Een van die mediese spanlede besig om ‘n kind te weeg.

Op 4 Desember verlede jaar het ‘n groot bus met 65 studente van die mediese kampus op Tygerberg vanuit Kaapstad die lang tog na KwaZulu-Natal aangepak vir hul jaarlikse uitreik na die VGK Msinga naby Ladysmith, Natal.

Hierdie uitreik is meer as veertig jaar gelede deur Tygerberg se mediese studente vanuit die NG Kerk begin en het oor baie jare gelei tot die vorming van baie goeie verhoudinge met die VGK Msinga. Dit het aanvanklik begin by een van Msinga se vyf wyke, Msinga Top, maar het intussen verskuif na die wyk, Pomeroy.

Dis ‘n gebied wat geteister word deur erge armoede en dus groot uitdagings vir die kerk inhou. Die doel van die Tygerberg mediese span-uitreik was om met ons medegelowiges daar te gaan hande vat, veral ten opsigte van inisiatiewe wat reeds deur hulle daar plaaslik geneem is.

Nkazimulo Ngcobo

Een van hul grootste uitdagings is die gemeentes wat al hoe kleiner raak en toenemend jong, opkomende kerkleiers, veral mans, nodig het. Daar is tans meestal vroue en oumas in die kerkleierskap. Die bediening onder die jeug probeer ‘n nuwe generasie gelowiges op te bou deur dissipelskapopleiding – ‘n inisiatief wat in hul gemeenskap self ontstaan het. Tydens die uitreik is daar dus spesifiek op die jeug gefokus en veral saamgewerk met Nkazimulo Ngcobo, die predikant van die gemeente in Keat’s Drift (‘n dorpie naby Pomeroy). Hy het die mediese span ontvang en was die hele jaar betrokke by die beplanning van die uitreik.

Van groot hulp is die insette en bekwame leiding van ds Lourens Schoeman wat al jarelank by die VGK Msinga betrokke is en die kerkleiers oor die jare baie geleer het oor kerk- en gemeentebou.

Pierre Blignaut, spanleier van die uitreikgroep, vertel: “Die tema van die Tygerberg mediese span-uitreik was gebou op Hebreërs 10 vers 23 tot 25. Die fokus was dus om hande te vat met ons broers en susters in Msinga. Ons almal is deel van dieselfde kerkfamilie en het mekaar nodig om mekaar te ondersteun en saam te besin oor kerkwees in Christus. En dit is waarom ons daar was.”

“Ons maak dakke reg!”

Die uitreik het verskeie spanne gehad. Die bouspan het in hierdie tyd die kerkgronde van Pomeroy gereed gekry en dakke reggemaak, geverf en verseker dat dit waterdig is as voorbereiding vir toekomstige jeugkampe as deel van die plan om ‘n nuwe generasie van gelowiges te help bou.

Die jeugbedieningspan het twee programme aangebied – een vir meisies oor hul waardigheid (die “Dignity”-program) en een vir seuns wat oor waagmoed (die “Dare”-program) gegaan het en aan die seuns geleer het hoe om waarlik ‘n man te wees na God se hart. Die Dignity- en Dare-programme help met verhoudingsbou. Die jeugleierskap sal geleidelik die dissipelskapprogramme toepas en die jeug na kampe nooi.

Daar was ook ‘n vrouebedieningspan wat op die vroue gefokus het. Daar is veral aandag gegee aan oumas wat dikwels huishoudings moet oorneem by werkende ouers, of ouerslose kinders. Terwyl daar vrolik gehekel en gebrei is, is daar goeie gesprekke met hierdie groep waardevolle vroue in die gemeenskap gevoer.

Die evangelisasiespan het uitgegaan na die dorp en gaan evangeliseer tydens besoeke aan die hospitaal, Hospice en selfs met mense wat hulle in die strate teëgekom het. Op hierdie manier is daar goeie verhoudinge gebou.

Die kinderbedieningspan sorg vir baie pret!

Die kinderbedieningspan het na die verskillende buiteposte in die wyk uitgegaan en deur middel van sport en speletjies so speel-speel baie sinvolle geestelike lesse vir die kinders aangebied.

Die mediese span het met hulle uitreik veral op die voorkoming van siektes gefokus aangesien daar reeds goeie verwysingsisteme en ‘n goeie gemeenskapsdaghospitaal is wat die gemeenskap bedien. Verskeie groepe is besoek, byvoorbeeeld vroue is gewys hoe om hul borste gereeld te ondersoek sodat gewasse vroegtydig ontdek kan word; daar is aan kinders gedemonstreer hoe om hul tande korrek te borsel (tandeborsels is ook uitgedeel); daar is met die jeug gepraat oor seksuele gesondheid en gevare is uitgewys – tydens hierdie gesprek is daar dan apart met die meisies en seuns gepraat.

“Daar is ‘n mooi toekoms vir Msinga,” sê Pierre, “al bogenoemde inisiatiewe en idees het van die Msinga-gemeenskap self gekom – ons Tygerberg mediese span was net daar om te ondersteun – ons sien uit daarna om steeds met hulle, as ons medegelowiges, in die toekoms hande te vat.”

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer besonderhede.