Ons aanbid saam met die RCZ Northmead-gemeente in Lusaka, Zambië

 

Vanaf 29 Julie tot 4 Augustus was Daniël de Wet, (PSD Getuienisaksie Afrika Ekumene) en Nico Mostert (PSD Vennote in Getuienis NG Kerk Vrystaat) tesame met enkele van hul sinodale leiers op besoek aan ons susterskerke in Zambië, Malawi en Mosambiek.

Wat hierdie besoek egter so besonders gemaak het, was dat hulle vergesel was van hul onderskeie sinodes se moderators, Marinus Theron (Kaapkerk) en Jan Lubbe (NG Kerk Vrystaat). Vir Marinus was dit sy eerste besoek aan ons susterskerke in dié lande. Van Kaapkerk se kant was Pieter van der Walt (PSD Teologiese navorsing) en Marnus Havenga (PSD Kerklike opleiding) ook deel van die groep en vanaf die Vrystaat was dit Leon Foot (skriba van die sinode) en Juppi Steurer van Vennote in Getuienis.

Die getuienisse van hul besoek aan onder andere ons susterskerk in Zambië, die Reformed Church in Zambia (RCZ) illustreer die verbindende krag van geloof en hoe God se verhaal universeel is.

Een van die kerngetuienisse van hierdie besoek was die besef dat die NG Kerk deel is van ‘n groter Gereformeerde familie. Soos Marinus Theron dit stel: “Ons het weer diep bewus daarvan geraak dat ons lidmate in Suid-Afrika nie net deel is van individuele gemeentes nie, maar ook saam deel is van die groter roepingsverhaal van God in die Suidpunt van Afrika.”

Saam met die kerkleiers van die RCZ Northmead-gemeente in Lusaka

Die besoek aan die Northmead-gemeente in Zambië het spesifiek ‘n indruk gelaat. Marnus Havenga vertel dat hy ‘n oorweldigende gevoel van gemeenskap tydens die erediens daar ervaar het. “‘n Mens is regtig getref deur die stampvol kerk van mense in verskillende lewensfases: van klein kindertjies tot jong volwassenes tot bejaardes. Almal aanbid saam. Almal is deel van die liturgie. Almal sit vorentoe met gespitse ore om saam die Woord van God te ontvang. En ek het hoendervleis gekry toe die Onse Vader en die Apostoliese Geloofsbelydenis in verskeie tale saamgebid is. “Hierdie gees van gemeenskap en betrokkenheid beklemtoom hoe geloof ‘n kragtige bindmiddel is wat mense van alle ouderdomme en agtergronde verenig.”

‘n Opvallende aspek van die gelowiges in Zambië is hul omskrywing van hulself as “flourishing in Christ” – ‘n uitdrukking van die groei en verryking wat geloof in Christus in hulle lewens bring. Hierdie begrip beliggaam die manier waarop die Zambiese gelowiges hul kerk en gemeenskap beskou – as ‘n groeiende en bloeiende entiteit wat geroep is om die liefde en boodskap van Christus te versprei.

Die ingang na die Justo Mwale Universiteit in Lusaka

‘n Verdere hoogtepunt was die besoek aan Justo Mwale Universiteit, waar gesprekke met kerkleiers en teologiese personeel plaasgevind het. Hierdie uitruil van idees en geloofsinsigte het die groep se bewustheid van die globale aard van die kerk verdiep en hulle het ‘n nuwe waardering gekry vir die diversiteit en diepte van die geloof in die Zambiese konteks. “Dit was ‘n onvergeetlike voorreg om saam met kollegas by dié universiteit in Lusaka tuis te gaan en saam te dink en te droom oor die toekoms van die kerk,” vertel Pieter van der Walt.

Hierdie gedeelde ervarings herinner ons daaraan dat die liefde vir Christus die potensiaal het om mense van alle agtergronde en kulture saam te bring in ‘n gemeenskap van geloof en aanbidding.