Die RFF-konferensiegangers van 2022 in Johannesburg verlede jaar.
Vanaf 29 Julie tot 4 Augustus was Daniël de Wet, (PSD Getuienisaksie Afrika Ekumene) en Nico Mostert (PSD Vennote in Getuienis NG Kerk Vrystaat) op besoek aan ons susterskerke in Zambië, Malawi en Mosambiek.
Wat hierdie besoek egter so besonders gemaak het, was dat hulle vergesel was van hul onderskeie sinodes se moderators, Marinus Theron (Kaapkerk) en Jan Lubbe (NG Kerk Vrystaat). Vir beide van die moderators was dit hul eerste besoek aan ons susterskerke in dié lande; ons vertel meer daarvan in die volgende weke. Van Kaapkerk se kant was Pieter van der Walt (PSD Teologiese navorsing) en Marnus Havenga (PSD Kerklike opleiding) ook deel van die groep en vanaf die Vrystaat was dit Leon Foot (skriba van die sinode) en Juppi Steurer van Vennote in Getuienis.
Een van die besprekingspunte tydens hul kort besoek, was die Reformed Family Forum (RFF) se jaarlikse konferensie wat vanjaar vanaf 23 tot 26 Oktober by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellingon gaan plaasvind. Almal is baie opgewonde oor die komende vergadering.
Nico Mostert vertel: “Op ons agenda is van die belangrikste punte die bestuur van die verskillende institute of instellings van ons susterskerke. ‘n Konsultant, TK Ilesanmi, sal tydens die konferensie insit om hieroor te help dink. Hy is ‘n Nigeriër wat in Malawi gebly het en tans in Suid-Afrika woon; iemand met kredietwaardige blootstelling en kundigheid.
“Daar sal ook gekyk moet word na ekologie. Klimaatsverandering het ‘n groot impak op baie van dié lande, hul gemeenskappe en noodwendig ook op ons susterskerke. Die impak van natuurrampe het veral ‘n groot effek, soos byvoorbeeld die verwoestende gevolge van die onlangse oorstromings in Mosambiek en Malawi.
“Ons sal ook moet gesels oor teologiese opleiding. Hoe lyk teologiese opleiding vir die toekoms? Die aanmelding van studente wat teologie wil studeer en as predikante opgelei wil word, is nie meer so flink nie; iets wat ‘n nuwe uitdaging vir die kerk is. Ons sal dringend aandag daaraan ook moet gee.”
Hierdie RFF-konferensies versterk nie net ons kollektiewe geheue as kerkfamilie nie, dit bied ook ‘n waardevolle platform waar ons elke jaar ons uitdagings en suksesverhale met mekaar kan deel. Ons susterkerke in Swaziland, Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Mosambiek, Kenia en Nigerië het sedert die 19de eeu ontwikkel en gegroei, danksy die missionale dryfkrag van sendelinge vanuit die NG Kerk. Hierdie kerke, saam met die NG Kerk, VGKSA, RCA, LECSA (in Lesotho) en EIRA (in Angola) vorm almal deel van die RFF en verteenwoordig meer as 8 miljoen gelowiges in Afrika.
Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.