Ds Michael Khombe

Geskryf deur dr Hennie van Deventer

 

Ds MZ Khombe, een van die bekende en geliefde predikante van ons susterkerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, is op Woensdag, 1 Junie tragies in ‘n motorfietsongeluk oorlede. Hy was 84 jaar oud.

Ds Khombe het in 2011 geëmeriteer, na ‘n dienstyd van 35 jaar in verskeie gemeentes en in sinodale poste van die Nkhoma-Sinode van die CCAP, of in Afrikaans genoem, die Kerk van Midde-Afrika Presbiteriaans.

Hy was op sy motorfiets op pad na ‘n nabygeleë markie langs die nasionale pad toe ‘n voertuig hom van agter getref het. Hy is na die Nkhoma Hospitaal gehaas, maar het nie die ongeluk oorleef nie.

Ds Michael Khombe sal onthou word as ‘n baie aangename en gewilde dominee. Soos baie Malawiërs, was hy baie lief vir sing. Terwyl hy op Nkhoma gewerk het, het hy gewoonlik as voorsanger die gemeente gelei in lof en aanbidding. Dit was dikwels ook sy taak by sinodesittings. Hy was ook ‘n persoon met heelwat ander talente en gawes.

As jong man is hy aanvanklik as motorwerktuigkundige opgelei. Hy het egter geroepe gevoel tot die bediening en het in 1976 sy opleiding as leraar voltooi. Gedurende sy dienstyd het hy onder andere sewe gemeentes bedien. Hy was egter ook vir ‘n tyd lank hoof van die kerk se sentrum vir die opleiding van lidmate, die Namoni Katengeza Lay Training Centre. Later het hy ook gedien as bestuurder van die drukpers op Nkhoma.

Uiteindelik was ds Khombe ook aan die stuur van die CCAP se Sendingdepartement. Die departement is deur dr Ryk van Velden op die been gebring, maar nadat Ryk-hulle Malawi verlaat het, het ds Khombe oorgeneem. Die departement het veral gefokus op werk onder die Moslems in Malawi, maar het ook werkers uitgestuur na onbereikte areas in Mosambiek. Daar is ook toenemend aandag gegee aan die geestelike behoeftes van die groot aantal Malawiërs wat in Suid-Afrika kom werk soek het. So was ds Khombe ook betrokke by die stigting van ‘n gemeente vir Malawiërs in Johannesburg, met ‘n leraar van die Nkhoma Sinode.

Daar is groot hartseer in Malawi, en onder al die oud-sendelinge wat hom geken het, oor die tragiese dood van ds Michael Khombe. Ons eer sy nagedagtenis as ‘n baie toegewyde dienskneg van die Here. Hy word oorleef deur sy vrou, Enela en drie kinders.