Saam met die Tumbini sinodale leiers: agter v.l.n.r.: Jaco Botha, Manasse Matiquele (direkteur Hefsiba), Renata Carlos Pedro (vise-moderator). Voor v.l.n.r.: Daniël de Wet, João Herbath (algemene sekretaris), Samuel Reginat Matunda (moderator IRM Tumbine Sinode), Silva Uarica (aktuarius)

 

Op 6 Julie het dr Daniël de Wet en Jaco Botha via Blantyre in Malawi na Milange in Mosambiek vertrek met die oog om gesprekke te voer met die kerkleierskap van ons susterskerk daar, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) Tumbine Sinode.

Dr Manasse Matiquele, direkteur van Hefsiba in Noordwes-Mosambiek, het al die pad van Vila Ulónguè gereis om hulle op Blantyre te ontmoet waarvandaan hulle na Mosambiek gereis het. Hefsiba ISC (Instituto Superior Cristão – Instituut vir Christelike Hoër Onderwys) se hookampus is op Vila Ulónguè met satelietkampusse op Milange en Mocuba.

“Die doel van die besoek aan Milange was in die eerste plek om met die kerkleiers van die IRM Tumbine Sinode te vergader,” vertel Daniël. “Daar is ons baie hartlik deur die algemene sekretaris, ds João Herbath Kachemue, ontvang en ons  het op Milange tuisgegaan in die huis waar Danie Murray en sy gesin en later Kobus en Nana Eksteen gewoon het.

Die IRM Tumbine sinodale kantoor in aanbou

 

“Ons is beïndruk deur die bekwame leierskap van ds João Herbath Kachemue wat ook nuwe inisiatiewe daar loods. Daar is byvoorbeeld tans bouprojekte aan die gang, soos ‘n sinodale kantoor – iets wat hulle nog nooit vantevore gehad het nie – , klaskamers wat as ‘n skooltjie en ook deur Hefsiba gebruik sal kan word as deel van die kampus wat hulle reeds daar het.

“Verder is ons ook diep onder die indruk dat Danie Murray,wat ook in daardie tyd in Mosambiek was, maar weens sy program toe nie in Milange kon ontmoet nie, gereeld daar gaan besoek aflê. Hy speel ‘n onontbeerlike rol met sy Handevat-projek in die verhoudingsbou tussen die gemeentes hier in Suid-Afrika en die IRM wat hulle daar ondersteun.

“Die Tumbine Sinode het ook hul groot dank uitgepreek oor die geld wat ingesamel is om ‘n nuwe bakkie vir die sinode aan te koop. Die geld is onlangs deur Getuienisaksie oorbetaal en hulle is tans besig om te kyk na opsies en sal binnekort vir ons laat weet wat hulle toe aangekoop het.

 

 

Nuwe klaskamers vir die skool in Milange wat ook deur Hefsiba gebruik sal word.

 

“Die vergadering met die leiers van die Tumbine Sinode het, buiten die werksaamhede van die sinode, ook gegaan oor die breër bediening in Mosambiek. Ons sal later vanjaar in Johannesburg by die Gesamentlike Sendingkommissie vir Mosambiek (GSM) spesifiek praat oor die pensioenfonds van die predikante van die IRM; daar is bepaalde werk wat daarrondom gebeur en voorstelle wat aan die drie sinodes (Mphatso, Tumbine en Novo) gemaak word.

“In die geheel beskou, was dit ‘n baie geseënde besoek en ons sien uit daarna om oor ‘n paar maande by ons Reformed Family Forum in Oktober tydens ons algemene jaarvergadering weer vir ds João Herbath Kachemue saam met al die ander algemene sekretarisse in Wellington te ontvang.”

Ons vertel volgende week meer van Hefsiba se planne in Milange en Mocuba.

 

Author