Die NetACT-groep en lede van die Barnabas Aid by die Universiteit van Pretoria

Vanaf 26 tot 30 September het NetAct by die Emseni Christian Centre in Johannesburg vergader. NetACT staan vir die Network for African Congregational Theology, ‘n netwerk van 54 teologiese instellings  in die presbiteriaanse en gereformeerde tradisie in Sub-Sahara Afrika.

Dr Nico Mostert, uitvoerende direkteur van NetAct, vertel: “Die eerste twee dae het NetACT ‘n gesamentlike vergadering met die Barnabas Aid, voorheen bekend as die Barnabas Fund, gehad. Gedurende die eerste gedeel van die week is strategies gekyk na wat in Afrika gebeur; watter faktore op Afrika se politiek, ekonomie en samelewings inspeel.

“Tydens die tweede gedeelte van die NetACT-byeenkoms is die Institute for Islamic Studies and Leadership in Africa by die Universiteit van Pretoria geloods. Prof. Maniraj Sukdaven sal daar die leiding neem. Hierdie instituut val onder die Departement Godsdiensstudies en sal in samewerking met Barnabas Aid bedryf word.

“Die laaste twee dae is op die NetAct-agenda spandeer en het meestal gegaan oor die praktiese organisering van NetAct en die pad vorentoe. Almal se finansies en kapasiteit is reeds baie beperk en verder beïnvloed deur COVID-19. Daar is ook besin oor wat gedurende die pandemie gebeur het. Alle teologiese skole is swaar hierdeur getref,  dermate dat heelwat lede nie hierdie NetACT-vergadering kon bywoon nie.”

Mostert vertel verder: “Tweedens is daar ook besin oor waar teologiese opleiding homself tans bevind en hoe ons daarna moet kyk, veral ten opsigte van kurrikulum-ontwikkeling en informasie-tegnologie (IT) wat ‘n groot aspek van die NetACT-aanbieding behels. Wat van groot hulp gaan wees, is die twee opnames wat deur middel van selfevalueringsvraelyste by die 54 teologiese skole gemaak gaan word – een oor kurrikulum en een oor IT.

“Ten opsigte van die kurrikulum, is dit veral van belang om te bepaal hoe geïntegreerd die kurrikullum ten opsigte van die verstand, hart en hande is. Dis ‘n nuwe kopskuif wat nou gemaak word ten opsigte van nuwe teologiese opleiding.”

Ten opsigte van IT gaan die tweede vraelys ‘n behoeftebepaling hieroor doen. Mostert verduidelik: “Aanlyn-opleiding en internettoegang (waar baie meer bronne beskikbaar is as wat hul beperkte biblioteke tans het) sal van groot waarde wees as hulle effektiewe internetkonneksies kan hê.

“Ons behoort teen einde-April volgende jaar ‘n goeie idee te kry van hoe die kurrikulums en IT-behoeftes van hierdie teologiese skole lyk. Daar sal dan ook gekyk word na wat ons verder kan doen om hulle ook daarmee te help.”

Die waarde van teologiese opleiding is ook bespreek. Mostert vertel: “Een van NetACT se waardetoevoegings tot teologie in Afrika was die publisering van die boek, African Public Theology. Dis twee jaar gelede gepubliseer; 28 skrywers uit Afrika het aan hierdie boek meegewerk. Die waardetoevoeging van hierdie boek is juis om te pleit vir ‘n ander Afrika. Die African Union het al so tien jaar gelede fokusdoelwitte rondom 2063 bepaal.  NetACT het gaan kyk na dié doelwitte en na hoe ons netwerk-instellings daarby kan inskakel, met ander woorde, hoe daar saamgewerk kan word om ‘n ander, beter Afrika te help skep. Ons is almal bekommerd oor die tendense wat in Afrika hoogty vier, soos korrupsie, nepotisme, die uitbuiting van mense, die vergrype aan bronne deur ander kontinente.

“So, die vraag is hoe onderrig in ons teologiese skole kan meewerk om die kerk sodanig te help verander dat daar ‘n beter Afrika kan ontwikkel – waar almal in vrye, geweldlose en korrupsievrye samelewings tot hul volste reg kan kom.”