V.l.n.r. agter: Dr Gustav Claassen (NG Kerk SA), dr André Bartlett (NG Kerk SA), ds Willem-Henri den Hartog (GZB – Nederland), ds Thijs Blok (Justo Mwale University Lusaka – Zambië), dr Luka Ariko (RCEA – Kenia), dr Daniël de Wet (Getuienisaksie – Kaapstreek), ds Juppi Steurer (Verteenwoordiger van Vennote in Getuienis NG Kerk Vrystaat). Middelste ry: dr Gideon van der Watt (CLF), dr Arnau van Wyngaard (SRC – Swaziland), dr William Zulu (RCZ – Zambië), ds Vasco Kachipapa (CCAP – Malawi), ds Samuel Besitala (IRM Mphatso Sinode – Mosambiek), ds Ivan Akash Sirpal (RCA – SA), dr Nico Mostert (Vennote in Getuienis NG Kerk Vrystaat). Voorste ry: Mariëtte Odendaal (Kommunikasie: Getuienisaksie Kaapstreek), ds Joao Herbarth (IRM Tumbine Sinode Mosambiek), me Letjani Moatshe (DRCB – Botswana), ds Kingstar Chipata (CCAP Harare Sinode – Zimbabwe), ds Tafadzwa Masimba (RCZ -Zimbabwe), ds Charlotte Sibanyoni (NG Kerk Universiteitsoord – SA) en me Desiree Brown (VGKSA)

 

“No Youth no future – a critical reflection on our future” was die tema van vanjaar se Reformed Family Forum se algemene jaarvergadering wat vanjaar vanaf 13 tot 16 Oktober by die eMseni Konferensiesentrum te Benoni, Johannesburg plaasgevind het. Die Algemene Jaarvergadering bied nie net die geleentheid om ons Gereformeerde bande in Afrika jaarliks te verstewig nie, maar gee ook aan hierdie kerkleiers die ruimte om indringende gesprekke oor aktuele sake te voer. Vanjaar was dit weer eens die geval en is daar baie sinvolle gesprekke oor veral die jeug gevoer.

Dié besondere algemene jaarvergadering is deur afgevaardigdes van 14 van die 16 lidkerke, asook deur enkele gaste bygewoon, waarvan onder andere ds Willem-Henri den Hartog van die Gereformeerde Zendingbond (GZB) en ds Thijs Blok van Kerk in Actie en dosent by Justo Mwale Lusaka, Zambië.

Die Reformed Family Forum bestaan uit verteenwoordigers (gewoonlik die algemene sekretarisse) van al die kerke wat sedert die laat 1800’s en daarna uit die sendingaksies van die NG Kerk ontstaan het. Die Forum vergader jaarliks sedert 2015 en enkele ander Gereformeerde kerke het intussen ook by hierdie groep aangesluit.

Die Algemene Jaarvergadering bied nie net die geleentheid om ons Gereformeerde bande in Afrika jaarliks te verstewig nie, maar gee ook aan hierdie kerkleiers die ruimte om indringende gesprekke oor aktuele sake te voer. Vanjaar was dit weer eens die geval en is daar baie sinvolle gesprekke oor veral die jeug gevoer. Daar is gesels oor hoe ons as kerke die jeug kan bystaan en begelei ten opsigte van hul behoeftes; ook hoe ons op ‘n sinvolle manier by hulle kan leer en van hul insigte en talente gebruik kan maak. In hierdie opsig het ons gasspreker van Vrydag, ds Charlotte Sibanyoni (NG Kerk-leraar Universiteitsoord), ‘n besondere bydrae gelewer. Haar insigte en inisiatiewe oor hoe om Christus by die jeug sigbaar te help maak, was verhelderend en inspirerend.

 

Dr Gustav Claassen en ds Charlotte Sibanyoni. Charlotte was ‘n student van Gustav.

Die boek, A Family of Reformed Churches in Africa – Remarkable stories of God’s grace se tweede uitgawe is ook tydens hierdie byeenkoms bekendgestel. Nadat ‘n paneelbespreking, gelei deur dr Daniël de Wet (Getuienisaksie Kaapstreek) en dr Nico Mostert (Vennote in Getuienis NG Kerk Vrystaat), oor die boek met die skrywers daarvan, dr Gideon van der Watt en Mariëtte Odendaal, gevoer is, het elkeen teenwoordig ‘n eksemplaar daarvan ontvang.

Daar is ook baie goeie terugvoer gegee deur RFF-lede wat die Wêreldraad van Kerke vanjaar in Karlsruhe, Duitsland bygewoon het. Die tema was vanjaar “Christ’s love moves the world to reconciliation and unity” – ‘n tema wat deur almal wat daar was baie diep getref het, omdat hulle dit ook daar op ‘n baie verrykende manier ervaar het.

Daar is ook ‘n breedvoerige aanbieding gedoen oor teologiese opleiding deur dr Nico Mostert – die jongste ekumeniese tendense, finansiële uitdagings, toegang tot bronne, paradigmaskuiwe ten opsigte van kurrikulum-ontwikkeling, ensovoorts is bespreek – iets wat almal teenwoordig baie sinvol en van groot waarde vir hul eie omstandighede gevind het.

Die program is Sondag afgesluit deur ‘n nagmaaldiens, gelei deur dr William Zulu van die RCZ  Zambië. Dit was ‘n besondere ervaring om so as een groot familie van gereformeerde gelowiges in Afrika, saam die tekens van die brood en wyn as simbole van Christus se liggaam wat vir ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het, hierdie besondere sakrament te kon gebruik.

Tydens ons konferensie is daar ook groeteboodskappe oorgedra deur prof. L Modise, moderator van die VGKSA en dr André Bartlett, moderator van die NG Kerk Hoëveld Sinode.

Dr Nico Mostert bedien dr William Zulu met die Nagmaal.