Kuzipa Nalwamba
My ontmoeting met Kuzipa Nalwamba het my bekend gestel aan die geskenk wat Afrika-spiritualiteit is vir teologie in die algemeen en vir ekoteologie in die besonder.
Kuzipa Nalwamba is in Zambië gebore en ‘n geordende predikant van die United Church of Zambia (UCZ). Sy het ‘n doktorsgraad in ekoteologie behaal aan die Universiteit van Pretoria. Op die oomblik is sy dosent aan die Bossey Ecumenical Institute by die Universiteit van Geneve, Switzerland en ook die programdirekteur vir die afdeling Unity and Mission van die Wêreldraad van Kerke (WRK).[1]
Uit Nalwamba se teologie leer ons iets van Afrika se spiritualiteit ken [2].
Nalwamba staan op die skouers van vele ander Afrikane wat voor haar oor die besondere van Afrika se filosofiese denke en spiritualiteit geskryf het. Uit haar werk kan die volgende aangeteken word as Afrika se kyk na en verstaan van die wêreld waarin die mens woon:
- Die gedagte van ubu-ntu is die fondasie-begrip vir hoe Afrikane suid van die Sahara oor die werklikheid dink. Die definisie van ubu-ntu, wat sy by Mogobe Bernard Ramose gekry het, is die volgende: “a whole-ness and constant flow of be-ing”.[3] Ntu (‘n woord uit die Nguni-tale wat met “lewegewende krag” vertaal kan word) vloei deur die ganse skepping en omsluit alle organiese en nie-organiese vorme van lewe. Die lewegewende krag (Engels: vital force) vul alles en verbind alles tot ‘n eenheid. Hierdie eenheid-van-lewe-in-gemeenskap beklemtoon dat alles in die skepping verwant is en deel het aan mekaar se bestaan. Nalwamba haal die teoloog van Ghana, Emmanuel Asante, aan wat sê: Reality is inseparable. The African is kin to all creatures … The whole of nature must be understood as sacred because it derives its being from the Supreme Being who is the Creator-Animator of the Universe. Sy verwys ook na Harvery Sindima van Malawi wat die begrip “community of life” soos volg verduidelik: Afrika se idee van gemeenskap (community) verwys na die verbondenheid van alles. Dit is die deel hê aan en lewe in die een gemeenskaplike gawe van die lewe wat dit vir mense moontlik maak om met mekaar in gemeenskap te leef en te kan kommunikeer. En dit is ook hierdie één gemeenskaplike deelname aan die één gemeenskaplike lewe wat maak dat ander mense se stories en ervarings ook my eie word. Alles in die skepping het een oorsprong, sê Gabriel M Setiloane [1922 – 2004] (‘n boorling van Kroonstad en bekende Metodiste teoloog). Sy haal hom soos volg aan: “[T]he term community is inclusive of all life (bios): animals, the habitat [the land], flora, and even the elements. The success of life is found in the ability to maintain a healthy relationship with all.” Nalwamba vind ook aansluiting by Sally McFague se gedagte dat “the world lives within God” en dat die wêreld en God nie twee aparte werklikhede is wat afsonderlik van mekaar bestaan nie. “Rather, the world is ‘charged’ with God as with electricity”, sê McFague.
Nalwamba kom tot die volgende konklusie: Vanuit ‘n Afrika-perspektief moet ons sê dat die Skepper, wie se lewegewende krag (vital force, ntu) aan alles in die skepping lewe gee, vir die mens in ‘n wesensverhouding met die res van die skepping geplaas het. Hierdie verstaan van die skepping stem ooreen met die siening van die Christelike teologie dat God se Gees alles in die skepping deurtrek en tot gemeensaamheid (participation) roep. Die waardering vir lewe wat uit só ‘n siening groei, is so wesenlik deel van die Afrika-manier van lewe dat ons dit kan neem as fondasie vir ‘n ekologiese etos. Daarom kan dit ook dien as begronding vir ‘n etiek van verantwoordelikheid in ons versorging van die aarde, omdat alles verwant en interafhanklik is. Elke soort en vorm van lewe is vir hul welsyn afhanklik van die gesondheid van die hele gemeenskap. Mense is diep bewus hiervan, omdat hulle weet dat hulle ander vorme van lewe baie meer nodig het om te oorleef as wat ander hulle nodig het. Miskien, sê sy, kan ons met hierdie Afrika-perspektief die idee van die kosmiese Gees as krag van God wat lewe gee weer ontdek.
- Vanuit hierdie ubu-ntu Afrika-perspektief maak Nalwamba haar eie bydrae tot ekoteologie. Sy fokus op die Bybelse gedagte van koinonia (gemeenskap/fellowship) en verstaan dit as ‘n term wat volledig inklusief is. Vanweë die geweldige ekologiese uitdagings en gevare wat dit inhou vir die kollektiewe gemeenskap op aarde behoort ons nuut te dink oor ons verstaan van koinonia. Hier is haar eie verstaan: “Koinonia understood from an ecological perspective enriches our perception of cosmic relatedness. As a hermeneutical tool it unlocks and undergirds a renewed vision of the universe as a cosmic community. In this interrelated and interconnected universe of which humans are only a part, everything that is relates. It centres relationship and contributes to earth care discourse.” Sy begrond hierdie gedagte teologies soos volg: “Though Greek in origin, koinonia is biblical in its religious usage. It is rooted in the Jewish experience of covenant, which underpins the understanding of ecclesial relationships and social ethics. In that view, the church is understood as the global human fellowship in relationship with the triune God. Koinonia is therefore foundational to the identity and nature of the Church. The perichoretic nature of the triune God[4], which is inherently relational, undergirds the understanding of relationships. From that standpoint, interdependency and interrelatedness are at the core of the church’s being and self-understanding as participation of Christians in the Spirit of Christ. Thus, the Trinity is the prototype of Christian community. Koinonia is, theologically speaking, the equivalent of the mutuality that exists in the Godhead. This orientates interdependence and belonging in the Christian community…”
Sy bring dan teologie en ekologie soos volg bymekaar: “If relationships matter, then the common good is what determines where the church directs its service. A global emergency like climate change should signal the direction of service to address the common ill that threatens all of life. When it is cast in relational terms, it is more than an overstated ‘crisis’ story intended to scare. The common life is under threat and the whole people of God is summoned to service. The values of sharing and participation define what church is (ecclesiology) and what the church does (ethics).
The church as God’s alternative community must therefore respond to the ethical challenge of ecological destruction from its standpoint as a koinonia working towards the common good and a theological orientation where, as David Bosch notes, ‘new relationships take shape, (and) the Church automatically becomes a challenge to society’.”
Hoe sal Psalm 133 lyk as ons dit met hierdie Afrika-gees lees? Miskien só?:
Hoe goed, hoe mooi is dit
as alles wat deur God se Gees verwant is
in eenheid saam woon!
Dié eensgesindheid is soos die kosbare olie van salwing
wat al druppend alles welriekend maak.
Dit is soos doudruppels wat op die berg val
en stroompies water maak –
wat lewe gee oral waar dit loop.
Waar alles wat in God se Gees verwant is só saam woon,
skenk die Here sy seën:
‘n lang, lang lewe.
david p botha
[1] Sy was een van die medewerkers aan die heruitgawe van Ernst Conradie en David Field se boek, A Rainbow over the land, Equiping Christians to be Earthkeepers; uitgegee in 2016 deur Biblecor, Wellington.
[2] Wat ek hier met julle deel kom uit die volgende drie bronne.
- ‘n Artikel wat handel oor haar doktorale tesis, wat sy geskryf het saam met haar promotor prof Johan Buitendag, met die titel: ‘Vital force as a triangulated concept of nature and s(S)pirit’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(3), 4506. https://doi.org/ 10.4102/hts.v73i3.4506 en wat in 2017 verskyn het.
- ‘n Bydrae wat sy saam met Teddy Chalwe Sakupapa geskryf het vir die publikasie The Church in God’s Household: Protestant Perspectives on Ecclesiology and Ecology waarvan Clive W Ayre en Ernst M Conradie die redakteurs was en in 2016 deur Cluster Publications uitgegee is.
- ‘n Respons-bydrae wat sy gemaak het in T&T Clark Handbook of Christian Theology and Climate Change, met as redakteurs Ernst M Conradie en Hilda P Koster en uitgegee in 2020 deur T&T Clark. Die titel van haar bydrae is: Koinonia: The universe as cosmic communion.
[3]Ramose het self die begrip ubuntu verstaan as ‘n verwysing na “menslikheid”. ‘n Menslike mens verstaan dat sy/haar bestaan alleen moontlik is danksy en ter wille van die bestaan van ander. Vir ‘n filosofiese bespreking van ubuntu kan die artikel van Fainos Mangena van die Universiteit van Zimbabwe by die volgende skakel gelees word: https://iep.utm.edu/hunhu-ubuntu-southern-african-thought/. Hy verwys ook hierin na die rol wat Biskop Desmond Tutu gespeel het in die bevordering van ubuntu in Suid-Afrika.
[4]Perichoresis is ‘n term in die teologie wat die verhouding in die Drie-Eenheid tussen Vader, Seun en Heilige Gees beskryf as ‘n wesenseenheid. Die Vader en die Seun en die Heilige Gees is onlosmaaklik in hul wese een.