Die “administradora” (administrateur) dr Eulâdia Lambula Catenda Guimas van Sanza Pomba het ons afvaardiging baie goed ontvang. Hier is sy saam met ds Hannes Theron (NetACT), ds Alberto Daniel (Algemene Sekretaris IERA) en dr K.P. du Preez (NetACT)
Dr Kruger du Preez, kurrikulumkonsultant vir Network for African Congregational Theology (NetACT) in Angola en Mosambiek, en Hannes Theron, projekbestuurder van NetACT, was in Maart vanjaar op besoek aan Angola. Die doel van hul besoek was drieërlei: eerstens om die Assosiasie van Teologiese Skole van Angola (AETA) in Lubango, Suid-Angola, se sesde algemene jaarvergadering te kon bywoon, tweedens om die bande met die IERA-kerkleierskap te verstewig en derdens om die teologiese skool op Kinkuni te gaan besoek. Ons het reeds in April oor die AETA se AJV berig en in Mei oor die geskiedenis van die ontstaan van IERA en hoe ons die bande met dié besondere kerk verder kan verstewig. Vandag vertel Kruger du Preez vir ons meer van hul besoek aan die teologiese skool op Kinkuni.
EERSTE BESOEK AAN KINKUNI
Ek onthou dit nog goed. Dit was in 2004 tydens die historiese pionierstoer van ‘n klompie predikante en teologiese dosente van Suid-Afrika en Namibië aan Angola dat ek afgelaai is by Kinkuni in die verre noorde van Angola in die Uige Provinsie in die distrik van Sanza Pomba.
Ek is gevra om ‘n week of so klas te gee aan die predikante van ons susterskerk in Angola, die Igreja Evangelica Reformada de Angola (IERA) – Die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Angola. My kollegas, onder leierskap van prof. Jurgens Hendriks, is terug na Luanda vir samesprekings en die ondertekening van ‘n kontraktuele kontrak met die afgevaardigdes van IERA. Dit is by dié geleentheid waar IERA amptelik aan die NG Kerk en NetACT gevra het om hulle te help om die Kinkuni Teologiese Skool te herbou.
Die teologiese skool was ‘n donker, koue lompe gebou van klei. Die groot saal waar die afgevaardigdes geslaap het, was ook sonder enige geriewe – die kerkleiers het op rietmatjies geslaap in die sand – as ek reg onthou. Ja, alles was baie primitief – daar was geen lopende water of elektrisiteit nie. Ek self het op ‘n bed sonder ‘n matras – op bamboes geslaap. Al wat nuut was op die kampus was die mooi kerkgeboutjie. Ek is meegedeel dat die teologiese skool op sy dae baie beter gelyk het, maar by twee geleenthede vernietig is – eers deur Portuguese magte in 1961 en na dit herbou is, is dit weer in 1987 gesaboteer deur van die bevrydingsbewegings.
Maar dit was ‘n wonderlike werkswinkel! Meer as 50 predikante het opgedaag met fietse – van hulle moes tot 100 km aflê om die lesings by te woon! Hulle was uitgehonger vir lering en saamwees. Min van hulle het enige formele teologiese opleiding gehad – sommiges het selfs nie hulle laerskoolopleiding voltooi nie. NetACT wat die besoek gereël het, het gevra dat ek veral aandag gee aan Dogmatiek, Homilitiek en MIV/vigs.
Ons het deeglik daarvan bewus geraak dat die Kinkuni Bybelskool ‘n baie belangrike rol gespeel het in die merkwaardige groei van IERA, veral in die Uige Provinsie. Volgens die boek, A Family of Reformed Churches in Africa1 , het IERA vandag 666 gemeentes en sowat 300 000 lidmate in 12 van die 18 provinsies en groei dit steeds. Hulle het 409 predikante waarvan verreweg die meeste in die Uige Provinsie is. Daar is vandag 480 gemeentes net in hierdie noordelike provinsie.

Die verwaarloosde teologiese skool op Kinkuni.
ONLANGSE BESOEK AAN KINKUNI
Dit was vir my ‘n nostalgiese oomblik toe ek onlangs, bykans 20 jaar later, weer saam met ds Hannes Theron, die projekbestuurder van NetACT, ‘n besoek kon aflê by Uige, Sanza Pomba, Kikaya en Kinkuni. Saam met ons was die IERA-kerkbestuur onder leiding van die algemene sekretaris, ds Alberto Daniel. Teologiese opleiding val deesdae onder die Departement van Kultuur en dit was vir ons duidelik tydens ons besoeke aan die amptenare in die stad Uige en die dorp naaste aan Kinkuni, Sanza Pomba, dat IERA baie goeie verhoudings met die staat het.
En wat het ons waargeneem op Kinkuni? Geen verbetering … Alles is verwaarloosg. ‘n Poging is wel intussen aangewend om water uit die nabye stroom op te pomp na die kampus deur middel van sonpanele. Die poging is geïnisieer onder leiding van ds Jacob Schoeman van Noord-Nambië en die organisasie Kunene vir Christus; dit het egter nooit gerealiseer nie – van die sonpanele is gesteel en van die pompe is teruggeneem na Luanda om vervang te word – en het verdwyn … tragies …
DIE MERKWAARDIGE KURRIKULUM VAN DIE BYBELSKOOL OP KINKUNI
Die besoekers van Suid-Afrika was destyds ook beïndruk deur die merkwaardige kurrikulum van die Bybelskool. Die volgende feite was vir ons interessant en volgens my, as kurrikulumkonsultant, navolgingswaardig: Die kurrikulum van dié besonderse prakties-georiënteerde Bybelskool het, naas die normale teologiese vakke, ook destyds ingesluit opleiding in onderwys, gesondheid, sosiale infrastruktuur, die verspreiding van noodvoorrade en voedselsekerheid. Landbou het ‘n sentrale deel van hierdie merkwaardige kurrikulum gevorm. Opleiding is selfs voorsien vir praktiese sake soos hoe om skoene te maak en te versool en skrynwerk. Op ons vraag wat hulle by hulle kurrikulum sou wou bygevoeg hê en waarmee ons dalk kan help, het hulle betekenisvol geantwoord: houtwerk, loodgieteropleiding, jeugleiding, die skep van ‘n kultuur van versoening en verdraagsaamheid (na die Burgeroorlog), die bou van paaie, elektrisiteitsopleiding, gemeenskapsontwikkeling in die algemeen en hoe om landmyne onskadelik te maak!
Op die vrugbare 27 hektaar grond van Kinkuni is daar in die verlede produkte verbou om studente te help voed en die onkostes van verblyf te verminder.
DIE DROOM VAN KINKUNI
Die afvaardiging uit Suid-Afrika en Namibië is destyds aangegryp deur die nood en die potensiaal van hierdie plek en het begin om allerlei groot drome te droom. Daar is onder andere ‘n pragtige plan deur ‘n Suid-Afrikaanse argitek van die terrein en die beplande aanbouings geteken. Dit het ses huise vir dosente, ‘n kafeteria, behuising vir 60 studente, kantore, ‘n kapel, ‘n groot dienlike teologiese skool met ‘n saal en klaskamers en ‘n effektiewe biblioteek ingesluit. Die droom het ook ingesluit watervoorsiening aan die teologiese skool, maar ook aan die omliggende gemeenskap.
Die droom kos egter geld – baie miljoene rande se geld. Destyds was dit al ‘n beraamde 5.6 miljoen US Doller of R112 miljoen teen vandag se ruilkoers. Pogings is aangewend deur veral prof. Jurgens Hendriks om oorsee geld te kry vir Kinkuni se heropbou in fases. Na baie gesukkel is sowat R700 000.00 ingesamel; eintlik maar ‘n druppel in die emmer en toe tref die pandemie ons nog ook!
DIE DILEMMA
Vir die uitvoerende komitee van NetACT het dit intussen duidelik geword dat die droom vir die herlewing van Kinkuni as kampus vir ITIERA (Instituut vir Teologiese Opleiding van IERA kerk), op hierdie stadium net ‘n droom is en dat daar nie genoeg ondersteuning is om dit te laat realiseer nie. Die gebrek aan finansiële inisiatief aan die kant van IERA, die gebrek aan leierskap by Kinkuni en die gebrek aan dosente-akkommodasie daar om effektief klas te gee, het ook nie bygedra tot die realisering van die droom nie. Dit was asof alles tot stillstand geknars het in afwagting van nog geld wat NetACT moet inbring.
Hierdie situasie is so ernstig dat die buitelandse donateurs nou meer gerus voel om die geld wat hulle beskikbaar gestel het vir die bouprojekte van IERA en hul teologiese skool ITIERA op Kinkuni, aansienlik af te skaal en die fondse meer beskikbaar te stel vir teologiese boeke (soos NetACT se boek: African Public Theology en die boek African Christian Leadership) asook vir beurse aan teologiese studente en nagraadse studie van dosente. Hierdie fondse is dan ook nie meer uitsluitlik vir Kinkuni geoormerk nie, maar ook aan ander erkende teologiese skole in Angola. NetACT sal hierdie netelige sitiuasie nou moet bestuur.

Oud-studente van dr Kruger du Preez wat hulle honneursgrade behaal het by HEFSIBA in Mosambiek.
ITIERA IN LUANDA
IERA se teologiese opleiding vind tans hoofsaaklik in die hoofstad Luanda plaas en ek en ds Hannes Theron het die geleentheid gehad om die bestuur, die dosente en die sowat 15 studente daar te ontmoet. Ek is versoek om ‘n lesing te gee oor kurrikulumontwikkeling en hermeneutiek en het ‘n op-en-wakker groep studente met toegewyde dosente daar aangetref. Drie van die dosente het hul honeursgrade aan HEFSIBA – Instituut vir Christelike Hoër Onderwys, Mosambiek ontvang, naamlik ds Paulo Bunga, ds Afonso Campos en ds Cristovão Bambi. Ds Bunga het later ook sy meestersgraad in Luanda ontvang.
Tydens ons besoek kon ek die verslag ontvang wat opgestel is na aanleiding van ‘n vraelys oor kurrikulumontwikkeling. ‘n Seremonie waar ek amptelik aanvaar is as kurrikulumkonsultant van ITIERA het plaasgevind in die moderne nabygeleë Hoër Tegniese Skool van die kerk.
Die vraag is nou of ITIERA se opleiding in Luanda of Kinkuni moet geskied. Daar is voordele en nadele aan elke opsie verbonde. Die groot nadeel soos verwoord in die aangehaalde boek is die volgende:
Most IERA congregations are founded in rural areas, thus it is not ideal to train pastors in an urban environment such as Luanda. By contrast, training done at Kinkuni will work well for rural and urban congregations.
Ons kan net bevestig dat dit ‘n logistiese nagmerrie is om by die teologiese skool in Luanda uit te kom in die druk verkeer. Baie van die studente se fondse word op vervoer spandeer. Iemand skryf van Luanda met sy 6 miljoen inwoners: It is a hot, bustling, busy, modern city with a diverse population.

Ds Hannes Theron, projekkoördineerder van NetACT en ds Paulo Teca, nuwe direkteur van die ITIERA Teologiese Skool, onderteken die memorandum van verstandhouding in Luanda.
WAT NOU?
Die bal is nou in die hande van IERA. Hulle moet besluit of dit finansieel haalbaar is om twee teologiese skole in stand te hou of nie. In ‘n vergadering van die NetACT-afvaardiging met die dosente in Luanda was hulle eenparig en passievol daaroor dat Kinkuni tog die hoof opleidingsplek moet wees en ontwikkel moet word. Die probleem is net geld – baie geld. Vir hulle is die opgradering van die kurrikulum vir akkreditasiedoeleindes ook belangrik. Ons advies is om kers op te steek by Accrediting Council for Theological Education in Africa (ACTEA) wat baie omvattende reëls het vir akkreditasie, onder andere oor infrastrukture, biblioteke, akademiese opleiding van dosente, ensovoorts. NetACT kan ook hierin ‘n belangrike rol speel.
IERA moet besluit oor die prioriteit van teologiese opleiding en hoeveel hulle bereid is om aan infrastruktuur te bestee. Uit ‘n praktiese en finansiële oogpunt is ITIERA – Luanda die beter keuse. Al die dosente het hul eie huise in Luanda en die klaskamers in Luanda is stewig gebou. Die kampus kan uitgebou word en aandag kan gegee word aan die opgradering van kantoorfasiliteite (daar is byvoorbeeld geen drukker daar nie). Kantore vir dosente, verbetering van hul biblioteek en die installering van rekenaars vir gebruik, ook deur die studente, moet geprioritiseer word.
Praktiese kursusse kan onses insiens steeds op Kinkuni op ‘n deeltydse basis aangebied word en ook voortgesette opleiding vir die predikante en ouderlinge bied. ‘n Projek kan van stapel gestuur word om op Kinkuni beter strukture (ten minste met stene!) op te rig, maar nie op dieselfde skaal as wat daar in die verlede oor gedroom is nie. Die beskikbare gastehuise en kliniek kan opgegradeer word. Tydens ons byeenkoms met die dosente en bestuur van ITIERA het ons voorgestel dat daar ‘n praktiese, haalbare besigheidsplan opgestel moet word waar daar in fases gebou kan word. As mense kan sien iets gebeur op Kinkuni, kan daar makliker fondse gegenereer word om die werk te voltooi.
Beurse vir studente sal verwelkom word, maar ook studiebeurse vir dosente wat wil voortgaan met hulle nagraadse studies (ds Afonso Campos en ds Cristovão Bambi het reeds skrywes in die verband gerig). NetACT se uitvoerende bestuur beveel ook die teologiese skool in Dondi aan vir voorgraadse studie en ISTEL in Lubango vir na-graadse studie. Dit sou egter die moeite loon om die kurrikula van ander teologiese skole in Angola te bestudeer – alhoewel ons navorsing nie baie betroubare opleidingsinstansies kon opspoor wat teologie aanbied en by die staat geakkrediteer is nie. Wat wel die oog gevang het, is die bekende Katolieke Universiteit van Angola en die Metodiste Universiteit van Angola waar mens kan aanklop vir hulp. Daar is 14 privaat universiteite in die land, maar nie een met ‘n departement teologie nie.
Die voorheen Marxisties-Leninistiese regering het tot onlangs nie teologie as ‘n wetenskap erken nie. Alhoewel daar volgens Angola se konstitusie nou vryheid van godsdiens is, maak die staat dit steeds moeilik vir kerke om amptelik te registreer ; dit geld ook vir hul teologiese skole. So moet ‘n kerk byvoorbeeld 60 000 lidmate hê met ten minste 1 000 lidmate in elk van die 18 provinsies om in aanmerking te kom vir registrasie. Tussen 2018 – 2019 is daar, volgens my bronne, 2 308 plekke van aanbidding gesluit.
BLY DROOM …
Uiteindelik gaan dit oor die Koninkryk van God en dié se uitbreiding in hierdie merkwaardige land waar tot 80% van die bevolking aan een of ander Christelike kerk behoort (41% Rooms-Katoliek en 38% Protestant). Die regte verstaan en uitleef van die Skrif kan tot groot vooruitgang in ʼn land lei. Daar is egter bekommernis oor die uitbreiding van die Prosperity Gospel, veral soos verkondig deur die Igreja Universal do Reino de Deus (Universele Kerk van God) vanuit Brasilië. Die snelle groei van die sinkritistiese onafhanklike Afrika-kerke in Angola, soos die Kimbanguiste kerk (met hul oorsprong in die Demokratiese Republiek van die Kongo) en die inheemse Tokoiste geloof voorspel niks goeds vir die land se toekoms nie.
IERA se opleiding en kurrikula is gereformeerd. IERA prioretiseer tans vinnige leraarsopleiding vir sowat 500 lidmate. Die rede? Omtrent 80% van die huidige leraars staan op die punt om te emeriteer!
IERA droom steeds groot en daarom die beroep op die ekumeniese Familie van Gerefomeerde Kerke om saam te droom en te bly bid en te bly gee en te bly skouer aan die wiel sit tot eer en verheerliking van onse Here Jesus, die Koning ook van die IERA-kerk en sy teologiese opleiding.
—————————————–
1 Van der Walt, Gideon & Odendaal, Mariëtte Odendaal, 2022. A family of Reformed Chruches in Africa. Remarkable stories of God’s grace. Wellington: CLF Publishers.
——————————————-
Artikel deur Kruger du Preez
NetACT: kurrikulumkonsultant in Angola en Mosambiek
