Saam met die Hefsiba-personeel van Milange: agter derde van links staan dr Manasse Matiquele (direkteur van Hefsiba), tweede van regs staan Jaco Botha en heel regs dr Daniël de Wet.

 

“Om tyd te spandeer met mense is belangriker as ʼn agenda, verslae en uitkomste. Om by mekaar te wees is die uitkoms.”

Jaco Botha

_____________________________________________

 

Verhoudingsbou en -instandhouding is, soos ons almal weet die ‘gom’ van enige sinvolle verhouding. Soveel te meer is dit nodig vir ons as Christene om hierdie waardevolle verhoudings met ons susterkerke in Afrika sterk te hou. Getuienisaksie se Taakspan Afrika Ekumene fokus baie spesifiek daarop en daarom was Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Afrika Ekumene, onlangs op besoek aan ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) Tumbine Sinode. Ds Jaco Botha, voorsitter van dié taakspan, was saam met hom.

Jaco reflekteer oor sy ervaring van Hefsiba, die Instituut vir Christelike Hoër Onderwys met universiteitstatus: “So twee maande gelede het dr Daniel de Wet my genooi om saam met hom na Mosambiek te gaan as deel van die werksaamhede van die Taakspan Afrika Ekumene. Ek was al baie daar. Dis die land waarheen ek die meeste al gereis het; gewoonlik so 100km noordwes van Chimoio waar ek deur uitreike geleer het dat ek nie baie vir daardie mense kan leer oor die Here nie. Dis mense wat gasvryheid, medemenslikheid, vrygewigheid en genade beter uitleef as ek.

“Dié keer was daar egter ʼn ander doel en dit was om tyd saam met die personeel van Hefsiba, die universiteit wat ons susterkerk daar begin het, te spandeer. Soos altyd was my verwagtinge dat ons in organisatoriese, logistieke en finansiële probleme gaan vasloop.

Die perseel van die nuwe Hefsiba-kampus in Mocuba wat ontwikkel gaan word sodat die universiteit nie meer fasiliteite hoef te huur nie, maar hulle eie kan besit.

 

“Die belangrikste les wat Afrika my oor die jare geleer het, is om op te daag. Teenwoordigheid in persoon is om lief te hê. Om tyd te spandeer met mense is belangriker as ʼn agenda, verslae en uitkomste. Om by mekaar te wees is die uitkoms. Daarom het ek myself voorberei om nie met oplossings te gaan nie, maar met my aandag en teenwoordigheid. Dit het my gehelp om ʼn ander perspektief te kry op die werk en drome van die instansie en die gelowiges wat daarvoor geroep is.

“Mosambiek is ʼn gebroke land. Van 1964 tot 1992 was die mense daar vasgevang in oorlog. Eers vir hulle onafhanklikheid en toe ʼn lang burgeroorlog; 28 jaar van geweld. Die gevolg daarvan is generasioneel van aard. Ons land se gemiddelde ouderdom is so 28 jaar; Mosambiek s’n is 17. Dit beteken daar is nie ervaring nie. Ek het op ons besoek net twee mense van aftree-ouderdom gesien. Die roeping van die kerk, die werk van die Here en die instandhouding van die gemeenskap word gedra deur jongmense. Dit is merkwaardige, gedrewe en sagte mense wat met min hulpbronne en ervaring dit regkry om nuwe lewe in ʼn gebroke land te laat groei. Oral is daar iets besig om te gebeur. Gemeentes word geplant, skole word gebou, die universiteit groei mooi en dit lyk nie of die tekort aan hulpbronne die roeping van die gelowiges daar seermaak nie.

“Op die sendingstasie in Milange is daar ʼn kleuterskool en ʼn laerskool wat die gemeente en met behulp van die NG Kerk gebou is. Die jongste projek is die aanbou van ʼn nuwe fasiliteit wat lesinglokale vir Hefsiba aanbou. Die geld is min so die bakstene word op ʼn baie kreatiewe en moderne manier self gemaak en soos wat die geld inkom, word daar gebou. Dis  samewerking tussen gelowiges wat soekend is na God se toekoms vir die kerk.

Bakstene op die Milange-sendingstasie wat gebruik gaan word vir die aanbou van lokale vir die universiteit, Hefsiba. Die bakstene word op die perseel self gemaak deur sement en riviersand te meng en die bakstene in water te laat hard word.

 

“Natuurlik is daar ook probleme. Daar is, soos oral in die wêreld, te min geld, politiek, magstryde en foute. Maar dit kom voor of die dringendheid van die roeping waarmee die gelowiges daar worstel swaarder weeg as die behoefte om reg te wees. In my tyd daar was ek diep bewus van ʼn gemeenskap wat nie in gemak rus en wag vir hulp nie. Dit was eerder ʼn gemeenskap wat baklei om ʼn droom te realiseer wat hulle op ʼn diep manier glo deur die Here vir hulle gegee is.

“Dalk is dit hoekom ons betrokkenheid by Hefsiba en die kerk in Mosambiek so belangrik is. Nie om vir hulle te help met hulle roeping nie, maar sodat ons gehelp kan word om ons eie roeping te herontdek en te koester.”

Dr Manasse Matiquele verduidelik die kursusse wat aangebied word by Hefsiba se Mocuba-kampus.

 

Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.