Dr Koos Greeff saam met die RITT-studente

 

Dr Koos Greeff, tentmaker-predikant, tans verbonde aan die NG Kerk Vredenburg, was in Februarie op besoek aan Kenia. Hy is deur dr Luka Ariko, die algemene sekretaris van ons susterkerk daar, die Reformed Church in East Africa (RCEA), uitgenooi om vir twee weke by hul seminarium in Eldoret klasse oor inleiding tot sistematiese teologie en inleiding tot ekklesiologie te gaan aanbied.

Dit was ‘n besondere ervaring vir Koos. Hy vertel. “Afrika los mens altyd met weersprekende emosies,” vertel hy. “So het ek dit weer ervaar met my laaste besoek, dié keer in Kenia. Na die ‘melktrein’-vlug vanaf Kaapstad na Nairobi land ek die aand van 4 Februarie op Jomo Kenyatta International Airport en soek verwoed na my klere-tas. Donkeraand die Sondag sit ek op Eldoret-lughawe sonder tas en wag 90 minute vir die vervoer wat my moet besorg by die Reformed Institute of Theological Training (RITT) se kampus.

“Toe ons uiteindelik die kampus-terrein binnery, begin die motor se bedrading te brand en verwoed spring ons uit en los die ryding net daar. Dit was die verwelkoming.

“My blyplek was ‘n bietjie eenkant en rustig. Daar was ook piesangs en mango’s en ek het nog ‘n pakkie chips in my rugsakkie vir aandete.

“Om kwart oor agt die volgende oggend begin die eerste klas en die spannetjie 1ste- en 2de-jaar studente is leergierig. Na die middagsessie vra die rektor of ek die volgende middag se klas sou kon inwerk en of ek ‘n paar predikante sou kon toespreek.

“Met middagete die volgende dag arriveer ons by die konferensie-sentrum van die RCEA waar ek plegtig aan die kerkleierskap voorgestel is en ons ‘n smaaklike middagete kry.

“Daar hoor ek toe dat dit die eerste keer sedert die pandemie is dat hulle weer kan vergader en dat man en muis opgetrek het! Ek kon darem langs die pad vir my ‘n Mandela-hemp koop! Daar staan ek toe met my drafskoene en safari-langbroek voor die uitgeleerde skare en ek mag nie korter as een volle uur praat nie!

 

RCEA-predikante wat een van dr Greeff se lesings bygewoon het.

 

“En toe begin die skare sing en die trane rol oor my wange – ‘n ander uiterste van my emosies; iets wat my diep getref het … Later moes ek nog eredienste hou.

“Die twee weke was volgepak met 19 klasse en drie eredienste. Ek kon darem die omgewing ook ‘n bietjie verken en die destydse sendingstasie van ds Eybers besoek; ‘n besondere ervaring, veral toe ek ook ‘n klompie grafte van die Afrikaanse boere opgespoor het.”

En nou? Hoe het hierdie ervaring Koos geraak? Hy vertel: “Ek is diep dankbaar, want ek het ervaar hoe God in Afrika werk en hoe sy werk geseën word. Om in Afrika te werk, is nie maklik nie – veral nie sonder jou kleretas en pille nie! Maar dis aangrypend om te sien hoe die Here die eenvoudige pogings van feilbare en brose mense gebruik.

“Mag Hy voorgaan om Kenia en die RCEA te seën en mag Hy ons hier in Suid-Afrika die genade gee om nooit ons eie nessies vrot te broei nie.”

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.