Ds Cassolo (heel regs) en sy gesin ontvang ‘n paar hoenders as geskenk van die span van Worcester-Vallei omdat hulle op hul werf kon bly.
“Vandat ons die Maandag by Songo aangekom het met almal se opgewondenheid en hulle wat ons inwag met verwelkomingsplakkate, soos ‘WELCOME SISTERS AND BROTHERS’, wat spesiaal vir ons gedruk is, tot ons die volgende Dinsdagoggend daar weg, is kon ‘n mens net die Here se teenwoordigheid ervaar en beleef. Ten spyte van ons verskillende tale en agtergronde was daar ‘n konneksie tussen ons almal – ‘n mens het eensgesinsheid en liefde ervaar,” sê Jacqueline Joubert, een van die groepie lidmate van die NG Kerk Worcester-Valleispan wat in Junie vanjaar weer die pad noorde toe gevat het om die Songo-gemeente van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), in Noordwes-Mosambiek te gaan besoek.

Elné Joubert, nog een van die spanlede, vertel: “Wat vir my uit gestaan het, was die atmosfeer op die kerkgronde; die atmosfeer tussen ons, ds Cassolo en sy gesin, die werkers wat gebou het, die vroue wat kos gemaak het en die kinders wat heeldag daar rondgespeel het. Daar was ‘n gevoel van vreugde, opgewondenheid en liefde. Dit was vir my lekker om aan die einde van die uitreik en Sondag in die kerk te sien hoe baie ons teenwoordigheid daar vir hulle beteken het.”

Die Worcester-Valleispan en gemeentelede van IRM Songo.
Hierdie verbintenis met Songo-gemeente kom van ver af, maar dit het eers met hul betrokkenheid by Vila Ulónguè waar die sinodale kantoor van die Mphatso Sinode is, begin. Marié-Louise du Preez, vanaf die eerste uitreike daarheen al betrokke en die persoon wat die kommunikasie tussen Worcester-Vallei en Mosambiek lewendig hou, vertel meer.
“Ja, ons Ring van Worcester kom al ’n lang pad saam met die IRM. In 1992 het die Ring van Tulbagh die kerk op Vila Ulónguè gaan bou. Daarna het die Ring van Tulbagh en Getuienisaksie van die Wes-Kaap die Ring van Worcester, onder leiding van ds Hans Roux (NG Kerk Worcester Moedergemeente) gevra of ons kans sien om die volgende jaar die pastorie op Vila Ulónguè te gaan bou.
“Ds Roux het die uitreik na Vila Ulónguè in die Ring van Worcester gereël en die volgende jaar, in 1993, het die span vertrek. Al die gemeentes van Worcester, op een na, en Laingsburg was betrokke. Daar was ook lidmate van ander dorpe wat saamgegaan het. In daardie jaar is daar toe ’n pastorie vir ds Willie Gouws en sy gesin gebou; dit is as Vila Worcester gedoop! Die laaste gedeelte van die kerk se dak waarby die Ring van Tulbagh nie die vorige jaar kon uitkom nie, is in daardie tyd ook voltooi.”
Hierdie verbintenis het toe verder uitgebrei na die Songo-gemeente naby die Cahora Bassa-dam. Dr Johan Blomerus, ouderling van die NG Kerk Worcester-Vallei, vertel hoe dit gebeur het.
“In 1994 is die Ring van Worcester versoek om betrokke te raak by die Tête-gemeente en op kinderbediening te fokus. Die span is in Portugees, Jesu se Bom (Jesus is goed), genoem en die laaste besoek daar was in 2008.
“Daarna is die Ring van Worcester deur die IRM en Getuienisaksie versoek om in vennootskap met die IRM Songo-gemeente te gaan met die oog op toekomstige ondersteuning. Die NG Kerk Worcester-Vallei het toe onderneem om die salaris van die dinamiese ds Samuel Cassolo vanaf 2010 te dra.
“In daardie jaar het daar toe ’n groot groep na Songo uitgereik met ‘n groep wat op kinderbediening sou fokus en dan was daar ook ‘n klein bouspannetjie.
“Op daardie stadium was die kerk in die meer informele woongebied van Songo geleë en was die eiendom van ’n derde party. Ds Cassolo se visie was ‘To establish a church in Songo which appeals to the higher socio-economic residents as well. In that way, the mother church can support the outlying rural prayer houses and can really make a difference in people’s lives and the Kingdom of God.’”

Die dak van die kerkgebou wat die Worcester-Valleispan en vrywillige Songo-gemeentelede in dié tyd opgesit het.
En van daar af het die wiele begin rol. Johan vertel meer.
“In 2012 het die Jesu se Bom-span met goedgekeurde planne die pastorie gaan bou en ook elektrisiteit geïnstalleer. Die gemeente het toe self solank ’n tydelike kerk en ablusiegebou gebou.
“Finansiële uitdagings het die Ring van Worcester genoop om ’n boufonds in die lewe te roep en eerder geld soontoe te stuur in plaas daarvan om ‘n groot span uit te stuur wat uit die aard van die saak baie duur is.
“In 2020 sou daar weer ’n groot span uitgaan bestaande uit ’n kinderbedieningspan en bouspan wat met die bou van die kerk sou begin, maar die pandemie het dit ongelukkig in die wiele gery. Intussen is geld na die gemeente gestuur en daarmee het die gemeente die kerk tot op dakhoogte gebou.
“Vanjaar kon ons uiteindelik weer planne maak om na Songo te gaan, en diegene wat wou saamgaan, moes vervoer na Songo verskaf en befonds. Met die boufonds is dakmateriaal gekoop en die Songo-gemeente het as vrywilligers help bou.
“Een van Songo-gemeente se groot versoeke was om die Jesus-film saam te bring. Gelukkig kon ons met ’n luidspreker en data-projektor (wat met batterye vanaf ‘n ‘memory stick’ of selfoon werk) aan ds Cassolo en die sekretaris, Francis Militão, verskaf. Daarmee kan die meer as twee uur-lange Jesus-film dan gewys word. Ds Cassolo is die alleen-eienaar daarvan en die toerusting bly die eiendom van die NG Kerk Worcester-Vallei. Hierdie is net ’n toetslopie en ds Cassolo sal deurlopend verslag lewer oor hoe die projek verloop.”

Dr Johan Blomerus en ds Cassolo besig om oor die Jesus-film-toerusting te gesels.
So ‘n uitreik versterk natuurlik die onderlinge verhoudinge tussen ons susterskerk baie. Johan vertel:
“Ja, beslis! Toe ons by die ingang van Songo aangekom het, het ds Cassolo ons al ingewag. By die kerkgronde is ons hartlik deur die gemeente met dans en sang ontvang.
“Die span het bestaan uit my en my vrou, Rina, van die Worcester-Valleigemeente en die Joubert-familie van die NG Kerk Murraygemeente in De Doorns. Gerhard Joubert was die boumeester, sy seun Gabri was die assistent, sy vrou, Jaqueline en dogter, Elné, het poppekas- en lapverfopleiding gedoen. Rina het gefokus op die Sondagskoolonderwysersopleiding en poppekas.
“Ons span het op die kerkgronde langs die pastorie in die tydelike kerkie gekamp wat in 2012 deur die Jesus e Bom-span gebou is. Die gemeente het dit vir ons so gerieflik as moontlik gemaak en uit hul pad gegaan deur selfs van hul eie fasiliteite aan ons beskikbaar te stel.
“Danksy die staal en dakplate wat alreeds die vorige week deur die logistieke maatskappy van Johan Joubert afgelaai is, kon ons dadelik met ons dakwerk begin.
“Op Dinsdag 26 Junie het alles in rat geskop. Met die gebedsgroep, daaglikse dagstukkie, vriendelike en hulpvaardige ds Cassolo en sy 15 vrywillige gemeentelede, kon ons die teenwoordigheid van God op hierdie heugelike dag ervaar.
“In hierdie tyd is die dak opgesit, die konsistorievloer gelê, die verhoog en trappe gebou, asook die kateder, kanselkleed en swartbord opgesit.
“Die kinderbedieningspan met Rina het gefokus op die opleiding van Sondagskoolonderwysers. Dit het drie dae geduur. Twee dae is afgestaan aan Songo en een dag aan Chitima. Elke onderwyser het skryfbehoeftes en ’n Bybel ontvang.
“Die opleiding was geskool op hoe om die wonderlike stories in die Bybel effektief te gebruik. Daar is gekyk na die behoeftes van kinders, hoe om hulle te betrek en terugvoer te kry. Verder het dit gegaan oor hoe om stories op kreatiewe maniere aan te bied. Woorde soos fear God moet byvoorbeeld eerder vervang word met God of love, ensovoorts.
“Voorbeelde van stories is gedemonstreer. Elke onderwyser moes dan ’n storie gaan voorberei en aan die groep kom vertel. Daarna kon die groep terugvoer en raad gee. Die resultate was baie positief. Daar was ook poppekas- en lapverf-opleiding.
“Bybels is aan die bouspan, die Sondagskoolonderwysers en die Chitema-vrouegroep oorhandig. Die res is aan ds Cassolo oorhandig om na goeddunke te versprei.
“Dis met ’n dankbare en warm hart wat ek daar weg is. Die Songo-ervaring was ’n lewende voorbeeld van praktiese geloof in aksie van alle partye …”
Kontak dr Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.

Die Worcester-Valleispan die Saterdagaand in Songo. V.l.n.r.: Johan Blomerus, Gabri Joubert, Rina Blomerus, Jacqueline en Gerhard Joubert en heel voor Elné Joubert.
