V.l.n.r.: Pieter Maseliso, James Kambathi, ds. Isaac Chameia en ds. Josef Kapinga by ‘n Nagmaaldiens wat die eerste keer na 25 jaar bedien is in November 2020. Dit was by Muchiko naby Divundu in die Wes-Caprivi.
Dit is altyd baie opwindend as ons hoor van nog broers en susters wat aan ons groot Gereformeerde familie hier in Afrika behoort, veral as dit boonop in ons buurland, Namibië, is.
So was dit dan ook toe Andries en Tracy Gous van Degnos wat die Boesmans of San-mense in Noord-Namibië bedien, onlangs by Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Afrika Ekumene, se kantoor in Bellville gaan inloer het.

V.l.n.r.: Andries Gous, Tracy Gous en Daniël de Wet
Andries vertel: “Ons is die afgelope paar weke op besoek hier in Suid-Afrika met die doel om aan gemeentes wat dié besondere bediening ondersteun, terugvoer te kom gee oor wat die afgelope dertig jaar in die San-bediening gebeur het.”
Sedert Namibië se onafhanklikheidswording in 1990 het van die NG Kerk-gemeentes in die Wes-Kaap by hierdie bediening betrokke geraak. Sedert 1991 het drie van hierdie gemeentes, naamlik die NG Kerk-gemeentes Stellenberg, Sonstraal en Oostersee, een van die eerste predikante (na die oorlog in Namibië) uitgestuur om die Luhebu-Noord-gemeente se !Kung-mense te gaan bedien.

Tydens ‘n evangelisasieveldtog by die Tsumkwe-gemeente, Nhoma nr 2, vertel ds N!aici Komtsa die mense van die evangelie van Jesus Christus.
Andries vertel verder: “Tweedens bied ons besoek ook aan ons die geleentheid om met die huidige kerkleierskap en lidmate van die betrokke gemeentes kennis te maak en selfs nuwe gemeentes te besoek en die storie van Degnos te deel. Ons kon ook vertel van die San-leraarsopleiding in Namibië en veral hoe hierdie opleiding na die tradisionele NG Kerk-gemeentes in Namibië oorgespoel het. Dié opleiding het nou ‘n model geraak vir die bemagtiging van kerkraadslede op plekke waar daar nie voltydse predikante in diens geneem kan word nie.”
Die Gouse besoek gemeentes in die Vrystaat van 27 Oktober tot 10 November.
Indien jy graag deel van hierdie besondere bediening wil raak, kan jy meer inligting daaroor kry HIER.
