Verlang jy na healing and wholeness vir hierdie wêreld? Dan sal die eko-teoloog, Ilia Delio, se teologie en werk deur die Center for Christogenesis vir jou baie rede tot hoop gee. Haar teologie is deur en deur positiewe ekoteologie – diep geanker in die wetenskap én die teologie. Hier skryf ons eko-korrespondent, David Botha, oor haar en belig die drie aspekte wat van haar ‘n ekoteoloog maak: sy is ‘n Fransiskaan; sy is beide wetenskaplike én teoloog; sy is ‘n volgeling van Pierre Teilhard de Chardin.

Drie dinge maak van Ilia Delio ‘n ekoteoloog: Sy is ‘n Fransiskaan, sy is beide wetenskaplike en teoloog en sy is ‘n volgeling van Pierre Teilhard de Chardin, ’n Franse Jesuïete priester, wetenskaplike, paleontoloog, teoloog, filosoof en onderwyser. Voordat ons na hierdie drie kenmerke van haar teologie kyk, net eers ‘n bietjie biografiese inligting oor haar.

Sy het haar naskoolse opleiding in die mediese wetenskap gehad. Sy voltooi haar doktorsgraad in farmakologie en spesialiseer in die veld van neurotoksologie. ‘n Baie belowende akademiese loopbaan wag vir haar.

Na die lees van Thomas Merton se outobiografie, The seven story mountain, besluit sy egter om die akademie te verlaat en deel te word van die lewe in ‘n klooster. Sy sluit aanvanklik aan by die Karmeliete orde, maar vind uiteindelik haar tuiste by die Fransiskane. Sy word aangemoedig om ook in die teologie te studeer en sy voltooi dan ook ‘n doktorsgraad in die teologie.

Gedurende haar teologiese studies maak sy kennis met die invloedryke figure in die hervormingsbeweging van die Karmeliete, o.a. Teréze van Avila en Johannes van die Kruis en word diep deur hulle beïnvloed. Sy word ook ‘n kundige van die teologieë van Augustinus en die groot teoloog van die Fransiskane, Bonaventure. Die persoon wat egter die grootste invloed op haar sou hê, is die bekende paleontoloog, Pierre Teilhard de Chardin, wat ‘n lid van die Jesuïetiese orde in Frankryk was.

Ilia Delio is ‘n ekoteoloog, omdat sy ‘n Franciskaan is.

Die Fransiskaanse teologie is hart en siel ekologies. Een van Delio se bekroonde werke is haar en twee medewerkers se publikasie: Care for Creation, a fransiscan spirituality of the earth, uitgegee op 26 Februarie 2008 deur Fransiscan Media, Cincinnati, Ohio. Die Fransiskaanse spiritualiteit is ‘n spiritualiteit van die aarde. In hierdie boek leer ‘n mens die lewe van Fransiskus van Assisi ken, asook die teologiese onderbou van sy lewe wat deur die twee groot Fransiskaanse teoloë, Bonaventure en John Duns Scotus ontwikkel is. Dit is ‘n boek wat nie net insig gee in die Fransiskaanse teologie nie, maar ook praktiese antwoorde gee oor wat dit beteken om in die lig van die ekologiese krisisse van ons dag Fransiskaans te lewe en sodoende hoop te bring in ‘n wêreld vol wanhoop en moedeloosheid. Ons as Gereformeerdes kan en behoort by hierdie ou tradisie in die kerk te leer. Hierdie boek gee ‘n goeie blootstelling aan die Fransiskaanse teologie en spiritualiteit.

Ilia Delio is ‘n ekoteoloog omdat sy beide wetenskaplike én teoloog is

Daar brand in haar ‘n liefde vir beide die wetenskap en die teologie. Sy het ‘n passie om met haar bydrae heling te bring tussen die wetenskap en teologie. Volgens haar is die wetenskap en teologie die twee pilare waarop die samelewing gebou is. Sonder die teologie is die wetenskap lam en sonder die wetenskap is die teologie blind. Haar belangstelling in die mediese wetenskap in besonder brand steeds sterk. Sy is ook goed op hoogte met die kosmologie en ruimte-fisika. Alhoewel sy die gevare van die tegnologiese ontwikkelinge insien en uitwys, is sy nie negatief daaroor nie. Vir haar is dit deel van die ontwikkeling van die menslike spesie. Sy is oortuig daarvan dat die Here haar geroep het om op die oomblik vanuit die teologie haar bydrae te maak. Sy getuig dat sy egter heeltemal gewillig sal wees om ook haar bydrae vanuit die wetenskap te maak as die Here haar daarheen sou terugroep. Die agterdog en skeptisisme wat dikwels teoloë se verhouding met die wetenskap kenmerk, is by haar volledig afwesig. As teoloog is sy egter ook goed onderlê in die teologie van die middeleeue. Sy bring dus in haar teologie die oue en die nuwe bymekaar en herstel die band tussen wetenskap en teologie wat so tragies byna tot niet gegaan het. Sy droom en werk vir ‘n tyd “when science and religion are in love with each other”.

Ilia Delio is ‘n ekoteoloog omdat sy ‘n navolger van Pierre Teilhard de Chardin is

‘n Mens sou kon sê dat sy in Teilhard ‘n vriend en mentor gevind het. In die persoon van Teilhard de Chardin het sy iemand ontmoet wat volgens haar dieselfde soort lewe as Fransiskus geleef het. Om haar te help om sy oortuigings die wêreld in te dra, het sy die Center for Christogenesis gestig. Sy stel egter nie net daarmee vir Teilhard aan die woord nie, maar probeer ook om sy teologie en oortuigings verder uit te bou en te ontwikkel. Saam met Teilhard de Chardin aanvaar sy dat evolusie die realiteit van die lewe is. Dit is nie ‘n teorie nie, dit is die werklikheid, sê sy. Alle vorme van lewe het ‘n ontwikkelingsgeskiedenis. Volgens haar is dit ook waar van God. Ook God is steeds besig om te ontwikkel. God is nie staties nie, maar dinamies. Hierdie dinamiek is ingebou in die skepping. Die hele kosmos is op die pad van evolusie. Die mens as denkende wese is op die voorpunt van die geskiedenis van evolusie op die aarde. Mense is nie net die produk van evolusie nie, maar ook bydraers tot die proses van evolusie. Ons bydrae is bepalend vir die verdere ontvouing daarvan.

In die werk van die Center for Christogenesis fokus Delio en haar span op ‘n paar kernaspekte van Teilhard de Chardin se teologie. Die eerste vind uitdrukking in die term, Christogenesis. Dit is ‘n samevoeging van die woorde Christus + genesis. Delio verduidelik dat dit dui op die geboorte van Christus. Christus is nie eenmalig in die krip by Bethlehem gebore nie. “The whole creation is the body of Christ in formation”, sê sy. Teilhard (en die Fransiskane) se teologie is ‘n teologie van die inkarnasie – God se materialisering – nie net in die persoon van Jesus van Nasaret nie, maar in alle materie. Ons kry dus in alle materie met Christus se voortgaande wording te doen. En ons wat dissipels van Jesus Christus is, is self dan ook uitdrukking van sy voortgaande wording. Hierdie wording het ‘n doel en uiteinde.

En dit is die tweede aspek van Teilhard se teologie wat die sentrum beklemtoon: evolusie, wat die voortgaande geboorte en wording van Christus is, fokus op die Omega-punt in die geskiedenis. Christus is nie net die Alfa nie, maar ook die Omega. Christus is die kulminasie van die geskiedenis – die plek van voltooiing en vervulling. Christus se voltooiing is terselfdertyd die voltooiing van die ganse skepping. En Omega is die moment in die geskiedenis wanneer die Liefde alles en in almal is.

En dit is die derde aspek van Teilhard se teologie wat die sentrum beklemtoon: Die energie wat dwarsdeur die skepping (kosmos) voorkom en die proses van evolusie dryf, is die Liefde – God Self. Die geskiedenis van die heelal en elke deeltjie daarvan word bepaal deur die Liefde. Dit sal dan ook die Liefde wees wat die geskiedenis sal stuur en bring tot by die Omega-era. Dit is die era van eenwording en universele heelheid.

Verlang jy na “healing and wholeness” vir hierdie wêreld? Dan sal Ilia Delio se teologie en werk deur die Center for Christogenesis vir jou baie rede tot hoop gee. Haar teologie is deur en deur positiewe ekoteologie – diep geanker in die wetenskap én die teologie.

Vrede vir jou en jou omgewing.

david p botha
dpbotha2@gmail.com