Ds Ab IJzerman en sy vrou, Trix

 

Op Sondagoggend 27 November om 10:00 is daar, na 25 jaar in diens van die VGKSA Khayelitsha, van Ab en Trix IJzerman afskeid geneem.

Grootwordjare, studies en roeping

Ab is in Heerde, Nederland gebore en het ook daar grootgeword. “My ouers was diep gelowige mense, maar hulle was arm en het baie eenvoudig geleef,” vertel Ab. “Gelukkig het die Nederlandse regering in daardie tyd almal se studies volledig betaal en kon ek na skool gaan studeer en ‘n graad in meganiese ingenieurswese verwerf.

“Ek het ervaar dat die Here my vir die bediening roep toe ek nog maar tien jaar oud was, maar ek was bang en skaam en het altyd daarvan weggedeins totdat ek 30 jaar oud was. Daar was niemand wat ‘n invloed op hierdie besluit gehad het nie. Inteendeel, dit sou in daardie statiese plattelandse boere-omgewing nie goed ontvang gewees het nie; predikante het uit die stad gekom.

“Na my studie het ek in 1982 by Canzibe Hospitaal in die voormalige Transkei gaan werk en daar op ‘n meer praktiese manier my roeping probeer uitleef. Eers het ek vir ‘n aantal jare die onderhoud van die hospitaal behartig en later ‘n werkskeppingsprojek onder Mfesane begin. Dit was ‘n baie goeie voorbereiding vir my bediening in Khayelitsha. In daardie tyd het ek bewus begin word van die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte van die sosio-ekonomiese ontwikkeling van mense.

“In 1988 is ek getroud met Trix van Zyl en het ek met my teologiese studie begin; eers in Port Elizabeth en daarna by Stellenbosch. Ek het in 1996 klaargemaak met ‘n MTh in Sendingwetenskap onder leiding van prof. Martin Pauw. Gedurende die studietyd het ek  ook in 1994 ‘n jaar gewerk by die Vredeskomitee in Stellenbosch met onder andere die monitering van die verkiesing wat later oorgeloop het in ‘n projek wat met bendelede gewerk het. Alhoewel ek in my hart ‘n sistematiese teoloog is, is ek gedurende my studie die meeste gevorm deur die teologie van Dawid Bosch omdat dit geloofwaardig en relevant vir my in daardie tyd was. Die vrae van geloofwaardigheid, menswaardigheid, sosiale geregtigheid en relevansie is gedurende daardie tyd in my gevorm.”

Beroep na VGK Khayelitsha

“Toe ek in 1997 na die VGK Khayelitsha beroep is, het ek drie keer uitstel gevra vir die besluit, omdat ek gevoel het dat die tyd van wit sendelinge en paternalisme verby is. Wat sou my rol moes wees? Vir my sou dit moontlik ‘n simbool van versoening wees (soos verwoord in die Belydenis van Belhar); dat agtergrondsverskille nie in die Koninkryk saakmaak nie en dat ons gelykwaardig met mekaar kon omgaan. Ek het verder gedink dat die groot uitdaging in my bediening was om die kerk selfstandig te maak en om  ‘n geloofwaardige getuienis in die omgewing te wees. Khayelitsha was toe net ‘n jaar gelede afgestig van die VGK Nyanga-gemeente en kon met die steun van die toenmalige Skiereilandse Raad en Masibambane ‘n eerste predikant beroep en was dus finansieel totaal afhanklik van die NG Kerk.  Die kerkraad, met geen opgeleide mense nie, was heeltemal afhanklik van die rol van die predikant. Dit moes deurbreek word.

“Daar was ook ‘n verwagting vanuit NG Kerk-geledere dat daar in Khayelitsha allerhande projekte sou moes begin. Dit teen die agtergrond van die sendingdenke in die NG Kerk in die tyd waar barmhartigheid, eerder as geregtigheid, belangrik was. My hoop was dat die kerk in Khayelitsha eers onafhanklik sou moes word met ‘n gevoel vir eiewaarde en ‘n Koninkryksperspektief en van daaruit met projekte kan begin wat deur hulleself geïnisieer en bedryf word. Sover het dit egter nog nie gebeur nie.

“Die hoogtepunte van my bediening is dat die gemeente baie gegroei het deur die gemeentelede se eie werk, en verder dat, toe die finansiële ondersteuning uit die NG Kerk begin kwyn het, die gemeente my salaris  uit eie fondse op skaal kon betaal. Hulle het daarna uit eie fondse ‘n nuwe kerkgebou in een van die wyke gebou en ook die bestaande kerkgebou laat vergroot. ‘n Paar jaar gelede het hulle ook vir ons ‘n nuwe motor gegee as blyk van waardering na 20 jaar diens in die gemeente.

“Dit is ook verblydend om te sien dat daar nou meer jonger en opgeleide mense op die kerkraad dien wat administrasie kan doen en die gemeente verder kan uitbou. Dit is grootliks te danke aan die nuwe bedeling na 1994 waardeur baie jongmense beter opleiding kon ontvang en beter werk kon bekom. Dit is eintlik ‘n heeltemal nuwe soort gemeente wat ontstaan het.”

 

Uitdagings

“Covid-19 was egter ‘n groot finansiële krisis vir die gemeente. Lidmate dra finansieel by aan die gemeente soos hulle betrokke is. Toe daar vir ‘n lang tyd geen byeenkomste meer was nie, het die bydraes ook opgedroog. Verder het baie mense hulle werk verloor en lidmate aan die rand van die gemeente het verdwyn. Verder het ds Siyabulela Potwana om hierdie rede vertrek, nadat hy vir ses jaar my medeleraar was. Baie dinge moet nou vanaf die grond weer opgebou word.

“Suid-Afrika is ‘n land van skrille kontraste tussen ryk en arm. Dit raak ekstra duidelik as daar buitelandse besoekers is wat die verskille baie skerper waarneem en aan my pynlike vrae vra. Vir mý is die vraag: ‘Wie is nou eintlik arm?’ As ek die rykdom aan gemeenskap, opregte vertroue op God, die liefde en respek van mense en uitbundige feesvreugde in die dienste ervaar en ek vergelyk dit met my agtergrond in Nederland, dan vra ek  altyd weer: ‘Wie is nou eintlik ryk?’ Indien meer mense iets hiervan kon beleef, sou dit waarskynlik baie beter gaan met kerkeenheid en ook oor die algemeen in die land. Ek het gekom om te gee en ander mense te leer, maar ek het net ontvang en van hulle geleer en in die proses baie nederiger geword.

“In 1988 het ek klierkoors gekry wat daarna permanent  oorgegaan het in KMS (Kroniese Moegheid Sindroom, ook bekend as jappiegriep). Die pyn en fatique hiervan het die res van my lewe baie beperk en ek kon nie alles doen wat ek graag sou wou doen nie. Terselfdertyd het dit my in Khayelitsha laat bly.  In 2015 is ek medies ongeskik verklaar, maar het as predikant in die gemeente aangebly en my kollega ondersteun.”

 

Koördineerder vir klimaatsverandering

“Vanaf 2006 tot 2007 het ek ook ‘n tyd deeltyds vir die intergeloofsomgewingsorganisasie SAFCEI as koördineerder vir klimaatsverandering gewerk. Dit was om die pot aan die kook te help hou. Terselfdertyd het ek ook besef dat die Koninkryk wyer is as net die kerk. In daardie tyd het min mense al van klimaatsverandering gehoor. Dit was vir my baie verrykend om met die saak van die ekologie of omgewing besig te wees en begrip te kry vir die dringendheid daarvan. Dit het my ook gedwing om respek te hê vir mense van ander godsdienste en te besef dat as God vir my kan gebruik (en ook vir Bileam se donkie!), dat Hy dan ook deur ander godsdienste kan werk.”

 

Ab se wens vir die kerk en in die besonder vir Khayelitsha

“My wens vir die kerk in die breë is dat die kerk sal tuiskom in Afrika met al sy uitdagings en moontlikhede. Dit sal ook kerkeenheid bevorder. Solank ‘n deel van die kerk probeer om nog van Europa of Amerika te wees, sal daar nie veel vordering wees nie. Dit hang alles saam met die konnotasies wat mense aan ‘Afrika’ heg. Solank as wat ‘n mens net aan Afrika dink as agterlik, irrasioneel en chaoties, sal daar geen eenheid in dié land en die kerk wees nie. Die sleutel lê in blootstelling aan mekaar se lewens en die nader beweeg aan Jesus Christus Self.

“My wens vir Khayelitsha in die besonder is dat jongmense begelei sal word in hierdie tyd waarin ons lewe. Die lewe is nou so baie anders as die van hulle ouers. Die kerk is nog baie vas in sy tradisies en gesagstrukture probeer jongmense inperk. Aan die ander kant is daar die moderne lewe met welvaart en individuele vryhede en alles wat ons op TV sien. Dan is daar ook nog die kerke wat met beloftes van materiële voorspoed kom, maar baie daarvoor laat betaal. Al hierdie kragte trek aan ons jongmense. Baie jongmense vind nie werk nie en raak wanhopig. Hoekom hoor God hulle dan nie? In die algemeen is hulle verward en koersloos. Wat die kerk op hierdie stadium bied, is ‘n stuk gemeenskap en geborgenheid en verder die hoop op God se beloftes vir hierdie lewe. Dit is egter nog alles baie selfgerig en weinig gerig op die ander en op wat die geloof beteken vir hierdie wêreld en vir hierdie land.

 

So, wat verryk en help vorm Ab se insigte?

“Vanweë my swak gesondheid kry ek helaas nie baie kans om te lees nie. Ek is nogal beïnvloed deur die Nederlandse teoloog, Bram van de Beek, wat probeer om ‘n radikale profetiese en Christus-gesentreerde teologie vir Nederland te ontwerp. Die boeke wat ek verder lees en wat my help met nuwe insigte is alles wat baie kere aan die rand van teologie lê. Baie teologie gaan deesdae oor hoe om God meer te beleef of om die kerk te laat groei of om die geloof en die kerk aanvaarbaar te maak vir die moderne mens en om relevant te wees. Verder hou ek daarvan om ook weer ‘klassieke teologie’ te lees en die rykdom daarvan te besef.

“Vir my is dit belangrik om besig te wees met die vrae wat Afrika, die ekologie en die wetenskap aan ons opdring en hoe dit veral vir jongmense raak. Wat Afrika betref, stel ek belang in Afrika-teologie, Bevrydingsteologie en wat die geloofsbelewing van gewone mense in plekke soos Khayelitsha is. Die uitdagings van die moderne wetenskap is die soort vrae wat mense soos Ben du Toit op die tafel sit, maar ook die uitdaging van die inligtingstegnologie en sosiale media wat moontlik uitloop op ‘n samelewing sonder waardes en sonder individuele vryheid. Die ekologie en klimaatsverandering is deesdae gelukkig ‘n tema wat aandag kry. Ons sukkel egter nog om die erns van die krisis te snap en ook hoe om dit in verband te bring met die kern van ons geloof.

“Al hierdie vrae vind hulle fokus in die vraag wat dit beteken om ‘n ware dissipel van Jesus Christus te wees in hierdie tyd – in Khayelitsha, in Afrika, in die hele wêreld en in die skepping/natuur.”

Ab se gesin

“Ek is nou 34 jaar gelukkig getroud met Trix. Sy was op haar dag laerskoolonderwyseres, het ook vir die CSV gereis en was betrokke by Arbeidsbediening in Port Elizabeth. Sy het my al die jare van studie en gemeentebediening getrou bygestaan. Sy het ‘n groot rol in die gemeente gespeel. ‘Alikho khaya umana engekho’ – daar bestaan geen huis (of gemeente) sonder ‘n moeder nie. Ons het twee kinders en twee kleinkinders wat aan ons baie vreugde verskaf.”

Ten slotte

“Die pad wat my lewe geloop het (en veral in Khayelitsha), is nie een wat ek self bedink of gekies het nie, maar my lewe is daardeur oneindig verryk en ek is die Here baie dankbaar daarvoor.”

Verified by ExactMetrics