Die volgende ekoteoloog wat ons in hierdie kort reeks bekendstel, is Steve de Gruchy (1961 – 2010). Hy behaal ‘n Meestersgraad in Godsdiensstudies aan die Universiteit van Kaapstad en ontvang sy DTh aan die Universiteit van Wes-Kaapland in 1992. In 2008 word hy aangestel as voltydse professor en word hy ook die hoof van die Skool vir Godsdiens en Teologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy sterf tragies in die ouderdom van 48 op 21 Februarie 2010 toe hy in die Mooirivier verdrink tydens ‘n gesinsvakansie.
De Gruchy was as teoloog aktief betrokke by sake van geregtigheid, gemeenskapsontwikkeling en die aarde se ekologiese uitdagings. Hy maak internasionaal gewaardeerde bydraes in onder andere die Wêreld Alliansie vir Gereformeerde Kerke (WARK) en die Wêreld Raad van Kerke (WRK).
Die saak wat ek uit Steve de Gruchy se teologie hier wil uitlig, is wat hy die spanning tussen die ekonomie en die ekologie noem.* Dit is ‘n spanning wat uitspeel in twee strominge: een stroom wat die saak van armoede aanspreek (ekonomie/dikwels ook die Bruin Agenda genoem) en ‘n ander stroom wat die saak van die ekologiese uitdagings (veral klimaatsverandering/dikwels die Groen Agenda genoem) aanspreek. Hierdie twee strominge kom ongelukkig dikwels teenoor mekaar te staan. De Gruchy was absoluut oortuig daarvan dat ons glad nie ‘n volhoubare en nuwe toekoms vir ons kinders kan verseker as ons nie die spanning wat daar tussen die ekonomie en ekologie bestaan oplos nie. Daarom beywer hy hom aktief daarvoor om te sorg dat die twee strome van ekonomie en ekologie in een agenda saamgevoeg en saam aangespreek word.
In sy hantering van hierdie saak maak hy vyf punte:
- Ekonomie, Ekologie en die Aarde
Beide die woorde ekonomie en ekologie het hul oorsprong uit die Griekse woord oikos, wat huis of huishouding beteken. Die ekonomie (oikos + nomos) gaan oor die reëls van die huishouding; die ekologie (oikos + logos) gaan oor die studie van die verhoudings en die geïntegreerdheid van die huishouding. Beide die ekonomie en die ekologie is dus ingestel op die belang van die een oikos/huishouding, naamlik die aarde. Vir duisende jare het die ekonomie en die ekologie saamgewerk met die welsyn van die aarde as fokus. Dit het egter met die Industriële Revolusie (IR) in Europa in die 18de en 19de eeue verander. Die IR het van die aarde se hulpbronne (eintlik die aarde self) kommoditeite (verbruiksartikels) gemaak. En dit is uit die IR wat die huidige globale neoliberale kapitalisme gebore is.
- Die ekonomie staan teenoor die ekologie
Alhoewel hierdie ekonomie groot vooruitgang vir baie mense gebring het, was en is dit steeds ook die skepper van verskriklike armoede en ekologiese bedreigings. Hy lys ‘n hele paar faktore wat daartoe gelei het dat die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog bygedra het tot die ontwikkeling van die globale neoliberale kapitalisme – wat vandag die wêreld se ekonomie oorheers. Hierdie ekonomie word in stand gehou deur die G8-lande, die Wêreld Handelsorganisasie, die Internasionale Monitêre Fonds en die Wêreld Bank. Die donker kant van hierdie ekonomie is dat dit in die proses van die skep van welvaart terselfdertyd verskriklike armoede tot gevolg het wat sigbaar is in talle fabrieke en myne wat toemaak, werkloosheid wat toeneem, die “casualization” van werk en die ontstaan van die oorlewingsekonomie in die informele sektor. Die gevolge hiervan is dat die gesondheid van die armes – wat ‘n betroubare barometer van die welstand van die samelewing is – voortdurend agteruitgaan. Hy verwys dan na die verklaring/belydenis van die Wêreld Alliansie van Gereformeerde Kerke (WARK) wat in 2004 in Accra (Ghana) opgestel is se sterk verwerpende woorde oor hierdie ekonomie: “We reject the current world economic order imposed by global neoliberal capitalism … which defy God’s covenant by excluding the poor, the vulnerable and the whole of creation from the fullness of life … which subverts God’s sovereignty over life and acts contrary to God’s just rule.”
Dit is vir De Gruchy onverstaanbaar dat daar mense is (ingesluit die argitekte van die Suid-Afrikaanse ekonomie) wat glo dat die globale neoliberale ekonomie die probleem van armoede kan oplos. “Hoe op dees aarde kan ‘n mens die instrument wat verantwoordelik is vir die armoede gebruik om die armoede uit die weg te ruim?” vra hy. Hierby voeg hy dan nog twee argumente. Die globale neoliberale kapitalisme skep ‘n ekologiese ramp: Dit suig die aarde se bronne op, kap bome af, besoedel water, pomp industriële afval die lug in, verander vleilande in landbougrond en myn op ekologies-sensitiewe plekke. Verder is die globale neoliberale kapitalisme ook die drywer van oorloë en die voorsiener van wapens op ‘n massiewe skaal. En die res van die wêreld is slagoffers van die stryd tussen die groot en magtige state wat met mekaar wedywer vir die besit en toegang tot die bronne van die aarde.
Vir Steve de Gruchy is die logika van die neoliberale ekonomie en die logika van die aarde direk in stryd met mekaar. Die neoliberale ekonomie kommodifiseer die ryke verskeidenheid van die skepping in rou materiaal, skep besoedeling en afval en privatiseer gemeengoed soos lug, water en grond. En die mense wat as gevolg hiervan die swaarste kry, is die armes.
Ons staar ‘n dubbele ongemaklike waarheid (vergelyk Al Gore se Inconvenient Truth) in die gesig: die aarde is in ‘n krisis en die huidige ekonomiese stelsel gaan nie die probleem van armoede oplos nie. Hy sluit by Larry Rasmussen aan wat sê: “Economic production and consumption, as well as human reproduction, are unsustainable when they no longer fall within the borders of nature’s regeneration. So the Bottom Line below the Bottom Line is that if we don’t recognise that the laws of economics and the laws of ecology are finally the same laws, we are in deep doo-doo.”
- God se ekonomie: Respekteer die Aarde
“God’s economy is simply God’s rules for ensuring that the earth sustains human life, and that human life respects the sustaining power of the earth. From God’s perspective, economy and ecology are really the same thing, for there is no future in an economy if its rules are designed to destroy the environment. God’s economy creates the vision for us to live in shalom, in peace, in justice, in freedom… We have to hold oikos-nomos and oikos-logos, economy and ecology together.”
- Die Olyfagenda: Integreer die Bruin en Groen agendas
Die bruin agenda is besorg oor armoede en die groen agenda is besorg oor die omgewing. Ons het ‘n ekonomie nodig wat ons sal help om armoede iets van die verlede te maak en wat die kapasiteit van die aarde om haar bronne aan te vul (regenereer) sal respekteer. ‘n Ekonomie wat dus die welsyn van alle mense en die huis (aarde) waarin ons woon in die oog het. Dit is die bedoeling van die Olyfagenda. Dit bring die bruin en groen agendas saam onder die kleur van die olyfboom se blare, naamlik kakie. Die Olyfagenda hanteer die ekonomie en ekologie as een onlosmaakbare saak. Die olyfboom en haar vrugte het verskeie simboliese betekenisse wat dit voor die hand liggend maak om as metafoor te gebruik. Die olyf se tak is ‘n simbool van vrede. Die olyf se vrug as voedsel verwys na die honger van mense en voedselsekuriteit. Verder dui die olyfboom as een van die bome wat die langste lewe ook op ‘n ekonomie wat ‘n toekoms verseker vir vele opeenvolgende generasies. Dit is ook ‘n simbool van gesondheid en vitaliteit. En dan is dit ook ‘n prominente simbool in die Bybel.
- 5. Wat hoort op die Olyfagenda?
De Gruchy noem vyf sake wat hy reken op dié agenda hoort:
5.1 Ons moet publieke beleid en praktyk aanvat vanuit ‘n posisie waar ekonomie en ekologie geïntegreer is. “Humans belong to the earth, and any attack on the earth is an attack on humanity.”
5.2 Ons moet ‘n publieke debat voer oor die Bybelse gedagte van die Sabbat. “The biblical idea of the Sabbath carries a powerfully important truth about what it means to be human, namely the importance of stepping back from the economy, resting, honouring human relationships, reminding us that we are human and not commodities.”
5.3 “We need to start replacing the word ‘land’ with the word ‘earth’ … now is a time for a ‘black theology of the earth’ … Reflections on the earth rather than the land might also create space for women and feminist theologians to contribute their insights …”
5.4 Ons moet maniere kry om deel te neem aan die stryd om ‘n nuwe wêreld te skep – om die ekonomie te hervorm. “This is not a Christian task, but one that calls us to be co-conspirators with good people everywhere who are seeking to do what is right and just.”
5.5 Ons het ‘n opvoedingstaak onder ons gemeentelede, sodat hulle hul publieke rol in die land kan vervul. Elke gemeente het die gawes van prediking, liturgie, gebede, simbole en opvoedkundige geleenthede wat hulle kan gebruik om die geïntegreerde visie van die Olyfagenda met lidmate te kan deel. “From the virtues from frugality and simplicity, through to work against littering and pollution, from respect for soil and water, to intentionality about economic choices that are in rhythm with the earth, these are the tasks that await those who capture the (olive) vision.”
Steve de Gruchy is sedert 2010 nie meer met ons om die Olyfagenda te dryf nie. Hy het met die hoop geleef en gesterf dat die kerk in Suid-Afrika en die wêreld hierdie agenda hul eie sal maak. Dit is ter wille van die aarde en huidige en toekomstige geslagte van dringende belang dat ons sy hoop nie beskaam nie.
Voorstel: Plant ‘n olyfboom of olyfboord as julle plek het en leef Steve de Gruchy se Olyfagenda uit. Ons 21 olyfbome gee vir ons matelose vreugde.
Vrede vir julle en julle omgewings.
david p botha
dpbotha2@gmail.com
* Die bron vir hierdie artikel is ‘n voordrag wat Steve de Gruchy in Julie 2007 voor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aangebied het. Dit het ook verskyn in ‘n huldigingsbundel ter ere van Steve Mark de Gruchy wat uitgegee is deur Cluster Publications 2015, met die titel Keeping Body and Soul Together, Reflections by Steve de Gruchy on Theology and Development, geredigeer deur Beverley Haddad.
