Gert Moelich

 

Gert Moelich, wat vir ‘n paar jaar finansiële raadgewer van ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, was, is op Dinsdag 22 Augustus rustig in sy slaap oorlede.

Gert en sy vrou, Marlene, was vanaf 1998 tot 2002 op Nkhoma Sendingstasie woonagtig. Dr Hennie van Deventer wat in daardie tyd verbonde was aan die JMTI (Josophat Mwale Teologiese Instituut), onthou Gert as volg: “In die vier jaar wat hulle daar gebly het, het hulle in ons almal se harte gekruip en werklik deel geword van die Malawi-sendingfamilie.

“Gert het op sy stil, standvastige manier almal se respek afgedwing. Hy het Malawi toe gegaan as finansiële raadgewer vir die Nkhoma-sinode, en alhoewel hy nie altyd die nodige samewerking gekry het nie, het almal geweet hulle behoort Gert se advies ernstig op te neem.

“Hy was ‘n soliede rekenkundige – ‘n eerlike en beginselvaste man van sy woord; ‘n Israeliet sonder bedrog. Sy lewe was stewig op die Rots, Jesus Christus gebou. Sy geloof was die bron van sy besondere werksetiek.

“Maar Gert was nie net ‘n sommetjiesmens nie. Dit was lekker om hom te sien ontspan op Nkhoma se jukskeibaan. Van die sendingkinders onthou hom ook as die oom wat met opregte belangstelling aan hulle aandag gegee het.

“Ons kan maar net getuig dat Gert die soort mens was wat met sy hele lewe – met woorde én dade – in sy omgang met mense en  sy gesindheid teenoor almal, die Here se Naam eer aangedoen het. Hy was ‘n getroue medewerker in God se Koninkryk.”

Gert se lewe word gevier op Donderdag 31 Augustus om 14:00 by Serenitas in die Strand.

Marlene en Gert tydens ‘n Waarderingstee-onthaal vir oud-sendelinge in 2018.