Bestanddele:

1 pak (500g) rooi lensies
3 lourierblare
2 huisies knoffel
halwe teelepel gedroogte tiemie
1 groot ui
2 selderystingels
1 groot wortel
1 middelslag aartappel
1 middelslag tamatie
1 groenteblokkie
2 teelepels sout, of meer, na smaak
swartpeper

 

Metode:

Kook die lensies in  ‘n groot pot in 2l (8 koppies) water saam met die lourierblare, knoffel en tiemie totdat dit fyn is. Dit neem nie baie lank nie, so 45 minute. Voeg die fyngesnyde ui en seldery by en hou aan kook tot die ui deurskynend is. Maak intussen die aartappel, wortel en tamatie in ‘n aparte klein kastolletjie gaar in ‘n bietjie soutwater, laat effe afkoel en maak dit fyn – ek gebruik ‘n ‘blender’ daarvoor. Roer nou hierdie puree by die sop in die kastrol, voeg die smaakmiddels by en kook vir nog vyf minute. Oppas vir aanbrand, die mengsel is nou lekker dik en gaan sit maklik onder vas!

Proe vir geur en voeg nog sout en/of peper by na smaak. Roer ook water by indien dit te dik is.

Die sop is eintlik nou klaar, maar die geur verbeter as jy dit afhaal van die hitte en vir ‘n paar uur laat staan. Warm dan soveel op soos nodig vir jou maaltyd. Hierdie resep maak 10 tot 12 porsies sop. Dit vries goed.

Verified by ExactMetrics