Maryke as skoolkind tydens ‘n Msinga-uitreik

 

“Baie dankie, Here, vir Maryke van Niekerk. Ons loof en prys u naam!” So getuig ds Samuel Zuma, predikant van Msinga in KwaZulu-Natal, oor die lewe van Maryke wat in Desember verlede jaar skielik oorlede is. Sy was predikant van die NG Kerk Calvinia.

Ds Zuma het haar al as kind leer ken toe sy gereeld met die jaarlikse Bredasdorp-uitreike vanaf 2007 tot 2012 na Nhlalakahle-gemeente, Msinga is. “Sy was nog op skool en besig met ons kinderbediening toe die Here haar in 2011 as predikant geroep het. Sy het ons kinders na Jesus Christus gelei. Haar lewe was te kort, maar ons dank die Here vir ons geliefde Maryke.”

Tydens die Msinga-uitreike was hutbesoeke vir Maryke ‘n passie. Die toordokter, Josef, se bekering het ‘n groot invloed op haar lewe en roeping gehad. Sy het ‘n groot uitreikhart in Msinga ontwikkel en was bevoorreg om saam met ds Braam Coetzee, wat ‘n groot rol in haar lewe gespeel het, op die uitreike te wees.

Ds Braam Coetzee van Bredasdorp vertel: “Die verhoudings wat Maryke daar in Msinga gebou het, het ‘n ongelooflike verandering in haar lewe gebring. Die Here stuur ons soms op ‘n uitreik om vir ons ‘n hart te gee vir sy koninkryk sodat ons in ons eie gemeenskappe ‘n verskil kan kom maak. Maryke se bediening het haar ook so verander dat sy ‘n verskil in die gemeenskap van Calvinia gemaak het waarvan mense nou nog praat.

“Dis belangrik dat elke gemeente blootgestel word aan ‘n uitreik en aan ander kulture en ‘n ander gesigkant van God kan sien, sodat jy God met oorgawe kan dien. Met die eenheidspad wat ons hier op Bredasdorp gestap het, was ons uitreike die brug wat dit moontlik help maak het. Ons uitreike het mense se harte verander sodat ons EEN kon wees.”

Kontak ds Lourens Schoeman by lourens@ethembeni.org vir meer inligting.