Getuienisaksie is, in samewerking met ons susterskerk in Malawi, die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP) se Nkhoma Sinode, besig om die plant van 1,000 bome in Malawi te ondersteun.

Hennie Smit, vorige hoof van die Departement Omgewingsorg op Nkhoma wat in 2019 afgetree het, het alreeds in 1999 dié departement gestig met die doel om die kerk en lidmate meer bewus te maak van Christene se roeping om die omgewing te bewaar. Daar is toe veral op voorligting in skole en gemeentes gefokus. Hy het kwekerye vir bome in verskeie gemeentes gevestig en boompies gedurende die reënseisoen met sy boomplantprojek versprei. Al hoe meer gemeentes het toe die waarde daarvan besef. Sy promovering van die Farming God’s Way-metode by bestaansboere, het ook toe al hoe meer inslag gevind.

Daar is egter steeds groot gebiede in Malawi wat swaar onder ontbossing gebuk gaan. Hierdie nuwe boomplantprojek het juis ten doel om dié ontbossing te probeer bestry. Getuienisaksie se Taakspan Ekologie het reeds 500 van die bome verseker en die eerstes is besig om geplant te word.

Die bestuurder van ons Taakspan Ekologie, Dewald Hoffmann en ’n lid van ons Groenspan, Noxolo Fihla, sal vanaf 23 tot 27 Februarie daar op besoek wees. In hierdie tyd sal hulle die bekende Nkhoma Sendingstasie besoek waar hulle drie dae sal oornag. Ds Vasco Kachipapa, die algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode, sal hulle gasheer wees en hulle neem na twee areas waar die bome geplant word. Hulle sal ook Sondag twee dienste bywoon.

Tydens hul besoek sal Dewald en Noxolo ook hoor hoe hulle van verdere hulp of ondersteuning ten opsigte van die Boomplantprojek kan wees. Hulle beskou dit ook as ’n gulde geleentheid om interkerklike verhoudings te bou.

Kontak Dewald Hoffman by ds.dewaldh@gmail.com vir meer inligting.