• Vier Internasionale Stap ‘n Slag-dag op 17 November: Die bekende ekoloog, Dave Pepler, het gesê die rede waarom mense in ons tyd so min vir die natuur omgee, is omdat kinders nie met die natuur te doen kry nie. Mense spandeer nie meer, soos in die ou dae, as gesinne saam tyd in die natuur nie. Waar eens groentetuine was, is nou siertuine. Waar mense eens op ‘n tyd gereeld in die veld gaan stap het, sit almal nou voor die televisie as daar vrye tyd is. Jy kan egter nie vir iets omgee waaraan jy nooit blootgestel word nie, want jy kan iets net waardeer as jy dit self beleef. Om in die natuur te stap, is dus ‘n krities-belangrike deel van omgee vir die natuur, want dis waar jy diep bewus raak van hoe wonderlik God se skepping is. Dis waar ‘n hart vir die skepping gebore word. 17 November is die perfekte geleentheid om jouself (en dalk jou gesin) bloot te stel aan die natuur. Dit is internasionale “take a hike” dag (Stap ‘n Slag-dag) waar mense aangemoedig word om iewers in die natuur te gaan stap. Vir diegene in en om Kaapstad is dit ook ‘n wonderlike geleentheid om die kabelkar gratis te ry. Jy moet net opstap en gemors optel terwyl jy stap, dan kan jy gratis afry met die kabelkar. Vir meer inligting, sien hulle Facebookblad: of vind hulle by “Table Mountain aerial cableway”. As jy nie in staat is om ’n staproete te doen nie, gaan sit minstens vir ‘n ruk lank iewers buite waar jy plante en voëls kan sien en raak bewus van hoe groot en wonderlik God alles gemaak het. Kyk gerus na die video HIER: (Met dank aan Rudolph Scharneck van die Groenspan.)

 

  • Wêreld Fietsrydag. As jy nog nie een van die gereelde fietsryers is nie, kan jy gerus jou fiets ’n slag gaan afstof en in die pad val. Of nog beter – kry ’n paar vriende en ry saam werk toe. Dit waarborg nie net ’n baie gesonder lewenstyl nie, maar baat ook sommer die omgewing, aangesien ons dan minder brandstof verbruik. Lees meer hieroor by World Bicycle Day | United Nations en kyk na ’n kort video (inligting verskaf deur ons Groenspanlid, Hanli Groenewald) HIER.
Verified by ExactMetrics