Een van die wonderlikste reiservarings wat ‘n mens ooit kan onderneem, is om oor die noordelike grense van Suid-Afrika ons buurlande in Afrika te gaan verken.

Wat dit nog interessanter maak, is ons gedeelde geskiedenis as gelowiges met ons geloofsfamilie daar. Vele susterskerke het in Afrika ontstaan danksy sendelinge wat sedert die 1800’s in lande soos Zimbabwe, Zambië, Malawi, Nigerië en selfs Kenia die wonderlike boodskap van Christus gaan verkondig het en oral in dié lande kerke help stig het.

Dit beteken natuurlik dat ons nou in werklikheid oral familie in Afrika het – jy moet hulle net gaan opsoek.

En dis presies wat dr Koos Greeff, tentmaker-predikant, tans verbonde aan die NG Kerk Vredenburg, gedoen het. Hulle was verlede jaar op reis deur Afrika toe hy in Kenia tydens sy besoek aan die geskiedkundige Eldoret besluit het om na ons susterskerk daar, die Reformed Church in East Africa (RCEA), uit te reik.

So het dr Luka Ariko, die algemene sekretaris van die RCEA van Koos te hore gekom en hom uitgenooi om vanjaar by hul seminarium in Eldoret, die Reformed Institute of Theological Training (RITT) vir twee weke te gaan klasgee.

En soos dit in Afrika die gewoonte is, moet jy ook help pakkies saambring, as dit enigsins moontlik is. Dr Ariko bestel toe vyf A Family of Reformed Churches-boeke by CLF en versoek Koos om dit asseblief saam te bring. So het Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Afrika Ekumene, dit in ‘n japtrap veilig by Koos se vertrekpunt vanaf Kaapstad besorg, gereed om in Kenia afgelewer te word (baie dankie, Koos!).

Koos het op Saterdag 4 Februarie na Nairobi vertrek en sal in die twee weke by RITT dertig uur se klasse aanbied oor twee vakke, naamlik inleiding tot sistematiese teologie en inleiding tot ekklesiologie.

Ons bid vir hierdie wonderlike geleentheid, Koos, en mag jy en die vyf boeke veilig in Kenia beland.

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.