Die afgelope Advent en Kersfees was David Attenborough ‘n gas aan ons huis. Ek het sy boek, A life on Our Planet, My Witness Statement and a Vision for the Future*, as verjaardaggeskenk ontvang. Wat ‘n fassinerende, ontstellende en hoopvolle boek is dit nie! Hy was 94 jaar oud toe hy dit geskryf het: sy lewensgetuienis en pleidooi.

Attenborough, gebore op 8 Mei 1926, se lewensverhaal is fasinerend. Ons het hom as die BBC (British Broadcasting Corporation) se stem leer ken wat die natuur aan kykers oor die wêreld heen bekendgestel het. Sy belangstelling in die natuur kom van sy kinderdae af. Hy was self in verwondering oor die natuur en het met passie sy bes gedoen om via die BBC die mense van die wêreld se oë oop te maak vir die wonders wat hy bevoorreg was om te sien en op film vas te lê.

Hy was egter nie net in verwondering nie. Hy was en is steeds ook baie sensitief. Hy kon vanweë sy lang lewe se blootstelling waarneem dat iets besig was om drasties verkeerd te loop. Hy het saam met sy verwondering ‘n diep besorgdheid ontwikkel. ‘n Besorgdheid wat primêr gebore is uit dit wat hy met sy eie oë waargeneem het, naamlik die geleidelike agteruitgang in die biodiversiteit van lewe op aarde.

Daarom wy hy die laaste deel van sy lewe daaraan om ons oë oop te maak vir die ontstellende waarheid dat ‘n lewebedreigende krisis die mens in die gesig staar. Miskien is die mees fassinerende van sy verhaal die feit dat hy selfs nog op 96 passievol en hoopvol besig is om sy lewe daaraan te wy om ons te leer om met liefde meer om te gee vir alle lewe op aarde – ter wille van die lewe self.

Attenborough se getuienis is ook diep ontstellend. Hy gebruik die tragiese storie van Pripyat in die Oekraïne met sy Chernobyl kernkragaanleg om te verduidelik hoe groot die krisis is waarin die aarde is. “It (Pripyat) is a place of utter despair … because everything here, from the noticeboards that are no longer looked at, to the discarded slide rules in the science classroom, to the shattered piano in the café, is a monument to the capacity of humankind to lose everything it needs, and everything it treasures. We humans, alone on Earth, are powerful enough to create worlds, and then to destroy them”, sê hy.

Op 26 April 1986 het verkeerde keuses en konstruksie en ander menslike foute aanleiding gegee tot ‘n kernongeluk wat daartoe gelei het dat dié stad, wat gebou is as ‘n model-blyplek vir mense, verander het in ‘n verlate en vervalle plek – sonder mense in sig. Volgens Attenborough is dieselfde verlatenheid die voorland vir die hele aarde as die ekonomiese en politieke leiers van die wêreld voortgaan om dinge op die manier te doen wat ons gebring het by ‘n plek in die geologiese geskiedenis van die aarde waar uitsterwing die mens se voorland is.

Hy begin sy verhaal in 1937 toe hy 11 jaar oud was en die wêreld se menslike bevolking 2.3 biljoen groot was, die koolstofdioksied in die aarde se atmosfeer 280 deeltjies per miljoen was en 66% van die aarde se oppervlak nog wildernis was. Hy eindig sy verhaal in 2020 (83 jaar later) met die menslike bevolking van die wêreld wat aangegroei het tot 7.8 biljoen (dit het in middel-November 2022 die 8 biljoen kerf verbygesteek), die koolstofdioksied tot 415 deeltjies per miljoen vermeerder het (volgens NASA het die koolstofdioksiedkonsentrasie ook in November 2022 vermeerder tot 420 deeltjies per miljoen) en dat daar nog net 35% wildernis op die aarde oor was (volgens The Conversation is daar op die oomblik nog net 23% van die aarde se land-wildernisgebied en net 13% van die see s’n oor).

Hy som sy waarneming van 83 jaar só op: “We have become accustomed to an impoverished planet. We have replaced the wild with the tame. We regard the Earth as our planet, run by humankind for humankind. There is little left for the rest of the living world. The truly wild world – that non-human world – has gone. We have overrun the Earth… Are we, like those poor people in Pripyat, sleepwalking into a catastrophe?” Dit lyk so en dit is definitief ons voorland volgens wetenskaplikes as ons voortgaan om te leef soos ons dit tans doen, sê Attenborough.

Maar dit hoef nie so te wees nie. Ons kan en moet die biodiversiteit van lewe op aarde kans gee om te herstel – in die see en op land. En ons kan dit doen deur die aarde te “rewild”. Hy verwys na verskeie projekte waar hierdie proses met groot sukses deurgevoer word. Een van die belowende dinge wat gebeur, is die entoesiasme wat onder boere groei om deel van hul grond kans te gee om terug te keer na ‘n staat van wildernis. Dit is biodiversiteit wat lewe op aarde in stand hou. En dit is wildernis wat biodiversiteit verseker.

Dit vra van ons ‘n nuwe filosofie oor die lewe – wat eintlik ‘n terugkeer na ‘n ou filosofie is. Dit is die filosofie van volhoubaarheid. Dit was die filosofie waarmee die jagter-versamelaars geleef het. Sedert die mens boerdery ontdek en landboupraktyke ontwikkel het, het ‘n ander filosofie in die plek van volhoubaarheid gekom: die filosofie van tem, onderwerp en gebruik. Hierdie filosofie het veroorsaak dat die mens vervreemd geraak het van die natuur. “We moved from being a part of nature to being apart from nature.” Ons moet dringend terugkeer na volhoubaarheid. En daar is reeds ‘n model beskikbaar wat as kompas kan dien op die pad van volhoubaarheid. Dit staan bekend as die planetêre grense-model, ook genoem die Doughnut Model. Dié model identifiseer 9 ekologiese terreine wat saam ‘n klimaat sal verseker waarin biodiversiteit weer kan herstel. As ons dit kan regkry om binne die grense te leef wat elkeen van hierdie terreine vir ons stel, sal die verlies aan biodiversiteit stop en ‘n proses van herstel begin.

Attenborough dui dan aan hoe ons kan terugkeer na ‘n lewe van volhoubaarheid. Hy stel voor dat ons die volgende sewe dinge doen:

  • Moving beyond growth
  • Switching to clean energy
  • Rewilding the seas
  • Taking up less space
  • Rewilding the land
  • Planning for peak human (peak human = wanneer die aanwas van die mensdom die maksimumpunt bereik en begin daal. Hoe gouer, hoe beter!)
  • Achieving more balanced lives

Hy sluit sy pleidooi af met hierdie woorde:  “The next few decades represent a final opportunity to build a stable home for ourselves and restore the rich, healthy and wonderful world that we inherited from our distant ancestors. Our future on the planet, the only place as far as we know where life of any kind exists, is at stake.”

Advent en Kersfees is die tyd in die kerklike jaar wanneer Christene die menswording van God vier. Dit is die tyd waarin ons onthou hoe die Skepper ‘n skepsel word; hoe die Gees van God intrek neem in vlees. Die menswording van God is God se “Ja!” vir alles wat God gemaak het. En God bly  “Ja!” sê – selfs al sê die mens “Nee!” vir die gestalte van God in die mens, Jesus van Nasaret. ‘n “Nee!” wat uitloop op die kruisiging van God én disrespek vir God se skepping.

Ek dink David Attenborough help vir ons deur sy lewe en getuienis. Hy roep ons om saam met God “Ja!” te sê vir alles (biodiversiteit) wat God gemaak het. Hy roep ons tot ‘n ekologiese bekering.

Gaan ons na hierdie profeet luister? Ek hoop so… saam met hom. Ek hoop regtig so!

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com

*   Uitgegee deur Witness Books in 2020 en herdruk in 2022.