Toe die tyding van Deon se heengaan ons bereik, was die eerste woorde wat in my hart opgekom het, die woorde van die Psalmlied: Prys die Heer met blye galme … Want oor Deon se lewe en werk en oor die mens wat hy was, kan mens nie anders nie, daar is soveel stof tot dankbaarheid.
Deon is in 1934 op Nkhoma in Malawi gebore as kind van dr Renaldo Retief, ‘n mediese sendingdokter wat onder andere die grondslag vir optalmologiese werk aldaar gelê het – ‘n werk wat later deur onder andere wyle dr Chris Blignaut uitgebou is tot een van die beste ooghospitale in Midde-Afrika. Daar was Deon al saam op skool met sy toekomstige lewensmaat, Ester, die dogter van oom Hoffie Theron, sendinglandbouer op Nkhoma.
Na sy ouers Nkhoma verlaat het, was Deon twee jaar op Laerskool Paul Roos in Stellenbosch en voltooi sy matriek op Hoër Seunskool Paul Roos. Hy studeer vir twee jaar aan die Universiteit van Kaapstad en daarna buitemuurs aan Tukkies waar hy sowel ‘n B-Graad asook ‘n HOD verwerf. Daarna werk hy vir twee jaar in die staatsdiens.
In 1955 onderneem hy en twee vriende ‘n epiese reistog tot diep in Sentraal-Afrika om onder andere Kilimanjaro te gaan klim. Hulle vervoermiddel? Aldrie saam op ‘n Harley Davidson met ‘n syspan! Hulle besoek ook Nkhoma. En dit was daar, op die vraag van ‘n sendingdame, “en wanneer kom jy terug Malawi toe?” dat hy sy sendingroeping ontvang het.
So breek hulle lewenstaak aan en hy en Ester keer in 1958 terug na hulle geboorteland waar albei poste kry op Nkhoma. Hulle is twee jaar later getroud. Uit die huwelik is vyf kinders gebore en daar is reeds 11 kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Vir 12 jaar werk hulle op Nkhoma. Toe daar op Kongwe-stasie onluste by die hoërskool vir seuns uitbreek, stuur die CCAP Nkhoma Sinode (die kerk wat uit die sending van die NG Kerk ontstaan het) hom soontoe met die vertroue dat hy die regte persoon was om rus en orde te herstel. Daar werk hulle vir 17 jaar.
Daarna word hulle gevra om ‘n nuwe hoërskool vir dogters op ‘n ander stasie, Mlanda te begin. Met groot vrug en seën wy hulle hulle vir die volgende 10 jaar aan die taak van die opheffing van die vrou, iets wat inderdaad nodig was.
Vir die laaste twee jaar van hulle bediening in Malawi bestuur hulle die “Lay Training Centre” op Chongoni. Uiteindelik, in 1999, op bykans 66-jarige ouderdom, breek die tyd vir aftrede aan en verlaat hulle die land met swaar harte. Daana vestig hulle hulle in Durbanville.
Dit was my (en later my vrou, Ilse) se voorreg om hulle ook goed te kon leer ken – ek en hy was reeds rondom 1960 saam op ‘n studentekamp naby Pretoria – en later was ons vir sewe jaar saam op Nkhoma. Saam het ons twee o.a. selfs vir Lilongwe se rugbyklub gespeel en het hy as slot indrukwekkende hoogtes kon bereik om te sorg dat ek as skrumskakel gereeld die bal uit lynstane kry!
Want Deon wás groot – nie net groot van statuur nie (op ‘n dag moes hy ‘n nota uitskryf en terwyl hy langs ons VW Kombi staan, doen hy dit sommer ewe gemaklik op die Kombi se dak), maar hy was ook groot van gees – iets wat ook blyk uit die talle e-posboodskappe wat die gesin ontvang het, o.a. ook van oud-leerlinge in Malawi: Hierdie “gentle giant” was ‘n “besondere rolmodel vir baie”, ‘n mens “wat die lig in soveel ander se lewens gebring”, hy was “so ‘n “spesiale” persoon en “dit is ‘n voorreg om aan hom te kan terugdink” en “hom te kon geken het.”
En toe sy gesin die laaste aand by sy bed staan – hy kon nie meer praat of reageer nie – en hulle vir hom die verse van die Aandlied sing – Aan U o God, my dankgesange, U wil ek in my aandlied prys… – kom daar ‘n sagte glimlag op sy gesig.
Martin Pauw
