Die kerkgebou met lidmate op ‘n Sondagoggend op Nkhoma.
“As ‘n Nkhoma-sendingkind weet ek uit ondervinding dat sendelinge die wonderlikste en kosbaarste stories en getuienisse het wat asseblief tog nie verlore moet gaan nie!” So sê Lizelle Smit, senior argivaris by die NG Kerkargief op Stellenbosch. “Ek dink nou sommer self aan lekker stories en herinneringe: Oom Willie Gouws se Land Rover wat alewig gebreek het, my pa wat altyd uitgeroep is om stukkende karre te gaan insleep (selfs vanuit Zimbabwe – ek dik dalk nou effe aan!), tannie Ester Retief se swaargelaaide tafels met versnaperings as ‘n mens op Mlanda of Chongoni by hulle rondom teetyd gekuier het – my mond water nog steeds as ek net daaraan dink – en die yslike moerbeiboom in oom Chris Blignaut se tuin wat ons trop onhebbelike sendelingskinders in een middag verwoes het en toe ook summier belet is om verder daarin rond te hang!”

Die Sarah Loubser-gebou met klaskamers regs, woonkwartiere links en die eetsaal in die middel. Sendelingskinders het hier loseer en skoolgegaan.
Lizelle staan tans aan die stuur van ‘n splinternuwe reuse-projek van die NG Kerkargief in samewerking met Getuienisaksie (vroeër bekend as die Sendingkommissie) en die argief van die CCAP Nkhoma Sinode in Malawi waarby sy soveel moontlik oudsendelinge van Malawi wil betrek. Die doel van hierdie projek is om argivalia in te win en die belangrike werksaamhede van die kerk en sy personeellede in die Malawi-sendingveld te bewaar.
Sy vertel meer daaroor: “Laat ek eers ‘n bietjie agtergrond oor hierdie opwindende projek verskaf: Vroeër vanjaar kontak dr Zeze, die museum – en argiefbestuurder van die CCAP Nkhoma Sinode in Malawi, dr Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Afrika Ekumene by Getuienisaksie. Die CCAP Nkhoma Sinode se argief is op soek na profiele en foto’s van al die NG Kerk se sendingpersoneel wat tussen 1962 tot 2020 in Malawi werksaam was. As voorbeeld van wat hulle soek, lys hulle so net oor die 20 name, maar versoek die volledige lys wat nie net die predikante insluit nie, maar ook maatskaplike werkers, dokters, verpleegsters, onderwysers, en vele beroepe meer.
“Getuienisaksie het dadelik besef dat hierdie nie ‘n ligte takie gaan wees nie en die NG Kerkargief om hulp gekontak. Na ‘n bietjie kopkrap en dinkskrums om ‘n tafel, kontak ons groep toe ‘n paar oud-Malawi-sendelinge asook vir Hylie Enslin van Getuieniskasie, en met hulle insette kon ons lys vinnig uitbrei tot ’n lywige dokument. Die lysie van net so oor die 20 name trek nou al oor die 320!
“Ons is almal diep getref toe ons besef hoe baie NG Kerkpersoneel in Malawi deur die loop van die laaste ses dekades gearbei het. Ons het ook, danksy dr Zeze, besef hoe belangrik dit is om oor ’n volledige lys name van die Malawi-sendingpersoneel te beskik. Die NG Kerkargief, in samewerking met Getuienisaksie en die argief op Nkhoma gaan nou hierdie leemte aanspreek en die geleentheid benut om volledige profiele te bekom.

Argivalia in die Nkhoma Museum.
“Hiervoor het ons natuurlik alle insette moontlik nodig. Indien jy of ‘n familielid van jou (byvoorbeeld jou eggenoot, ouers, grootouers, ensovoorts) tussen 1962 tot 2020 in diens van die sendingkantoor by die CCAP Nkhoma Sinode was, laai asb hierdie dokument af, vul dit in en e-pos dit aan Lizelle Smit teen einde-Januarie 2023. Ons is veral op soek na persoonlike staaltjies, herinnerige, lewenservaringe, werkservaringe, koddige stories, inligting oor die uitdagings aangaande sendingwerk in Malawi, ensomeer.
“Omdat die oorspronklike inisiatief van die CCAP Nkhoma Sinode Argief kom, gaan die NG Kerkargief vir eers fokus op die Malawi-sendingveld, maar sodra die projek afgehandel is, gaan ons ook soortgelyke projekte vir al die ander binnelandse – en buitelandse sendingvelde loods. Ons wil die kosbare werk van al die kerk se sendelinge en sendingvelde inwin, bewaar en uiteindelik verwerk.”
Lizelle sluit af: “Om aan te sluit by my herinneringe aan sendelinge se karre wat heeltyd gebreek het en die nimmereindigende ulendo’s (reise) wat hul moes onderneem, sluit ek af met ’n staaltjie uit pioniersendeling, WH Murray, se outobiografie, Op Pad (1940:178-185):
Is dit dan nou ’n ding om oor te skrywe? Ja, seker. As sendelinge was ons in die ou dae baie afhanklik van ons rygoed. […] Wat ons rydiere betref, hul dag is feitlik verby. Die trapfiets en die motor het hulle uitgeskakel. Maar daar was ’n dag toe ons maar te bly was om ’n goeie ryding te besit; en daar was onder hulle wat naam gemaak het. […] Onder die donkies was daar een wat ons byna as die harlekyn kan bestempel; immers, hy het baie pret en soms uitbundige gelag veroorsaak. Dit was Tsetse, ’n regte ou vaaldonkie. Oor hom ’n paar woordjies. Aan wie Tsetse behoort het, weet ek nie meer nie. Hy het op baie se ulendo’s saamgegaan, meestal as ’n soort jukskei. Hy het blykbaar die ulendo-loop geniet. Hy het glo Tsetse geheet omdat sy vel so dik was dat geen tsetsevlieg daar enige indruk op kon maak nie, en hy dus as tsetse-proef beskou is en ongedeerd deur tsetse-streke geneem kon word. […] Daar was twee dinge wat Tsetse baie meer laat spoed het as wat die kwaaiste sambok dit sou. Die een was ‘n fietsklokkie. As daar iemand met ’n fiets in die geselskap op pad is en dis jou beurt om vir Tsetse te ry moet jy sorg dat die fietsryer jou kennis gee dat hy kom, anders kan Tsetse dalk so onder jou uitspring dat jy agterbly. Om hom met sy ruiter te sien wegspring as die klokkie skielik hier agter hom lui was om baie lekker te kan lag. En nie minder as hy, nadat hy so ’n ent afgesit het, skielik omspring en snort om te kyk of die ding nog kom. Ag, die pret wat Tsetse in sy dae tog veroorsaak het! ’n Roker het ook met Tsetse nie sambok nodig gehad nie; dit was genoeg dat hy sy vuurhoutjies uit sy baadjiesak haal en die dosie so ’n bietjie skud. Die misterie was vir Tsetse te veel en het hom sy uiterste laat doe om weg te kom van die ding.

Ds AG Murray se twee oudste kinders op ‘n donkie.
Dr Lizelle Smit: senior argivaris, NG Kerkargief
lizelle@kaapkerk.co.za
