodiging gerig na al ons lidmate, asook na diegene van die VGK Strand wat op ons gebedsgroep is, om almal skouer aan die wiel te kom help sit en saam te kom help om die kus van Gordonsbaai te kom help skoonmaak.

“‘n Hele paar mense van beide ons kerk en die VGK Strand het daarop gereageer. Dit was ‘n wonderlike samesyn,” vertel Eric. “Vanaf die VGK Strand het hulle hul jongmense van hul Brigade, ‘n Christelike klub vir die VGK jeug, saamgebring wat ‘n wonderlike gees geskep het.

“Hierdie samesyn en vrolike groep het weer ‘n groep 7’s rugby-spelers op die strand gemotiveer om ook sommer in te spring. Die wedstryd is summier gestaak en daar is eers gehelp strand skoonmaak!

Die span 7’s-rugby

“Ons het egter besef dat so ‘n eenmalige gebeurtenis nie regtig ‘n verskil kan maak nie en dat ons dit by almal wil tuisbring dat dit ‘n lewenstyl moet word. Hou byvoorbeeld altyd ‘n opruimsakkie by jou byderhand sodat jy rommel kan optel; as jy strand toe gaan, maak rondom jou vyf tot tien meter skoon. As jy weer die strand verlaat, sorg dat daar waar jy ontspan het, die strand weer skoon is. Op hierdie manier moedig ons mekaar aan om dit ‘n lewenstyl te maak en beter na die skepping om te sien.”

Kontak Dewald Hoffmann by ds.dewaldh@gmail.com vir meer inligting.