Dr Daniël de Wet besig om ‘n kind te doop, terwyl dr Katani, predikant van die CCAP Msalura-gemeente in Salima links van hom staan. Ds Scherlize van der Merwe van die NG Kerk Ysterplaat staan tweede van regs.

 

“Wat ‘n voorreg om in ‘n heel ander konteks die woorde van Filippense 2:2 te kon beLEEF as ons lees: Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.” So vertel Scherlize van der Merwe, predikant van die NG Kerk Ysterplaat.

Sy is tans op besoek aan ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode saam met oud-sendeling, AnnaMarie de Klerk, NG Kerk Argief-bestuurder, Andrew Kok en Getuienisaksie se taakspanbestuurder Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Daniël de Wet. Die doel van hul besoek is om ‘n paar geskiedkundige gemeentes en sendingstasies te besoek, asook om ekumeniese bande met ons susterskerk se leierskap te versterk.

Scherlize vertel: “‘n Hoogtepunt tot dusver was ons besoek aan die CCAP Msalura-gemeente in Salima naby die Malawi-meer op Sondag 26 Maart waar dr Katani die predikant is.

“Dr Katani het voorgestel dat ons deelneem aan die erediens en selfs dat ek help met die doopgeleentheid waar twintig babas tydens die erediens gedoop moes word. Wat dit ekstra spesiaal gemaak het, is die feit dat die CCAP in Malawi nog nie vrouepredikante toelaat nie, en hier staan ek, volledig geklee in ‘n CCAP vroue-uitrusting en doop. Dr Katani se vrou het seker gemaak dat ek die regte uitrusting aangehad het. Die name van die dopelinge is op ‘n wit papiertjie neergeskryf en om die beurt aan my, Daniël en dr Katani oorhandig. Daar was geen powerpoint met foto’s, doopkoeke of dooprokke nie – jy kom nes jy is. Dit het my diep geraak. (Kyk na die video daaroor hier.)

“Daniël de Wet het in Engels gepreek en die skriba van die gemeente het dit in Chichewa getolk.

“Dit was baie spesiaal om te kon deelneem aan ‘n erediens wat soveel anders en groter is as hoe ons dit hier in die NG Kerk in Suid-Afrika ken. Daar was ongeveer 1 000 mense in die erediens. Ek het net weer eens besef hoe die kerk soveel groter is as onsself; dat dit waarlik gaan oor één liggaam, één God en sy koninkryk.

“Dit herinner my weer aan Alan Redpath se woorde: Before we can pray, ‘Lord, Thy Kingdom come,’ we must be willing to pray, ‘My Kingdom go.’

“Ek het daardie name op die wit papiertjies in my sak gesteek en sal dit bewaar met die wete en gebed dat God ‘n plan met elkeen van hulle se lewens het – op die naam geroep! En wie weet, miskien loop ek eendag een van hulle raak.”

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.