Liewe Familie en Vriende

Januarie 2023 is amper verby en ons vertrou dat die jaar vir julle goed begin het.  Ten spyte van die uitdagings in ons land kan ons as gelowiges positief bly omdat ons weet dat God in beheer is en dat alles ten goede sal uitwerk (waarskynlik anders as wat ons dink).

Ons is opgewonde om nuus oor pastoor Jonoro, Leon en Carmen en onsself met julle te deel.  Na ons laaste nuus in Leon en Carmen se nuusbrief het ons gehoor dat pastoor Jonoro en Hanitra besig is om  na Antananarivo (die hoofstad)  te verhuisJoice (hul oudste dogter) en Jonathan (hul jongste seun) bly by hulle.  Joice werk daar en Jonathan studeer en werk. Joanna (die tweede-oudste dogter) werk nog in Fort Dauphin waar sy by ‘n Christenskool Engels gee.

Pastoor Jonoro is besig om die samewerkingsooreenkoms met Africa Inland Mission (AIM) te finaliseer.  AIM voel dit is meer strategies vir hulle om in Antananarivo te woon omdat dit sentraal is.  Die Bybelskool sal ook na Tana verskuif wat dit vir meer studente moontlik sal maak om dit by te woon.  Dit lyk dus of hierdie droom van pastoor Jonoro binnekort gaan waar word.  Ons prys die Here daarvoor.

Die Bybelskool sou reeds nou al begin het, maar weens die verskuiwing sal dit eers later vanjaar afskop.  Sodra hulle ‘n geskikte lokaal kan vind om die lesings aan te bied, maar ook akkommodasie vir die studente wat van ver kom, kan die 6 maande-kursus begin.

Intussen is hy en sy medewerkers baie besig.  Hulle reik uit na nuwe plekke en het ook saad versprei om armoede te verlig.  Nuwe gelowiges het by die gemeentes aangesluit en die werk gaan van krag tot krag.  Laat ons nie ophou om vir nuwe gelowiges te bid en vir die leiers om getrou te bly in hul dienswerk nie.

Ons het die week gehoor dat pastoor Jonoro saam met ‘n groep van IBM (International Baptist Missions Board) en ‘n paar Malgassiese sendelinge vir ‘n konferensie na Germiston toe kom.  Ons probeer nou om te reël dat hy sy terugvlug vir ‘n week uitstel sodat hy Kaapstad toe kan kom om weer hier kontak te maak met bestaande ondersteuners, maar ook nuwes te ontmoet.  Hierdie reëlings moet nog indien moontlik gefinaliseer word.

Wonderlike nuus van Leon en Carmen is dat die dokument waarvoor hulle gewag het om Riley se aanneming te finaliseer, sodat hulle by Binnelandse sake kan aansoek doen vir sy paspoort, afgehandel is.  Ons is so dankbaar vir almal wat getrou gebid het vir hierdie saak.  Nou is die volgende uitdaging om die paspoort te kry.  Ons vertrou dat dit ook betyds sal wees.

Ek en Annetjie gaan saam met Leon en Carmen ‘n 8 weke-kursus doen.  Dit is een van die vereistes van AIM en ons sien baie uit daarna.

Verder gaan Leon weer net na Paasnaweek Zambië toe as opvolg van die opleiding wat hy verlede jaar daar gedoen het.  Daarna gaan hulle as gesin na Kenia vir oriëntasie voordat hulle in Julie na Madagaskar verhuis.

Met my en Annetjie gaan dit goed.  Ons vertrou die Here vir goeie gesondheid.

Baie dankie aan almal wat ons so getrou ondersteun.

Mag die res van die jaar vir julle vreugde en vrede bring.

Vriendelike groete.

Carel en Annetjie

 

Kontak: Franchette van Tiddens: vantiddens@telkomsa.net