Die 44 predikante van die IRM Mphatso Sinode wat Veritas College-opleiding ontvang het.
Vanaf 5 tot 9 Junie is die Module 2 Veritas College-opleiding aan 44 leraars van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) van die Sinode Mphatso op Vila Ulóngùe in Noordwes-Mosambiek aangebied. Ds Riaan Terblanche (organiseerder van Veritas College Mosambiek) en dr. Davidson Chifungo (direkteur van Veritas College Malawi) het dit gefasiliteer.
Ds. Terblanche vertel: “Hierdie opleiding was ‘n opvolg van Veritas College se Module 1-opleiding wat in April 2022 plaasgevind het. Die impak van daardie opleiding was groot, want die leraars het toe daarna begin om hul eie lidmate toe te rus om God se Woord op ‘n verantwoordelike manier te verstaan, dit op hulle eie lewens toe te pas en deur prediking te verkondig. Hulle getuig dat hulle nou anders preek as voorheen!
“Die gevolg hiervan was dat meer as 850 lidmate van die Sinode Mphatso in 41 opleidingsgroepe bemagtig is om die swaard van die Gees, die Bybel, effektief te gebruik!”
Op die foto hierbo is die leierskap van die IRM saam met die fasiliteerders van Veritas College. V.l.n.r.: ds. Kumandzi (aktuarius), ds Daniel (moderator), ds. David Chikakuda, dr. Davidson Chifungo (direkteur van Veritas College Malawi), ds. Samuel Besitala (algemene sekretaris), ds. Riaan Terblanche (organiseerder van Veritas College Mosambiek) en David Chilataya (fasiliteerder van Veritas Malawi)
Riaan vertel verder: “Een van die leraars , ds. David Chikakuda (op die foto hierbo derde van links), wat tagtig jaar oud is, het tien van sy lidmate toegerus. Nadat die opleidingskursus afgehandel is, het hulle aan hom gesê dat hulle ‘n behoefte aan nog meer opleiding het. Hy het toe weer vir hulle van die lesse herhaal, en toe hy daarmee klaar was, het hulle weer gevra vir nog toerusting!

“Dit illustreer lidmate se geweldige honger na God se Woord hier in Mosambiek. Wat ‘n voorbeeld is ds. Chikakuda nie vir ons nie! Ons loof die Here vir sulke manne wat soos ‘n Kaleb van ouds steeds die goeie stryd stry!
“Die Module 2-opleiding het vyf volle dae geduur, en het gefokus op die verhalende literatuur in die Bybel; hoe om ‘n verhaal in die Bybel te verstaan, in ons lewens toe te pas en te verkondig. Tydens hierdie opleiding is die leraars in die besonder toegerus om aan veral kinders die goeie nuus te bring.
“Daar is ook ‘n baie groot behoefte aan Chichewa Bybels in Mosambiek. Ons is baie dankbaar vir Getuienisaksie van die Wes-Kaap wat ‘n groot bydrae gemaak het om Chichewa Bybels vir die IRM beskikbaar te stel.

“Op die foto bo help ds. Carlos van die Malowera-gemeente, op die grens van Mosambiek en Zambië, om die Bybels gereed te kry vir oorhandiging. Elke leraar kon ten minste twee Bybels vir hulle lidmate ontvang.
“Enige ondersteuning om meer Bybels besikbaar te kan stel vir die uitbreiding van God se koninkryk is baie welkom!
“Prys die Here vir elkeen van hierdie 44 leraars wat nou toegerus is om hul lidmate verder toe te rus met Module 2 van Veritas College.
“In hulle evaluering van die opleiding was almal positief oor die waarde van hierdie kursus in hul eie persoonlike lewe, asook ten opsigte van die kerk se groei in Mosambiek.”
Kontak
Dr Daniël de Wet
021 957 7204
missio@kaapkerk.co.za
