Dr Kruger du Preez en ds Hannes Theron by die AETA-konferensie

 

WEES DEEL VAN DIE TRANSFORMASIE VAN ANGOLA EN AFRIKADIE AFRIKA WAT GOD WIL

Die Afrika Unie het in 2015 ‘n ambisieuse Agenda 2063 goedgekeur. Daarin word onderneem om die donkerste demone wat die kontinent, Afrika, bedreig intensioneel aan te vat met die verwagting van ‘n baie beter Afrika teen 2063. Dit sluit in demone soos slegte regering, korrupsie, sosio-ekonomiese ongeregtigheid, godsdienstige kompetisie, etniese- en stamkonflikte en politieke magsbeheptheid. Die dokument sluit as volg: “Ons reis na ‘n Afrika van 2063 het begin … wees deel van die transformasie!”

Met dit in gedagte het die afvaardiging van die Network for African Congregational Theology (NetACT), ds Hannes Theron en dr Kruger du Preez, passievolle kerk- en akademiese leiers asook teologie studente onlangs in Angola opgeroep om mee te help met die transformasie van ‘n Afrika wat ons as Christene, maar meer nog – wat God wil.

DIE GEBOORTE VAN DIE EVANGELIESE ALIANSIE VAN ANGOLA

Die Evangeliese Aliansie van Angola (Aliança Evangélica de Angola – AEA) word deur Henderson (2001) beskryf as ‘n assosiasie van evangeliese kerke in Angola met ‘n behoudende belydenis. Dit is gebore in 1974 toe die Kommunistiese staat al meer beperkings begin instel het teen die kerk en verklaar het dat die staat godsdiens sal uitroei binne 20 jaar. In hierdie noodsituasie het ‘n paar kerke by Benguela in Angola bymekaargekom om strategies te dink oor hoe die kerk hierdie aanval op sy bestaan kan oorleef. Teenwoordig was die Evangelises Sinodale Kerk van Angola (IESA), die Pentecostal Assemblies of God (ADP), die Baptiste Konvensie van Angola (CBA) en die Evangeliese Christelike Kerk van Angola  (ICEA).

Dit was veral ds António Neves Mussaqui, die eerste algemene sekretaris van die Evangelise Alliansie van Angola (AEA), asook ds Nascimento David, die eerste president van die die AEA, wat die skip deur die moeilike tye help stuur het.

Dit is uit hierdie aliansie wat AETA (Assciação de Escolas Teológicas de Angola – Die Assosiasie van Teologiese Skole van Angola) ontstaan het.

DIE ASSOSIASIE VAN TEOLOGIESE SKOLE VAN ANGOLA (AETA) SE BYEENKOMS IN LUBANGO

Van 22 tot 24 Maart 2023 het die Assosiasie van Teologiese Skole van Angola  (AETA) in Lubango, Suid-Angola, bymekaargekom vir hulle sesde algemene jaarvergadering. Dit was die buitengewone voorreg van twee NG Kerk-leraars om die hoofreferente te kon wees by hierdie byeenkoms, naamlik dr Kruger du Preez, die  kurrikulum-konsultant van NetACT  in Angola en Mosambiek en ds Hannes Theron, die projekbestuurder van NetACT en leraar van die NG Kerk Constantia in die Wes-Kaap.

Dr du Preez het veral op die volgende aspekte gefokus:

  • ‘n Normatiewe kurrikulum – Bybels, waardegedrewe en Christosentries. Hieronder val ook ‘n oproep tot ‘n ekologiese sensitiwiteit;
  • ‘n Konteksuele kurrikulum – Hoe moet ‘n teologiese skool funksioneer te midde van armoede, MIV en vigs, geslagsongelykheid, korrupsie en geweld en hoe moet minderheidsgroepe soos die LGBTQ+ groep hanteer word. Die hermeneutiese sleutel van deernis het sterk hier gefunksioneer
  • ‘n Geïntegreerde kurrikulum. Betrek dus die intellek –  leer analities en krities dink, maar betrek ook die emosie en gaan oor tot die praktyk. Skryf uitkomsgebaseerde doelwitte wat kop, hart en hande betrek.
  • ‘n Missionale kurrikulum – ‘n leerplan wat nie net gerig is op die eie gemeente en kerk nie, maar ook gerig is op die gesekulariseerde gemeenskap en die onbereiktes. Hiervoor moet kerke ook strategies gewone lidmate oplei as sendelinge in hul eie omstandighede.
  • Na alles moet die kurrikulum lei tot emosionele en geestelike volwassenheid van toekomstige leraars.

 

Dié afgevaardigde is baie in haar skik met haar boek oor Christen-leierskap wat sy ontvang het. Elke teologiese skool het 21 boeke ontvang.

Ds Hannes Theron het die klem laat val op die belang van ekumeniese betrekkinge en vennootskappe en teologiese netwerke soos NetACT.  Sy dringende oproep, soos hierbo aangedui, was orals:  Word die Afrika wat God wil hê dit moet wees.  Dit dan ook na aanleiding van die publikasie: African Public Theology, geskryf deur Afrika-teoloë en geïnisieer deur NetACT.  Daar word verwag dat die Portugese publikasie van dié belangrike boek wat sake soos demokrasie, werksetiek, armoede, gemeenskapsontwikkeling, opvoeding, gesondheid, menseregte, vlugtelinge en leierskap aanspreek, in September in Lubango, Angola bekendgestel sal word.

Die terugvoer op die lesings was van goeie gehalte en dit het duidelik geblyk dat hierdie dosente erns maak met die Bybel en die Koninkryk-beginsels.

Negentien teologiese skole vanoor die hele Angola is genooi en twaalf teologiese skole se verteenwoordigers was teenwoordig. Die meeste afgevaardiges was van Instituto Superior Teológico em Lubango (ISTEL).

ISTEL – DIE INSTITUUT VIR HOËR TEOLOGIESE ONDERWYS IN LUBANGO

Hierdie teologiese instituut word beskou as die juweel van teologiese skole in Angola. Dit is met hierdie instituut wat NetACT en die NG Kerk ‘n besonderse band opgebou het reeds vanaf 2004. Verskeie konferensies is daar gehou en kursusse aangebied, veral onder leiding van prof. Jurgens Hendriks van Stellenbosch. Groot waardering word ook in die boek oor die geskiedenis van ISTEL uitgespreek vir die rol van dr Manie Taute, voorheen dosent van die Instituto Bíblico de Portugal (IBP), vir sy pogings om ‘n Meestersgraad  in Teologie in samewerking met die NWU aangebied te kry.

Dit is daarom gepas om bietjie van nader na hierdie teologiese skool te kyk.

Hul visie lui soos volg:

Om Angolese leraars op te lei wat dienskneg-leiers sal wees asook getroue dissiples van Jesus wat die suiwer leer sal lewe en onderrig. ISTEL sal ook eenheid te midde van diversiteit promoveer en hulle beywer vir ‘n geïntegreerde transformasie van die gemeenskap (my vertaling uit die Portugees).

Hul leuse is heel betekenisvol:  Kontekstuele Sensitiwiteit en Getrouheid aan die Evangelie.

Die eerste direkteur van ISTEL was die pionier, ds Eliseu Simião (1981 – 1985). Hy het in Portugal en Switserland sy teologiese studies voltooi. Hy is opgevolg deur ds Ambrósio Fabiano (1987 – 1992) en toe deur dr Sheila Foster Fabiano (1992 – 1995). Van die later direkteure is steeds dosente by ISTEL, onder andere ds José Bernardo Luacute en ds Avelino Rafael.

Hier is Kruger en Hannes saam met dr Alberto Alberto (links), direkteur van ISTEL en sy vrou, Yolanda en regs die administratiewe bestuurder, Claudio Teixeira en sy vrou, Christina

Die huidige direkteur is dr Alberto Alberto wat ook onlangs as president van die Evangeliese Alliansie van Angola (AEA) verkies is. Hy het sy doktorsgraad  verwerf aan die Fakulteit van Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch en is ‘n knap teoloog, dosent en effektiewe bestuurder. Dr Sheila Forster is ‘n Amerikaanse sendeling wat al langer as 30 jaar by ISTEL klasgee en is die huidige akademiese direkteur. Sy het haar doktorsgraad behaal  aan die Regent College, Amerika. Die hoë akademiese en omvattende kurrikulum van ISTEL is aan haar baie dank verskuldig vir haar onvermoeide ywer.

(Bogenoemde gegewens uit die boek ISTEL 1881 – 2013 Forming leader servants for Angola and the world,  wat die skrywer, ds José Lando Badukila, goedgunstelik aan die skrywer van hierdie artikel geskenk het.)

ALGEMENE INDRUKKE EN OPROEP

Ons het Lubanga as ‘n skoon stad met min slaggate, mooi sypaadjies in die middestad (en geen beurtkrag nie) ervaar. Daar is puik akkommodasie vir toeriste, heerlike kos en smaaklike, plaaslik vervaardigde bier, N’gola.

Die marksistiese regime kon nie die Christendom uitwis nie – tewens, dit groei. Die Kubane het op die Jesus-Koning standbeeld buite Lubango geskiet, maar die ware Jesus lewe in die harte van baie gelowiges, kerkleiers en teologiese studente. Die potensiaal is inderdaad hier om Angola en die kontinent te verander na die land en kontinent wat God wil hê.

Droom, bid en help mee om Angola te hervorm asook ons geliefde kontinent tot dit wat op God se hart lê.

“Ons reis na ‘n Afrika van 2063 het begin … wees deel van die transformasie!”

 

Dr Kruger du Preez
NetACT kurrikulumkonsultant
krugerdup@gmail.com