V.l.n.r.: Louise Koch (Sonstraal-gemeente), ds. Christi Thirion (Kenridge-gemeente), ds. Mzukisi Mtyana (VGK Zithulele) en ds. Wynand Breytenbach (Durbanville-gemeente)

 

Die Zithulele-vennootskap het onlangs die VGK Zithulele (in die voormalige Transkei) en hul nuwe predikant,ds Mzukisi Mtyana, gaan besoek. Alhoewel daar verskeie gemeentes aan die vennootskap behoort, het Durbanville-, Kenridge- en Sonstraal-gemeentes hierdie keer die vennootskap in die pragtige gebied naby Koffiebaai gaan verteenwoordig.

Ds Wynand Breytenbach, predikant by die NG Kerk Durbanville, vertel: “Elke jaar gaan ‘n paar van ons by Zithulele kuier om saam te droom en te beplan aan die jaar se toekomstige besoeke. Hierdie jaar het ons die nuwe predikant, ds. Mtyana en sy vrou, Khayakazi en hulle seun Limnandi, daar ontmoet en ook gaan hoor wat hul behoefte vir die gemeenskap van Zithulele is. Ds. Mtyana is aan die einde van verlede jaar beroep en ken reeds die gemeenskap baie goed omdat hy in die omgewing grootgeword het.”

 

Die waarde van so ‘n besoek

“Tydens ons besoek daar het ons ‘n paar behoeftes opgelet. Die grootste behoefte van die VGK Zithulele-gemeente is tans die opknapping en onderhoud van al die 13 buiteposkerkgeboue,” vertel Wynand. “Daar is soveel nood ten opsigte hiervan by al die verskillende buiteposte omdat die area wat die gemeente dek so wyd en groot is. Die gemeente se kantoorpersoneel het ook hulp nodig met die opstel van strukture wat hulle kan help om meer effektief te werk.

“Die pastorie lyk goed nadat die Dias Trust en die vennootskap die laaste paar jaar hard gewerk het om dit gereed te kry vir die nuwe predikant en sy gesin.

“Die besoek het weer eens bevestig dat die vennootskap ’n wedersydse belangstelling toon. Al die partye betrokke is steeds passievol oor Zithulele en die Koninkryk van God wat daar gevestig word en hoe ons almal op verskillende maniere daarby betrokke kan wees.

“Ek dink aan die VGK Zithulele is dit weer eens bevestig dat dit nie net ’n ‘uitreik’ na hulle toe is nie, maar dat dit werklik ’n twee-rigting straat is in ’n vennootskap met mekaar. Gedurende die tyd wat hulle nie ’n predikant gehad het nie het die vennootskap steeds opgedaag vir ons jaarlikse ontmoetings en kon die gemeente sien dat dit nie oor die predikante gaan nie, maar oor die verbintenis tussen die gemeentes wat betrokke is.”

 

Die hoofpad by die ingang na Koffiebaai

 

Groot vloed

“Ons besoek het saamgeval met ‘n baie hartseer tyd in Zithulele, omdat daar in die week voor ons aankoms meer as 440 mm reën binne 36 uur geval het,” vertel Wynand. “Tien mense het verdrink en hulle was nog op soek na drie vermiste persone teen die tyd met ons vertrek.

“Na hierdie ramp was daar vir vyf dae geen water of elektrisiteit nie, wat beteken het dat daar in die meeste gebiede nie internet-opvangs was nie. Die enigste pad waarmee ‘n mens kon inkom by Koffiebaai het ook weggespoel. Die hele dorp was dus op daardie stadium heeltemal van die buitewêreld afgesny. Die ou klein, oorspronklike kronkelpaadjie is wel oopgeskraap wat ‘n mens toegang tot die dorp gee, al is dit redelik gevaarlik.

“Baie dankie aan ds. Wickus Venter van Dias-gemeente wat ons elke jaar huisves op pad Zithulele toe en ook deel is van die Vennootskap. Ons hoop om meer gemeentes deel te maak van die vennootskap met Zithulele VGK.”

Kontak Wynand Breytenbach by wynand@dgkerk.co.za vir meer inligting.