Met hierdie bydrae sluit ons die kort reeks oor ekoteoloë af. Ek het hiermee probeer om julle aan ‘n klein groepie ekoteoloë bloot te stel wat aan my help vorm het. Daar is nog baie ander. Dit is uiteraard onmoontlik om reg te laat geskied aan enige teoloog se werk in ‘n bydrae wat net twee bladsye lank is. Ek kon julle hoogstens laat proe in die hoop dat julle honger sal word om meer en verder te lees.
Dit is ook al wat ek kan doen as ek vir Ernst Marais Conradie aan julle voorstel, naamlik om julle te motiveer om sy werke te lees en julle aan te moedig om hom te nooi om deel te word van julle gemeente se ekoteologiese reis. (Conradie se bydrae tot ekoteologie is geweldig omvangryk. Gaan kyk gerus hier: https://scholar.google.com/citations?user=38lWb7QAAAAJ&hl=en.)
Conradie woon sedert 1967 op Stellenbosch, gaan daar skool en studeer aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch. Hy voltooi sy akademiese loopbaan met ‘n PhD in 1992.
Hy was die eerste ekoteoloog wat ek ontmoet het en wat my sensitiwiteit vir ekoteologie help opskerp en vorm het. Die eerste boek wat uit sy pen verskyn het, was Rus vir die hele aarde, uitgegee deur Lux Verbi in 1996. Hy skryf hierdie boek nadat hy Jürgen Moltmann se werk, God in Creation: An Ecological Theology (1985), gelees het. Met hierdie publikasie het Conradie vir ons in Afrikaans baie prakties en bevatlik blootgestel aan die teologie van Moltmann oor die Sabbat (God se rus) as die eintlike “kroon” van God se skepping. Die boek het verskyn net drie jaar nadat Conradie aangestel is as dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement vir Godsdiens en Teologie. Hy is tans senior professor in dieselfde departement.
Die verskyning van dié boek het ook (toevallig?) saamgeval met die KGA (Kommissie vir Getuienisaksie) se sub-kommissie vir Ekologie se eerste projek, naamlik om “alle plaaslike gemeentes in die NG Kerkfamilie hiermee aan te moedig om 2 Junie 1996 as Omgewingsondag in te rig”, in aansluiting by Wêreldomgewingsdag op 5 Junie. Hierdie eerste projek van Getuienisaksie se sub-kommissie vir Ekologie was in opdrag van die VGK Streeksinode Kaapland (1994) en die NGKSA se Sinode (1995). ‘n Mens sou dus kon sê dat die begin van Conradie se loopbaan as ekoteoloog ook min of meer die begin was van Getuienisaksie se Ekologie-bediening wat nou deur hulle Groenspan voortgesit word.
Na Rus vir die hele aarde (1996) verskyn daar nog ook die volgende boeke in Afrikaans uit sy pen: Waarvoor Lewe Jy? (2000), Waar op dees Aarde Vind Mens God? Op Soek na ’n Aardse Spiritualiteit (2005, wenner van die Andrew Murray-prys), Lewe Anderkant die Dood? In Gesprek oor die Hoop op die Opstanding uit die Dood (2006), Uitverkoop? In Gesprek oor die Verbruikerskultuur (2009), Lewend en Kragtig? In Gesprek oor God se Handelinge in die Wêreld (2010, ook ’n wenner van die Andrew Murray-prys), Om Reg te Stel: Oor Regverdiging én Geregtigheid (2018), en saam met Louis Jonker en Jan Botha, Die Bybel in Fokus: Om Gelowig én Denkend te Lees (2020, nog ’n wenner van die Andrew Murray-prys).
Conradie is ook internasionaal ‘n erkende en gewaardeerde teoloog wat dit geniet om met ander saam te werk. Sy grootste en waarskynlik mees ambisieuse projek is ‘n twaalfvolume-publikasie wat hy met ander internasionale ekoteoloë besig is om te skryf. Die titel van die reeks is An Earthed Faith: Telling the Story amid the ‘Anthropocene’*. Die tweede volume verskyn binnekort en Conradie-hulle werk tans aan die derde volume. Dié volume verken die terrein van die skeppingsteologie. Hierdie projek het ook vir Conradie geïnspireer om nog ‘n boek in Afrikaans te skryf wat warm in die oond lê en ook binnekort behoort te verskyn.
‘n Werk wat nie net vir Conradie self groot vreugde en vervulling gegee het nie, maar ook die boodskap van die hoofstroom kerke in Suid-Afrika oor die ekologiese uitdagings geword het, is Climate Change – A Challenge to the Churches in South Africa, wat in 2009 verskyn het as ‘n projek van die SARK (Suid-Afrikaanse Raad van Kerke). Alhoewel die dokument ‘n spanpoging was, het Conradie as redaksionele sekretaris ‘n baie groot aandeel daarin gehad. Conradie en die ander wat hieraan meegewerk het, het die stem van die SARK geword. Kom ons staan ‘n bietjie stil by hierdie dokument.
Die agtergrond en kerklike konteks van dié dokument is ‘n besluit wat die SARK in 2007 geneem het. Dit lui só:
- We who worship a creator God believe God has charged us to care for, look after and nurture creation, to “keep it” (Genesis 2:15) for future generations.
- We therefore believe that ensuring a sustainable future for our children is a primary responsibility.
- We recognize that climate change and environmental degradation is a critical threat to sustainability.
- We believe that in order to ensure sustainability, we must establish justice for all.
We therefore:
Call upon government to:
a) Introduce regulatory legislation that will sufficiently reduce CO2 emissions to ensure that global warming remains below a 2°C rise;
b) End all subsidies to fossil fuel and nuclear energy generation;
c) Subsidize and promote at all levels – community, city, provincial and national – the development and building of renewable energy generation, achieving at least 15% by 2015; and
Urge our churches to:
a) Lobby for the above changes; and
b)Develop and disseminate resource materials and support training which encourages energy efficiency, the use of renewable energy and raises awareness about climate change.
We make this call in our response to God and for the sake of future generations who should not be disadvantaged by our irresponsibility.
Luister na hierdie profetiese woorde van 13 jaar gelede: At this (kairos) moment in history we are again called to recognise what is at stake in discerning the signs of our times. This is even more difficult than in the past. Although communities in South Africa are already experiencing the negative effects of climate change (often not recognising that as such), its full impact will become more visible only in coming decades. This will cause severe suffering for those who are already most vulnerable, including the urban and the rural poor. Moreover, there are many other forms of life that will be threatened as a result of climate change. Our actions in the decade that lies ahead will have long-lasting implications for many generations to come. On this basis we speak in this document of the challenges related to climate change as a “coming decade of truth for God’s household”. It is a challenge that will require from us repentance and a fundamental change of heart, attitude and action, in short, a form of ecological conversion (metanoia).
[Sedertdien het ons o.a. byna dag zero in die Kaapse Skiereiland gehad, droogtes en storms en brande wat die Oos-Kaap en die Karoo en Noord-Kaap getref het en verwoestende vloede in KwaZulu-Natal.]
Beide die VGK en die NGK is lidmate van die SARK. Die “decade of truth” waarvan die dokument praat, het intussen verby getik. En alhoewel daar ‘n hele klompie mooi goed in die VG/NG Kerk gebeur het rondom ekologie was ons reaksie op Climate Change – A Challenge to the Churches in South Africa, heeltemal te flou.
Kom ons haal as gemeentes dit uit die laai uit waar dit lê en stof vergaar het. Die dokument is so diep weggebêre dat dit nie eers meer op die internet afgelaai kan word nie. Dit is egter nou weer beskikbaar gemaak op Getuienisaksie se webtuiste. U kan dit hier gaan aflaai. Hierdie bekragtigende dokument is ook daar gepubliseer.
Die sewe ekoteoloë wat in hierdie kort reeks aan die woord gekom het, is saam met al die ander dwars oor die wêreld profetiese geskenke van God. Ballingskap wag vir ons nageslag as ons kies om hulle te ignoreer.
Adventsgroete vir julle elkeen en mag die waarheid van God se menswording ons help om in God se rus vir die hele aarde in te gaan (Heb 4:1-13).
david p botha
dpbotha2@gmail.com
* Die term “Anthropocene” is ‘n term wat wetenskaplikes gebruik om na die tydperk in die aarde se geologiese geskiedenis te verwys wat deur die menslike spesie (homo sapiens) oorheers word as die mees dominante invloed op die lewe op aarde en die aarde se klimaat. Daar is wel heelwat gesprek oor hierdie term omdat mense nie ewe veel bydra tot die probleem nie en ook nie ewe veel daaronder gebuk gaan nie.
