Dr Kruger du Preez oorhandig ‘n kopie van die boek, A family of Reformed Churches in Africa, aan ds Alberto Daniel, die algemene sekretaris van IERA.

 

GAAN VOORT MET DIE HERE SE WERK IN ANGOLA – DOEN WAT JULLE MOET DOEN …

Die verbintenis tussen die NG Kerk en die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Angola, of te wel die Igreja Evangelica Reformada de Angola (IERA)

 

Deur dr Kruger du Preez
(Kurrikulumkonsultant vir NetACT in Angola en Mosambiek)

 

KIKAYA – DIE BEGIN VAN DIE IERA-KERK

Ek en Hannes Theron van NetACT sit rustig in die  sitkamer van Archibald Patterson op die sendingstasie, Kikaya, in die verre noorde van Angola. Dis histories. Patterson was die baanbrekersendeling en stigter van die IERA-kerk wat volgens die boek A family of Reformed Churches in Africa – remarkable stories of God’s grace (2022)1 vandag uit meer as 600 gemeentes bestaan met sowat 300 000 lidmate en oor die 400 predikante – inderdaad ‘n “remarkable story of God’s grace!”  Dit is dié kerk waarmee die NG Kerk sedert 2004 ekumeniese bande het. Hierdie skrywe poog om die verbintenis te belig en te vra vir nog nouer betrokkenheid.

Archibald Patterson (1899 – 1983), stigter van IERA in Angola.

Saam met ons sit die vriendelike en gewilde ds Alberto Daniel, die huidige algemene sekretaris van IERA. Ons luister aandagtig terwyl hy ons die worstel-geskiedenis van die kerk vertel.

Dis hier op Kikya in die Uige-provinsie waar Patterson, destyds van die Anglikaanse Kerk van Liverpool, in 1922 geland en met ‘n sendingstasie begin het. Dit is om dié rede dat die kerk in 2022 op luisterryke wyse hul eeufees gevier het. Ons word die reünes gewys van die tegniese skool en koshuise wat Patterson daar begin het – indrukwekkend – die nalatenskap van ‘n sendingvisionêr.

Later sluit Ernest Niclaus van die Evangeliese Kerk van Bienee in Switserland by hom aan en saam word hulle beskou as die stigters van die IERA. Entoesiasties word die kerk se huidige drome ons meegedeel en die planne gewys van die nuwe beplande tegniese skool op Kikaya. Ds Daniel en die leierskap van die kerk droom groot en beplan om reeds vanjaar te begin bou.

 

 

DIE INVLOED VAN OORLOË IN ANGOLA

Tragies ontvou ook die invloed van oorloë op die kerk van die Here. Daar word bereken dat meer as 500 000 Angolese gesterf het en sowat 10 miljoen ontwortel is tydens die koloniale – en burgeroorloë.  Dit is duidelik dat die Portuguese koloniale magte die Angolese arbeidsmark en staatskoffers uitgebuit het en korrupsie gemodeleer het. Die Rooms-Katolieke Kerk was die staatskerk en het dit baie moeilik gemaak vir enige Protestantse kerk om te bestaan en te groei. Daar is getuienis van marteling van Christene en selfs moorde van die staat se kant af.  Protestantse kerke en sendingstasies word in die proses gesaboteer.

In 1961 word Patterson uit die land gesit weens, volgens die staat, sy “bevrydingsteologie.” Vanaf 1961 tot en met 1975 kon IERA nie offisieel vergader nie uit vrees vir die Portuguese regering. Eers in 1978 konstitueer IERA die eerste keer as ‘n Algemene Sinode en maak nader kennis met die Switserse Gereformeerde Kerk en die Samen-op-Weg Kerk van Nederland. Op ‘n stadium kom Archibald Patterson terug uit ballingskap, maar moes weer later vir sy lewe vlug. Sy laaste opdrag aan die kerklidmate was: “Gaan voort met die Here se werk – doen wat julle moet doen… En dit is presies wat IERA getrou gedoen het en steeds doen.

Ongelukkig hou die vervolging van die kerk nie op met onafhanklikheid en die terugtrekking van die Portuguese in 1975 nie. ‘n Langdurige burgeroorlog breek uit tussen die vryheidsbewegings, UNITA, die MPLA en die FNLA wat onmeetlike menslike tragedie tot gevolg gehad het. Angola gaan nou vinnig ten gronde en daar vind ‘n ongekende finansiële ineenstorting en die verval van die infra-struktuur plaas. Dié vernietigende  oorlog het geduur vanaf die onafhanklikheid van Angola in 1975 tot basies in 2002 met die dood van die UNITA-leier Jonas Savimbi.

Die Portugese koloniale magte het die sendingstasies van IERA op Kikaya, Kinkuni en Kimbele geplunder, maar ongelukkig was dit nie die einde van die ellende nie! Na die herstel van die geboue deur IERA, gaan die bevrydingsorganisasies voort met die vandalisering van bogenoemde sendingstasies. Veral die Kommunistiesgedrewe MPLA rig groot skade aan. Kerke word geteiken. Kikaya word ‘n militêre basis en ‘n gevangenis van weermag- en politieke teenstanders. By die ingang van die stasie verskyn destyds die volgende verdoemende woorde:  Jy kom hier lewendig aan maar sal sekerlik dood hier uitgaan …

Die burgeroorlog veroorsaak dat duisende mense na omliggende lande vlug, veral na Namibia en Zambië. Die SA Weermag help met konvooi-begeleiding om duisende vlugtelinge na die veiligheid van vlugtelingskampe in Noord-Namibië te neem. Dit is hier waar die NG Kerk se sosiale- en geestelike bystand duisende lewens impakteer.  Hierdie kerkgeskiedenis is nie goed gedokumenteer nie. In ‘n opvolgartikel sal daar meer volledig uitgewy word oor die die NG Kerk se betrokkenheid by die vlugtelinge van Angola.

Murasies van die tegniese skool en koshuise op Kikaya, wat tydens die burgeroorlog in Angola vernietig is.

 

DIE VERHOUDING TUSSEN IERA EN DIE NG KERK

Groepe Christene vanuit Suid-Afrika het voor, tydens en net na die burgeroorlogsjare Angola besoek en op klein skaal met sendingwerk begin. In die negentigerjare van die vorige eeu besoek ek en ds Johan Lindeque, ons albei van die NG Kerk, byvoorbeeld Luanda namens Geopende Deure.  Gemeentes word besoek en bemoedig, dienste word gehou vir honderde Christene en die Bybelgenootskap word veral ondersteun.

Maar dit was eers werklik van 2004, twee jaar na die einde van die Angolese Burgeroorlog, dat die NG Kerk meer amptelik begin uitreik het na Angola. Prof Jurgens Hendriks, prof Martin Pauw, ds Pieter van Santen, ds Kruger du Preez en mnr Wickus Goelpa van Suid-Afrika, asook ds Jacob Schoeman en ds Willie Coetzee van die NG Kerk in Namibië onderneem ‘n toer van by die 4 000 km in Angola.

In verslae uit hierdie tyd word die haglike toestand van paaie en wrakke van militere voertuie en beskadigde geboue in dorpe en stede uitgewys. Gesprekke word met verskillende kerke gevoer, maar van belang vir ons NG Kerkfamilie, veral met IERA in Luanda. ‘n Belangwekkende, amptelike ooreenkoms word tussen die NG Kerk en IERA onderteken. Hierdie historiese dokument verdien meer aandag.

 

DIE 2004-OOREENKOMS TUSSEN DIE NG KERK EN IERA

Die ooreenkoms vind plaas in Luanda op 4 Julie 2004. Van die NG Kerk se kant was teenwoordig prof. Jurgens Hendriks, prof Martin Pauw, ds Willie Coetzee, ds Jacob Schoeman en ds Kruger du Preez. IERA word verteenwoordig deur 13 afgevaardiges. Dit sluit onder andere in ds Malungo Antonio Pedro (algemene sekretaris), ds Alberto Daniel (huidige algemene sekretaris), asook  di. Paulo Teca (huidige hoof van ITIERA), Campos Afonso (vorige hoof van ITIERA) en José Paulo Bunga (dosent by ITIERA).

Die doelwit van die byeenkoms word soos volg gestel:

  • Die vasstelling van vaste verhoudings tussen die twee kerke op ‘n meer offisiële basis;
  • Die fasilitering van ander moontlike areas van missionêre samewerking;
  • Wedersydse ondersteuning in moeilike politieke kontektse;
  • Samewerking op verskillende terreine om aan die eenheid van die Liggaam van Christus meer sigbare gestalte te gee as ‘n gesamentlike getuienis vir die Here;
  • Om as gelyke vennote saam die groot uitdagings aan te pak vir die Koninkryk van God.

 

Konfessionele basis

Albei kerke verklaar dat hulle die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf asook die Kategismus van Westminister.

 

BEPLANDE GESAMENTLIKE PROJEKTE

In ‘n afsonderlike gesamentlike dokument van die NG Kerk-afvaardiging en IERA word die volgende areas uitgelig as moontlike areas van toekomstige samewerking: teologie, gesondheidsdienste, evangelisasie, konstruksie, landbou, opvoedkunde, kommunikasie, menseregte en gemeenskapsontwikkeling. Die volgende word veral deur IERA versoek:

  • Wat teologie betref, word die NG Kerk versoek om in die besonder betrokke te raak by die teologiese skool van IERA op Kinkuni deur te help met die oprigting van geboue en te help met die akkreditasie by ander teologiese instansies. ‘n Uitnodiging aan veral dosente van IERA om verdere teologiese opleiding te ontvang in Suid-Afrika sal waardeer word.
  • MIV/vigs word as ‘n groot probleem geïdentifiseer. Die aanspreek van hierdie pandemie met behulp van vennote in Suid-Afrika word verlang.
  • By landbou sal die klem val op gesamentlike praktiese ontwikkeling van landbouprojekte in plattelandse gebiede.
  • Wat konstruksie betref, sal IERA dit waardeer indien hulp kan kom vir die bou van pastorieë vir veral die teologiese dosente op Kinkuni.
  • Daar word aan die NG Kerk-afvaardiging gestel dat oorloë daartoe bygedra het dat daar ‘n kultuur van geweld, haat, ongeregtigheid en onverdraagsaamheid veral onder die jeug ontstaan het. Enige hulp van die NG Kerk via literatuur, werkswinkels, kort- en langtermyn opleiding om hiermee te help en so hierdie destruktiewe kultuur te help omkeer, sal bydra tot post-traumatiese groei. “The ideal is to create a space where people will live in a democracy based on unity in diversity.”
  • Wedersydse besoeke word voorsien via die uitruil van teologiese studente en dosente en pogings behoort aangewend te word om gemeentes te identifiseer wat nouer bande sal smee met gemeentes van die ander kerk.

Die NG Kerk-afvaardiging neem instemmend kennis van hierdie moontlike projekte en onderneem om dit aan die NG Kerk te rapporteer en werk daarvan te maak.

 

DIE ROL VAN DIE GESAMENTLIKE SENDING (GSA)

Op 11 Januarie 2005, dus nie lank na die ondertekening van die 2004-ooreenkoms tussen die NG Kerk en die IERA nie, vergader die Gesamentlike Sending Kommissie van Angola (GSA) van die NG Kerk by die NG Gemeente Kempton-Hoogland in Kemptonpark vir ‘n belangrike vergadering. Van die 19 afgevaardigdes, was twee van Namibië, naamlik ds Willie Coetzee en ds Jacob Schoeman. Die res was NG Kerkleraars of -lidmate. Name wat opval, is ds Danie Pretorius van NG Kerk Vaalpark, Sasolburg (en ‘n groep van hul lidmate), dr Gideon van der Watt (sekretaris van die Algemene Kommissie vir Getuienisaksie); ds Tinus Grobler (NG Kerk Sinode Noord-Transvaal), prof. Martin Pauw, (Getuienisaksie van Wes-Kaap), dr Manie Taute (HEFSIBA, Mosambiek) en ds Danie Jordaan van die NG Kerk Gemeente Ellisras-Wes. Ds Giep Louw verteenwoordig die NG Kerk Oos-Kaap by die vergadering. Dit word duidelik gestel dat die GSA se werksaamhede direk resorteer onder die Algemene Sinode  en so is dit dus amptelik ‘n gesamentlike werksaamheid van die hele NG kerkfamilie.

Die volgende sake van belang kom onder bespreking en sekere belangrike besluite word geneem.

  • Daar word aanvaar dat daar gevestigde kerke in Angola is. Daar moet dus op gekoördineerde wyse en in samewerking met gevestigde kerke in Angola betrokke geraak word. IERA het sy wortels uit Switserland en histories het dit bande gehad met die Dorslandtrekkers. Pogings moet aangewend word om die Hervormde en/of Gereformeerde Kerk weer by werk van IERA betrokke te kry.
  • Die GSA stel hom ten doel om oor die NG Kerk se betrokkenheid in Angola te besin, inligting uit te ruil, betrokkenheid te help fasiliteer en te koördineer, literatuurprojekte te loods en toerustingmateriaal daar te stel.
  • Die vergadering keur die ondertekening van die ooreenkoms tussen die NG Kerk en IERA goed (7.1). Pogings moet in die toekoms aangewend word om ook verteenwoordigers van IERA by die GSA-forum te betrek. Die vergadering dra dit aan die Dagbestuur op om die nodige dokumente en foto’s van die werksaamhede in Angola te bewaar, ook met die oog op latere geskiedskrywing en die skrywe van bekendstellingsartikels.
  • Hendriks en Pauw word versoek om hul verslae en ander inligting oor Angola op een of ander wyse breër bekend te stel.
  • Die vergadering neem kennis van ander sendelinge uit NG Kerk-geledere wat in Angola werksaam is.
  • Die vergadering neem kennis van die pionierswerk wat ds Jacob Schoeman doen in Suid-Angola.

 

OPVOLGBESOEKE VAN DIE NG KERK IN NAMIBIË, DIE TEOLOGIESE FAKULTEIT VAN STELLENBOSCH EN NETACT

Na die historiese pionierbesoek van 2004 aan Angola volg ‘n hele paar opvolgbesoeke aan IERA. Een van die vennote was en is die NG Kerk Sinode van Namibië – veral dan die organisasie Kunene vir Christus van Jacob Schoeman. Hierdie groep gelowiges was en is steeds betrokke by kerklike aktiwiteite, nou onder die vaandel van IERA in Suid-Angola. Praktiese werk soos die aanlê van water by Kinkuni in die noorde is tydelik onderbreek weens die Covid-19-pandemie.

Die Universiteit van Stellenbosch raak ook betrokke by die werk, veral dan by teologiese opleiding en kurrikulumontwikkeling. Opleiding word veral gedoen by ISTEL, die ekumeniese Teologiese Skool in Lubango in die suide. So besoek onder andere prof Elna Mouton, prof Arend Carl (Opvoedkunde) en dr Len Hansen Angola saam met prof Jurgens Hendriks en dr Elisabet le Roux.

Dit was egter veral die organisasie, NetACT (Network for African Congregational Theology), wat die dryfveer en voertuig word vir voortgesette betrokkenheid by die werk in Angola en met IERA en dan veral by die teologiese skole van IERA in Luanda en Kinkuni. Die uitvoerende direkteur van NetACT, prof Jurgens Hendriks, word algemeen beskou as die pionier hier. Lesings deur Antoinette du Preez (akademiese administratiewe hoof van HEFSIBA ICHO), dr Manasse Matiquele (direkteur van HEFSIBA) en ds Venancio Patreque (dosent by HESIBA onder andere in MIV/vigs) word gefinansier. Later word ek aangestel as konsultant in kurrikulumontwikkeling en besoek saam met ds Hannes Theron, projekbestuurder van NetACT, so onlangs as Maart 2023 ISTEL in Lubango, die teologiese skool van IERA in Luanda en die ITIERA teologiese skool op Kinkuni. Ek word vanaf 2022 finansieel ondersteun deur Getuienisaksie van die NG Kerk-sinodes van Wes-Kaap en die Vrystaat.

 

EKUMENIESE VERHOUDINGS

Omdat IERA nie sulke lang en gevestigde verhoudinge het met die NG Kerk soos ander susterkerke in byvoorbeeld Mosambiek, Malawi en Zimbabwe nie, is daar ‘n sterk behoefte om die verhouding met die NG Kerk te verstewig. Die sinodes van Wes-Kaap en Vrystaat is wel betrokke by Angola, maar dan net op ‘n ad hoc-basis via NetACT. Die NG Kerk Sinode Namibië is meer betrokke by veral die werk van ds Jacob Schoeman (Kunene vir Christus) in die suide van Angola en logisties maak dit sin. Gesprekke moet gevoer word met dié sinode om selfs meer betrokke te raak en, waar nodig, aan te klop by die breë kerkverband vir ondersteuning.  Daar bestaan inderdaad ‘n dringende behoefte aan meer ekumeniese verhoudings.

 

TEN SLOTTE – ‘N OPROEP

Die Gesamentlike Sendingkommissie van Angola (GSA) is, sover die skrywer weet, nie meer aktief nie. Dit sou goed wees indien dit kon herlewe sodat daar op streeksinodale, maar ook op die Algemene Sinodale vlak gedink en beplan kan word oor die pad vorentoe tussen die NG Kerk en IERA. Daar moet weer ernstig gekyk word na die nakoming van die 2004-ooreenkoms. Een manier is om ‘n groot projek te loods om te kyk hoe ons samewerkend kan help met die oprigting van ‘n doeltreffende teologiese skool op Kinkuni naby Sanza Pomba in die Uige Provinsie. In ‘n opvolgartikel meer hieroor.

Kom ons eer die nagedagtenis van die groot pioniersendeling in Angola, Archibald Patterson, toe hy in sy afskeidsboodskap aan die liggaam van Christus gesê het: “Gaan voort met die Here se werk – doen wat julle moet doen …”

 

  • Van der Watt Gideon & Odendaal Mariëtte. A family of Reformed Churches in Africa – remarkable stories of God’s grace. .Wellington, CLF Publishers