Deel van ds Stephen Pedro, bestuurder van Gemeentegetuienis, se fokusse is om ringe met hul programme en prosesse te ondersteun, hulle aangaande sinodale besluite en prioriteite in te lig en geleenthede vir samewerking tussen die sinodale bedieninge en ringe te fasiliteer, te identifiseer en te ondersteun.
Vanaf 18 tot 19 September het Stephen die Wesland Verenigende Ring (WVR) vir hierdie doel op Vredenburg besoek. Die WVR is ‘n gesamentlike ring van die VGK- en NG Kerk-ringe in die Weskus en Swartland wat gestig is op 14 Mei 2003.
“Wat vir my uitgestaan het, was die gemeentes se meelewing van mekaar se dienswerk en stories, asook die vrug van jarelange verhoudingsbou, saamreis en om mekaar te bly vashou, ‘… al het dit ook soms moeilik gegaan …’ soos een kollega gedurende die teebreek met my gedeel het,” vertel Stephen.
“Wat vir my verder uitgestaan het, was die bevestiging van die geskenk wat ons het in kerkverband en hoe ons as ringe en sinodes ons predikante en gemeentes kan ondersteun om uitdagings, soos die COVID-pandemie, te oorkom en gesonde, florerende missionale gemeentes te wees.”
Vier geleenthede ten opsigte van samewerking wat tydens hierdie geleentheid uitgelig is, was:
- Die missionale transformasie van gemeentes;
- Gemeentes met “vakante” leraarsposte;
- Die Tussenorde en eenheidsprosesse tussen gemeentes;
- Contextual Bible Reading (CBR) en Boys2Men-kampe (B2M) om ons jongmense te bemagtig.
Kontak Stephen Pedro by stephen@kaapkerk.co.za vir meer inligting